Voorspoed- of kruis- Evangelie


SKRIFLESING: Filippense 2: 5 – 11

Hierdie Sondag se naam is Palmsondag.

Die feestelike intog van Jesus op die rug van ‘n donkie en die oopgooi van palmtakke en klere voor Jesus het plaasgevind ‘n week voor die kruisiging. Die mense het met verwagting en vreugde die koms van Jesus verwag. Ongelukkig het hulle gedink dat Jesus vir hulle voorspoed gaan bring. Hulle het gedink Jesus ry Jerusalem binne om as koning en militêre aanvoerder die Romeinse bewind omvêr te gooi. Die Romeinse owerheid het die Jode verdruk en swaar belasting van hulle gehef. Hulle wou vrykom van die Romeinse oorheersing en weer ‘n vrye Joodse staat wees. Toe dit later die week blyk, dat Jesus nie vir hulle voorspoed gaan bring nie, het hulle geskree voor Pilatus: “Kruisig Hom! Kruisig Hom! 

Die versoeking is altyd daar, om Jesus te aanbid net vir die voordeel wat Hy bring. Ongelukkig is dit waar van ‘n groot deel van die Christendom. Mense volg Jesus vir die voordeel, maar is nie bereid om die kruis te dra nie. Jesus moet gesondheid gee, reën gee, probleme oplos, finansiële rykdom bring en nog ‘n hele klomp ander goed vir my gee en doen. Ons noem dit voorspoedsteologie of welvaartteologie. Hulle sê Christene is koningskinders en daarom moet hulle soos konings lewe. Siekte mag hulle nie tref nie. Hulle moet die beste karre ry, want God gee die beste vir sy kinders. God moet my grondgebied uitbrei.

Maar voorspoed en welvaart bring twis, konflik en jaloesie. ‘n Mens sien dit elke dag rondom jou. Dit verbreek die eensgesindheid tussen mense. Daarom het Jesus nie in die eerste plek gekom vir ons welvaart of voorspoed nie. Dan maak jy vir Jesus net ‘n afgod wat jy rondskuif om jou eie belange te bevorder.

Jesus het nie gekom vir voorspoed nie, maar vir die kruis. Die “voorspoed-Evangelie” staan vir selfbelang. Die “kruis-Evangelie staan vir selfopoffering.

Daarom roep Paulus ons in Filippense 2: 5 – 11 op  om dieselfde gesindheid te hê as Christus Jesus. Die King James vertaling vertaal dit so mooi: “Let this mind be in you, which was also in Christ.”

Vers 7 beskryf dan Jesus se gesindheid. Hy het sy gestalte as God afgelê vir die gestalte van ’n slaaf. Die Griekse teks beskryf hierdie handeling as self-leegmaking of ontlediging. Die NIV beskryf dat Jesus “made himself nothing” – en die King James vertaling beskryf dat Jesus “made himself of no reputation” Deur dié handeling het Jesus ook mensgelykvormig geword. Jesus het gelykvormig aan ‘n slaaf en ‘n mens geword.

In vers 8 word beskryf dat Jesus se selfvernedering het uit gehoorsaamheid tot die dood toe bestaan. Die manier waarop Jesus gesterf het, was teregstelling aan die kruis, die uiterste vorm van skande. Vir die eerste 4 eeue was die kruis nie ‘n Christelike simbool nie, want die kruis was ‘n simbool van skande, waarmee die vroeë Christene hulle nie kon identifiseer nie.

In verse 9 en 10 word beskryf hoedat Jesus verhoog word en verheerlik word, omdat Hy bereid was om die minste te wees en verneder te word.

 Ons skrifgedeelte  dien as antwoord op die innerlike verdeeldheid in die gemeente van Filippense. Dié gemeente en ons almal kort Christus se gesindheid (v 5). Gemeentelede moet in nederigheid en selfontleding op mekaar ingestel wees, dan sal die eenheid en versoening gestalte kry in die gemeente en gemeenskap.

Ons leef in ‘n wêreld wat voorspoed najaag ten alle koste, maar wat ook verwydering bring tussen mense, asook verontregting bring. Dit is interessant in statistiek van die inenting teen die Covid-19 virus het die rykste lande die verste gevorder met inenting, teenoor die armer lande. Party lande het al ‘n voorraad inentings opgebou in koelkamers wat hulle te veel het, maar hulle wil dit nie deel met armer lande nie. Voorspoed kyk net na haarself.

Daar was die legende van Koning Midas. Koning Midas was jaloers gewees op al die ander konings wat baie ryker as hy was. Eendag kom daar ‘n feetjie na hom en vra wat is sy wens. Sy wens was natuurlik om ryker te wees as die ander konings. Die feetjie sê dit sal waar word. Die koning het hom nie veel daaraan gesteur nie. Die volgende môre toe die koning egter wakker word het, het alles waaraan hy gevat het in goud verander. Sy bed was skielik van goud. Toe hy aan sy bedkassie vat het dit ook skielik in goud verander. Soos die koning deur die paleis gestap en aan goed gevat het, het alles in goud verander. Aan die ontbyt tafel was sy tafel, borde en eetgoed skielik van goud. Die koning het bly uitgeroep, dat hy nou ryker is as al die konings  van die omtrek. Toe hy egter buitekant kom en op die grasperk loop om na sy geliefde roosbome te gaan kyk het ook dit skielik verander in goud. Hy was tog so lief vir sy groen gras en vir die reuk van sy rose. Die goue rose het egter geen reuk gehad nie. Skielik het hy met ‘n skok besef dat goud en rykdom nie alles is nie.  Toe sy geliefde dogter na hom aangehardloop kom om hom te omhels het ook sy dogter in goud verander. Skielik besef koning Midas toe sy ellende: Hy is skatryk, maar hy het nie meer sy groen gras, die reuk van sy roosbome en sy dogter nie. Koning Midas was tot die dood toe mismoedig.

Maar ‘n “kruis Evangelie” offer op. Dit  is selfontledigend en selfleegmakend. Dit is dienend. Dit bou verhoudinge op. Dit is die minste. So kan ons van die wêreld ‘n beter plek maak.

Ons wil ons ruimtes groter maak. Ons wil ons ruimtes vul met onsself. Jesus het egter in die ruimte gehang, wat niemand wou vul nie.

Teenoor die voorspoed-Evangelie, staan die kruis-Evangelie. Die voorspoed- Evangelie neem spasie op. Dit wil meer spasie hê. Die kruis-Evangelie staan spasie af en maak vir ander mense ook plek. Dit is bereid om in ‘n kleiner spasie in te skuif.

Wil jy jou spasie groter maak – dan is beoefen jy voorspoedsteologie.

Wanneer jy bereid is om jou spasie kleiner te maak, ter wille van ander, – beoefen jy die kruis-Evangelie.

Jesus Christus het nie aan die kruis gesterf vir ons voorspoed nie. Hy het aan die kruis gesterf om verhoudinge te herstel. Daarom moet ook ons erns maak met verhoudinge.                                           AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s