SKRIFLESING: Handelinge 10: 34 – 43
Een van die teoloë het gesê al was Jesus Christus ‘n duisend keer in Betlehem gebore en al het hy ook ‘n honderd keer op Golgota gesterf, maar Hy het nie een keer opgestaan uit die dood nie, was ons geloof waardeloos. Daarom is Paassondag die waarmerk van ons geloof. Paassondag, was ook die gebeurtenis waar Jesus sekere lyne en grense uitgevee het en ‘n nuwe bedeling aangekondig het.

Die Ou Testament het baie lyne as grense gehad. Daar was die lyn van Israel as die uitverkore volk teenoor die ander volke. Daar was die lyn tussen man en vrou. Die man het die vrou besit en die vrou het na die man gehunker. Daar was die lyn van reinigingswette. Die vraag is wanneer is ek rein en wanneer is ek onrein. As ‘n vrou haar maandstonde gehad het was sy vir die tydperk onrein. As jy aan ‘n lyk gevat het, was jy onrein vir ‘n tydperk. Daar was die lyn tussen watter kossoorte jy mag eet en watter jy nie mag eet nie. So byvoorbeeld was varkvleis een van die vleissoorte waarvan jy nie mag geëet het nie. So ook as jy aan God geoffer het, was daar ‘n klomp lyne van wat jy mag offer en wat jy nie mag offer nie. Die hele Ou Testament is vol honderde lyne van wat mag en wat nie mag.
Hierdie lyne wat dien as grense sukkel ons om af te skud. Vandag nog wil ons ou grense instand hou en nuwe grense en lyne trek. Ons sukkel nog om die lyne tussen man en vrou af te breek. Nog enkele dekades gelede het mans en vrouens apart in die kerk gesit. In baie wêrelddele en kulture word vrouens nog as tweedeklas mense gesien. Dit lei natuurlik tot geslagsgeweld. Patriargisme en matriargisme, maak verhoudinge ongesond. Ons trek lyne tussen volke en bou grense. Die voormalige president Donald Trump wou ‘n muur tussen Amerika en Mexiko bou. Na die Tweede wêreldoorlog is die muur tussen Oos-Berlyn en Wes-Berlyn gebou. Daar is sosiale en ekonomiese grense. Wie ryker is word ryker en wie arm is, word armer. As iemand jou nie êrens ‘n skop in die lewe gee nie, gaan jy nêrens uitkom nie. Op politieke toneel word nie net lyne getrek nie, daar word sommer strepe tussen volksgroepe getrek en hulle betoog en skree mekaar dood. Met slagspreuke word die ander kultuurgroep geteister. Rassehaat het ongekende hoogtes bereik. Nog nooit was die politieke spanning en lyne so duidelik, sedert President Nelson Mandela regeer het nie. Mandela het probeer lyne uitvee en ‘n lewe van versoening propageer in Suid Afrika. Hy wou vir almal plek maak. Maar die lyne tussen mensegroepe word elke dag al hoe duideliker getrek.
Dan moet ons vanoggend die Paasevangelie hoor. Op Paassondag het Jesus Christus opgestaan uit die dood. Hy het toe begin om grense uit te vee. Met Paassondag het Jesus die lyn tussen lewe en dood uitgevee. Daarom as ons in Christus sterf het ons die ewige lewe en hoef ons nie die ewige dood te vrees nie.
Op Paassondag het Jesus ook bewys dat Hy die sonde oorwin het. Die sonde was ‘n lyn of grens tussen ons en God. Hierdie lyn het Jesus met Sy opstanding finaal uitgevee, soos ons geregverdigdes kan wees.
Die eerste waarnemers van Sy opstanding was die vroue gewees. So word vroue die eerste verkondigers van die blye Evangelie dat Jesus opgestaan het. Daardeur het Jesus die vrou, ‘n selfstandige plek gegee in die samelewing en haar gelyk met die man gemaak. Die grenslyn tussen man en vrou is uitgevee.

‘n Bewys van dat Jesus op Paassondag grense uitgevee is, staan in Hand 10: 9 – 17. Ons lees dat Petrus honger geword op die dakstoep waarheen hy gegaan het om te bid. Daar staan hy het in geestesvervoering geraak en ‘n groot doek is in vier punte neergelaat. In die doek was al die kruipende diere en die voëls. Die Here het vir Petrus opdrag gegee om te slag en te eet. Hy het geweier en gesê dat hy nog nooit iets geëet wat onheilig of onrein is nie. Dan kom daar weer ‘n stem uit die hemel en sê vir Petrus, dat wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie. Drie keer het die boodskap tot Petrus gekom en daarna is die doek opgetrek na die hemel.
Dan staan daar, toe Petrus gewonder het wat dit tog kon beteken kom die drie mans van Kornelius, ‘n kaptein van ‘n Italiaanse regiment by Petrus aan. Hulle versoek hom om Kornelius wat ‘n nie-Jood is te besoek in Sesarea. Daar aangekom vir Kornelius kniel voor Petrus en luister wat sê Petrus in Handelinge 10: 28: “ Hy het vir hulle gesê: “Julle weet dat dit vir ‘n Joodse man verbode is om met iemand van ‘n ander volk te assosieer of hom te besoek. God het egter aan my getoon dat ek geen mens as besoedel of onrein mag beskou nie.”
So het die Paasevangelie die lyn tussen rein en onrein uitgevee. Dit het die lyn tussen Jood en nie-Jood uitgevee.
Na sy opstanding en met sy hemelvaart het hy sy uitnodiging wyd gemaak na alle mense en volkere. In Handelinge 1: 8 staan daar: “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle moet my getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria, en tot aan die einde van die aarde.” Nou is die lyn nie net rondom Israel getrek nie, maar die lyn is uitgevee sodat alle volkere en nasies deel kan hê aan die verlossing wat Jesus Christus gebring het. Op Pinkstersondag het ‘n menigte mense van verskillende volkere die boodskap in hulle eie taal gehoor.

In Jesus se lewe het Hy alreeds lyne uitgevee tussen die godsdienstige elite en die sondaars van sy tyd. Hy het gemeng met die tollenaars, die vrate, die wynsuipers, die prostitute, die owerspelige vrou, Sageus (die tollenaar). Hy het ook gemeng met die mense wat in die oë van die Fariseërs onrein was, soos die blindes, lammes, melaatses, kreupels, duiwelbesete en die vrou wat aan bloedvloeiing gely het.
In die plek van die Joodse godsdienstige begrip van “volk” het Jesus Christus met sy opstanding die “kerk” gestig, wat nie verband hou met volk, etnisiteit, taal of kultuur nie. Die “kerk” het lyne kom uitvee. Daarom bely ons in “een, heilige, algemene, Christelike kerk.”
Christene trek nie lyne nie. Christene stel nie grense op nie. Christene vee lyne uit en bou brûe oor grense.
Daarom verstaan ons nou wat Petrus in Handelinge 10: 34 – 36 bedoel het: “Petrus het toe begin praat en gesê: “Ek besef nou werklik dat God niemand volgens sy uiterlike beoordeel nie, maar dat die mens wat ontsag vir Hom het en doen wat reg is, uit watter nasie hy ook mag wees, vir Hom aanvaarbaar is. Dít is die boodskap wat Hy vir die kinders van Israel gestuur het toe Hy die evangelie van vrede wat deur Jesus Christus gekom het, verkondig het: Hy is die Here van alle mense.”
Daarom mag ons nie lyne trek of grense stel nie. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)