Ek hoor God in die wonde van hierdie wêreld praat.


SKRIFLESING: Luk 24: 36 – 48

Wanneer dit té goed gaan met die mens, kom daar dikwels verwydering tussen mens en God en tussen mense onder mekaar. Dit sien ons maar te gereeld in verhoudinge. Wanneer dit goed gaan op ‘n plattelandse dorp, kan mense dikwels naywerig en jaloers op mekaar raak. ‘n Dorp kan dan “clicks” hê en mense kan onder mekaar skinder.

Maar sodra daar swaarkry en verwondheid kom in iemand se lewe op die dorp, staan die dorp soos een man saam om te help. Dit is dikwels krisisse en siekte wat mense weer bymekaar bring.  Dikwels word gesê, ons kan lekker onder mekaar baklei, maar as daar swaarkry is staan ons bymekaar. Verwondheid bring mense nader aan mekaar. Verwondheid bring mense nader aan God.

Jesus het geloof geskep deur sy verwondheid. Ons lees dat toe Jesus aan die dissipels verskyn het en hulle bang was dat Hy ‘n spook is, het Hy vir hulle sy wonde gewys en hulle het verwondering en blydskap beleef. In Jesus se verwondheid het hulle Hom herken as die gekruisigde. Skielik het alles vir hulle sin gemaak. Nou glo hulle in Sy opstanding.

Daar is ‘n Japanese kunsvorm om gebreekte potteware nie weg te gooi nie, maar om dit te herstel deur die krake met goud te vul en so weer die pot of erdeware stuk te heel. Jy noem die kunsvorm “kintsugi”. Die pot lyk dan mooier en is sterker as voorheen. Met Jesus se eie verwondheid het Hy ons krake kom vul om ons mooier en sterker te maak. Wie toelaat dat Jesus se teenwoordigheid in die krake van sy of haar lewe kom, sal weer heelheid en sterkte beleef.

Wanneer gelowiges hulle verwondheid met mekaar deel, skep dit gemeenskap tussen gelowiges. In die Nagmaal openbaar Jesus Sy gebreekte liggaam en Sy gestorte bloed en Hy kom skep daardeur die gemeenskap van gelowiges. Jesus het sy gebreektheid kom wys. Hy het Sy “menslike natuur”, met al die broosheid wat daarmee saamgaan vir ons kom wys met sy menswording. Om mekaar jou verwondheid te wys, kan maak dat mense nader aan mekaar kom. Mense identifiseer eers met jou, wanneer jy jou swakhede, jou krake, jou menslikheid met hulle deel. Dan deel hulle gewoonlik ook met jou. Henri Nouwen het gesê: “The only feelings that do not heal are the ones you hide.” Maar wanneer jy jou sterkte en prestasies voorhou, skep jy afstand.   

Leonard Cohen het het ‘n pragtige lied gesing wat ‘n wêreld treffer was. Die refrein klink so:

 “Ring the bells that still can ring

Forget your perfect offering

There is a crack, a crack in everything

That’s how the light gets in”

So is niemand van ons se lewe perfek nie. Daar is ‘n kraak in alles. Daar is krake en krakies in elke mens se lewe. Ons is nie daar om mekaar daaroor te oordeel nie. Ons elkeen het wonde en gewondheid. Dit wonder daarvan is egter dat God ons gewondheid wil gebruik, om ander se wonde te heel. Deur ons krake wil God sy lig laat skyn in ons. Om God se lig en liefde te ervaar, moet ons eers die krake in ons eie lewe erken en daaroor eerlik wees.

As jy nie ‘n gekraakte erdepot is nie, kan God se lig nie in jou lewe inskyn nie. Dan sal jy lewe in die donkerte van jou eie bedompige donker siel.

Henry Nouwen, wêreldbekende Rooms Katolieke priester en akademikus het onder andere die bekende boek geskryf: “The wounded healer.” In die boek onderstreep Nouwen dat ons, ons wonde moet gebruik om ander te help om genees te word van hulle wonde. Gedeelde verwondheid, is gedeelde pyn. Wie saam pyn ervaar, ervaar saam ook verligting. Wat gedeel word is ligter.

Hoor wat skryf Nouwen: “Nobody escapes being wounded. We are all wounded people, whether physically, emotionally, mentally, or spiritually. The main question is not, ‘How can we hide our wounds?’ so we don’t have to be embarrassed, but ‘How can we put our woundedness in the service of others?’ When our wounds cease to be a source of shame, and become a source of healing, we have become wounded healers.”

Verder skryf Henri Nouwen: “Compassion asks us to go where it hurts, to enter into the places of pain, to share in brokenness, fear, confusion, and anguish. Compassion challenges us to cry out with those in misery, to mourn with those who are lonely, to weep with those in tears. Compassion requires us to be weak with the weak, vulnerable with the vulnerable, and powerless with the powerless. Compassion means full immersion in the condition of being human.”

Treffend som Henri Nouwen sy boek op met die volgende opmerking: “The main question is not, how can we hide our wounds…but how can we put our woundedness in service to others.”

In Jeremia, lees ons van die pottebakker en die klei. God is die pottebakker en Israel is die klei. Ten spyte daarvan dat Israel dikwels misluk, ineenstort en krake het, gooi God nie die klei weg nie. Hy knie weer die klei en maak ‘n nuwe voorwerp op die pottebakkerswiel. So gooi die Here ons nie weg, wanneer ons misluk nie. Op die pottebakkerswiel vorm hy ons weer tot voorwerpe van Sy genade.

Ons word met ons eie “wonde” die  geloofwaardige getuies van ons verlossing. Soos wat Jesus met sy wonde verlossing gebring het, is ons wonde die getuies van ons eie verlossing. Ons kan ons wonde voorhou as voorbeelde van waaruit God ons verlos en vir ons nuwe skoonheid en krag gee.

Ons wonde word Evangelieverkondiging. Want vanuit ons wonde het God ons gered deur Jesus se wonde om verlostes te wees. Skielik maak ons wonde sin, teen die groter prentjie van verlossing.

Ek hoor God in die wonde van hierdie wêreld praat.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s