SKRIFLESING: 1 Samuel 16: 1 – 13
Wanneer ons na leiers soek, is ons geneig om na uiterlike kwaliteite te kyk. Voorkoms, intelligensie, agtergrond, rykdom, kwalifikasies, gewildheid, prestasies en vele ander uiterlike dinge speel ‘n rol as ons leiers kies. Dit is dalk die rede hoekom ons land oor die algemeen sulke swak leiers het. Ons leiers vertoon uiterlik goed, maar innerlik is hulle nie eg en betroubaar nie. Daarom is ons land vasgeval in staatskaping, korrupsie en morele verval.
As die Here na leiers soek, kyk Hy na innerlike opregtheid van die hart. Die Here soek nie noodwendig volmaakte, sondelose mense nie, maar vir Hom is opregtheid van groot belang.
In ons gelese gedeelte lees ons hoedat ‘n nuwe koning gesoek word, om vir Saul op te volg as koning. Saul as eerste koning van Israel het goed begin, maar algaande ‘n swak koning geword. Saul het die swaardmag gehad en Samuel het die Woordmag gehad. Saul was veronderstel om by Samuel navraag te doen oor God se wil, maar hy het eerder die heks van Endor geraadpleeg. Algaande het die Gees van God van Saul gewyk. Ons lees in 1 Samuel 15: 35 dat Samuel getreur het oor Saul en dat God bedroef was dat Hy vir Saul koning oor Sy volk gemaak het.
Dan lees ons hoedat God ‘n nuwe begin maak. Die teks in 1 Samuel 16: 1 lees as volg: “Die Here het vir Samuel gesê: “Hoe lank gaan jy nog treur oor Saul? Dit is Ek wat hom verwerp het as koning oor Israel. Vul jou horing met olie en vertrek. Ek stuur jou na Isai van Betlehem, want tussen sy seuns het Ek vir My ‘n koning gesien.”
Samuel was hoogs ontsteld gewees. Hy het gevrees as Saul daarvan hoor, dat hy hom sou doodmaak. Die Here beveel egter vir Samuel om vers saam te neem en vir die mense te sê, dat hy in vrede kom om ‘n offer te bring. Hy moet dan vir Isai ook nooi na die offer toe.
Samuel het vir Isai en sy seuns gereinig en hulle na die offer genooi. Toe hulle inkom het Samuel vir Eliab gesien en gedink die gesalfde van die Here staan voor hom. Eliab was mooi en sterk gebou met ‘n buitengewone lengte. Hy sou ‘n goeie teenvoeter vir Saul wees. Maar dan sê die Here in vers 7 vir Samuel: “Moenie na sy voorkoms en sy rysige gestalte kyk nie, want Ek het hom afgekeur. Dit gaan immers nie oor wat die mens sien nie, want: “Die mens kyk na wat hy sien, maar die Here kyk na die hart.”
Samuel was as profeet ook ‘n “siener”, maar nou het hy as “siener” verkeerd gesien. Hy het gesien wat die mens se oog opval, en nie wat vir God tel nie. Uitdruklik word daar in die teks genoem: “ Die mens kyk na wat hy sien, maar die Here kyk na die hart.”
Die vader Isai het toe vir Abinadab voor Samuel verby laat gaan en Samuel het gedink die Here het ook nie hierdie een gekies nie. Toe het Samma verby gekom en ook vir hom het die Here nie gekies nie. Nadat Isai sewe van sy seuns voor Samuel laat verby gaan sê Samuel vir Isai dat die Here nie een van dié seuns uitverkies het nie. Toe Samuel vir Isai vra of hy nog seuns het, het hy geantwoord nog een seun, die jongste, maar hy pas skape op. Toe het Samuel opdrag gegee dat hy gehaal moet gaan word. Isai het hom laat haal.

Die jongste seun het rooi gelaatstrekke gehad, mooi oë en ‘n goeie voorkoms. Toe gee die Here opdrag vir Samuel om op te staan en vir hom te salf, want hy is die gesalfde. Die seun se naam was Dawid. Samuel het die horing met die olie gevat en hom voor sy broers gesalf. Dan lees ons van daardie dag af het die Gees van God kragtig in Dawid gewerk.
Die Here het Dawid nie gekies omdat hy volmaak was nie. Inteendeel later in sy lewe sou hy owerspel pleeg met Batseba en haar man Uriah laat vermoor. Maar ten spyte van sy baie tekortkominge het hy ‘n rein en opregte hart gehad. Ons lees van sy opregte hart in die Psalms wat hy gedig het. Lees die aangrypende Psalm 51 waar hy sy skuld teenoor die Here bely en vrees dat die Here se Gees van hom sal wyk. In Ps 51: 12 – 13 staan daar: “ Skep ‘n rein hart vir my, o God, vernuwe ‘n bestendige gees in my binneste. Moet my tog nie wegdryf uit u teenwoordigheid nie; en moet u heilige Gees nie van my wegneem nie.”
Die Here het Dawid se opregte hart raakgesien en hom laat salf as toekomstige koning oor Israel. Opregtheid is vir die Here belangrik. Dawid skryf in Psalm 25: 21 die volgende: “Mag onskuld en opregtheid oor my wag hou, want ek wag op U.”
In 1 Kronieke 29: 17 skryf Dawid die volgende: “Ek weet, my God, dat U harte toets en vreugde vind in opregtheid. Ek, met opregtheid van hart het ek dit alles vrywillig gegee. En nou het ek met vreugde gesien hoe u volk wat hier teenwoordig is, vrywillig vir U gee.”
As ons staatsleiers maar net opreg was, het dit met ons land baie beter gegaan. ‘n Leier, kan baie foute hê, maar as hy of sy opreg is, is die leierskap met integriteit en eerlikheid.
Baie Bybelfigure het hulle foute en tekortkominge gehad. Moses het gehakkel, Petrus het die Here verloën, die dissipels het weggehardloop op die aand voor Goeie Vrydag, Paulus het ‘n doring in die vlees gehad en so kan ‘n mens aangaan. Maar die Here kan met ‘n krom stok ‘n reguit hou slaan. Maar jou hart moet reg wees. Dit moet opreg wees.
Ons almal is leiers op een of ander manier. Ek kan die leier van my huis, of van my onderneming of van my boerdery wees. Ek is dalk ‘n leier op die kerkraad of ‘n boerevereniging. Maar leiers met slegs uitwendige sigbare gawes alleen sal nie deug nie. My hart moet suiwer en onberispelik opreg wees. Dan eers is ek in die Here se oë ‘n regte leier.
Alle leiers speel ‘n rol. Ek speel die rol as vader, moeder, onderwyser, boer, sakeman of wat dit ook al mag wees. Maar ek speel dit nie vir altyd nie. Daarom moet ek vir die tyd wat ek die rol moet speel, my toelê op opregtheid en reinheid van hart. Dan sal ek ‘n goeie leier wees, ten spyte van my foute en tekortkominge.
Ons kyk na die uiterlike vir leierskap. Die Here kyk na die hart van ‘n leier.
(Ds. Paul Odendaal is die leraar van die NG Kerk Adelaide.)