Oop deure en vensters voor God en wêreld.


SKRIFLESING: Handelinge 4: 32 – 11

Met Pinkstersondag en die oop graf, het die kerk en gelowiges met oop deure en vensters voor God en wêreld geleef. Dit was iets wat die vroeë kerk in Handelinge baie goed verstaan het.

Hulle het met ‘n openheid, ‘n mildheid en ‘n offergawigheid geleef in die gemeenskap waar hulle as gelowige huiskerke gefunksioneer het. Hulle was soos huise met oop deure en oop vensters, sonder enige gordyne. Almal in die gemeenskap het ingekyk en die kragdadigheid van hulle geloof in Jesus Christus opgemerk. Hulle het met integriteit gelewe. Omdat hulle met integriteit gelewe het, het die getalle van die huiskerke toegeneem en was hulle in guns by die hele volk. Hulle het so voorbeeldig gelewe, dat hulle kragdadig gegroei het.

Hulle egtheid was sigbaar in die wyse waarop hulle vir die armes en hulpbehoewendes omgegee het en hulle ingetrek het in die huiskerke. Ons bou gewoonlik ‘n muur tussen ons en die armes. Hulle het die armes, saam met hulle aan die gemeenskaplike tafel laat sit. Dit is maklik om kos vir ‘n arme te gee, maar om saam met hom of haar te eet is die uitdaging.

Jürgen Moltmann verwoord die beginsel van die liefdesgemeenskap in die kerk as volg: “The solution to poverty is not property. The solution to both poverty and property is community.” Daar is eenheid in die geloofsgemeenskap, wanneer daar gedeel word.

In ons teksgedeelte lees ons van Josef, ’n Leviet  wat op Siprus gebore is. Hy het oral waar hy rondgegaan vir mense moed ingepraat. Daarom het die dissipels hom Barnabas genoem, wat beteken “ iemand wat mense moed inpraat”. Hy het nie net mense moed ingepraat nie, hy het ook finansiële opofferings gemaak om sy medemens te help.

Ons dink dan veral ook aan Tabita, wat ‘n Hebreeuse vrou was wat vir die Joodse en Griekse weduwees klere gemaak het. Daarom was haar naam in die Griekse gemeenskap bekend as Dorkas. Sy het oor kultuurgrense mense gehelp.

In elke geloofsgemeenskap is daar Barnabasse en Tabitas, wat dit hulle werk maak om armes en mense wat in nood is te help en hulle moed in te praat. Dit is mense wat kos uitdeel, groente uitdeel, klere uitdeel en sopkombuise aan die gang hou. Dit is mense wat ander bemoedig deur vir hulle werk te soek.

‘n Mens kry natuurlik, ook die swak voorbeeld van Ananias en Saffira. Hulle het ‘n stuk grond verkoop en voorgegee dat hulle die volle som vir welsyn skenk. Tog het hulle ‘n deel van die koopprys terug gehou. Petrus het vir Annanias gesê, dit was nie verkeerd om die grond te verkoop en die geld vir eie gebruik aan te wend nie. Maar hy het voorgegee hy skenk vir die armes, om vir hom ‘n goeie naam in die gemeenskap te kry. Hy het dus gegee om gesien te word. Sy hart was nie by die armes nie, maar by sy en Saffira se goeie naam. Wanneer jy gee, moenie met bybedoelings gee nie. Gee in opregtheid met ‘n hart vir jou medemens.  

Paulus waarsku ook dat gelowiges nie vir mense wat lui is moet help nie. Christelike barmhartigheid bevorder nie luiheid nie. Paulus spreek die luiaards sterk aan en sê hulle moet vir hulle eie brood werk. 

Luister bietjie wat sê Paulus in 2 Thessalonisense 3: 6 -13: “Ons beveel julle, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus: Onttrek julle aan elke broer wat leeglê en hom nie hou aan die opdragte wat julle van ons ontvang het nie.  Julle weet self watter voorbeeld ons vir julle gestel het om te volg. Ons het nie daar by julle leeggelê of op ander geteer nie. Inteendeel, ons het dag en nag geswoeg en gesweet om nie vir een van julle ‘n las te wees nie. Nie dat ons nie die reg het op onderhoud van julle nie, maar ons wou vir julle ‘n voorbeeld wees wat julle moet volg.  Toe ons nog by julle was, het ons vir julle uitdruklik gesê: “As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.”  Ons sê dit omdat ons verneem dat daar mense by julle is wat leeglê, wat self nie werk nie en hulle net met ander se sake bemoei. Sulke mense beveel en gebied ons op gesag van die Here Jesus Christus dat hulle hulle aandag by hulle werk moet bepaal en hulle eie brood verdien. Wat julle betref, broers: Moenie moeg word om goed te doen nie.” 

Kerk en gemeenskap mag nooit teenoor mekaar staan nie. Die kerk is daar terwille van die gemeenskap. Die kerk se roeping is om die gemeenskap te dien. Die kerk wat haarself preserveer om net haarself aan die gang te hou sal beslis sterf. Die kerk moet oop deure en vensters hê na die wêreld. Die kerk moet aanloklik lyk vir die wêreld. Die kerk moet opgebruik word deur die wêreld.

Interessant is die woord “pontiff” wat vir die Pous, die hoogste hiërargie in die Rooms Katolieke kerk gebruik word. Die woord “pontiff” kom van die Latynse woord “pontifex” wat beteken “brugbouer.” Dit teen die agtergrond van die Romeine wat uitstekende paaie en brûe gebou het. Hulle het daardeur die landskap en geskiedenis van die wêreld verander. So moet elke predikant, ouderling, diaken en gelowige ‘n “brugbouer” wees. Ons moet brûe bou tussen die kerk en  die wêreld. Ons moet brûe bou na armoede. Ons moet brûe bou na hulle wat moedeloos is en uitgesak het in die lewe. Ons moet brûe bou na hartseer. Ons moet brûe bou na bejaardes en uitgestotenes. 

Die St Bernard honde in die Alpe wat reisigers in sneeustorms soek, is geleer om altyd hulle soektog ernstig op te neem. 

Daar word vertel van die een hond wat laat een middag terug gekom het van ‘n missie, in ‘n hewige sneeuval. Hy  het na sy hondehok gegaan en in die hoek gelê en homself onttrek, ten spyte van sy eienaar wat hom wou opbeur met kos. Hy het niks geëet nie. Was hy siek? Wel nee, nie na liggaam nie, maar in sy hart. Hy het gefaal om iemand in nood te help en het skaam teruggekom. Dit is hierdie hartseer van die hart wat ons moet openbaar as ons iemand nie kan help nie. Dit moet die Christen kenmerk. Ons moet ‘n heilige weemoed hê, as ons iemand nie kan help nie. Daarom staan daar mos in die saligsprekinge: “Geseënd is dié wat treur.”

Daar word vertel van ‘n babaseun wat in ‘n afgeleë distrik van Wallis ernstig siek was. Die ma was ‘n weduwee en baie arm. Sy het 5 myl geloop deur die nag, terwyl dit gereën het om ‘n dokter te kry. Die dokter het eers gehuiwer. Dit sou ‘n onplesierige rit gewees het in die reën en die weduwee sal heelwaarskynlik nie kan betaal nie. Wat sou in elk geval van die seun geword het, maar net nog een van die armes. Maar sy liefde vir mense en sy professionele gewete het  hom oorreed om na die seun te gaan en die seun se lewe is gered. Baie jare later het die seun David Lloyd-George, die eerste minister van Engeland geword. Die dokter het toe gesê:  “I never dreamed that in saving the life of that child on the farm, I was saving the life of the leader of England.”

Die Bybel het talle voorbeelde waar mense onwetend vir engele kos gegee het. Die Here Jesus kan ook in die vreemde gestalte van ‘n noodlydende na jou en my kom.

Anton Rupert het in een van sy boeke geskryf, dat elke maatskappy wat wins maak uit ‘n gemeenskap, het die verantwoordelikheid om iets terug te gee aan die gemeenskap.

Netso het ons wat baie ontvang as gawes van die Here die verantwoordelikheid om van ons gawes terug te gee aan hulle wat minder as ons het. Ons is ‘n geloofsgemeenskap, “a community” en daarom moet ons onderlinge sorg vir mekaar dra.

Waar daar “community” is, is daar deernis, liefde en eensgesindheid.     AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s