Jesus wil nie alleen sterf nie.


SKRIFLESING: Johannes 12: 20 – 36

Ons woordeskat en Jesus se woordeskat is nie dieselfde nie. Wanneer ons praat verhoging en verheerliking, dink ons aan ‘n Olimpiese atleet of suksesvolle student of ‘n persoon wat ‘n besondere prestasie vermag het. So ‘n persoon word verhoog op ‘n podium of word verheerlik in die koerante en tydskrifte. So ‘n persoon ontvang spesiale eer en vermelding.

Wanneer die apostel Johannes van Jesus se verhoging en verheerliking skryf, bedoel hy die verhoging van Jesus aan die kruishout en die verheerliking om as Seun van God aan ‘n kruis te sterf.

Aanvanklik het Jesus in Sy vroeë bediening aangekondig dat Sy tyd nog nie gekom het nie. Maar nadat Lasarus uit die dood opgewek is, het die mense daaroor gepraat en agter Hom aangeloop. Selfs die Fariseërs in vers 19 het gesê, hulle rig niks uit nie, want die hele wêreld loop agter Jesus aan. In vers 20 lees ons dat ook die Grieke agter Jesus begin aanloop het.

In ons gelese gedeelte sê Jesus in vers 23: “Die uur het gekom dat die Seun van die Mens verheerlik moet word.” Wat het gebeur dat die situasie verander en die aangewese tyd nou hier is? Die koms van die Grieke maak dat Jesus sê die tyd het nou gekom. Die tyd het gekom omdat die “hele wêreld” nou na Jesus toe kom. Dit wat reeds in Joh 1: 9 aangekondig is, naamlik dat die ware lig elke mens verlig, is met die koms van die Grieke aan die gebeur.

Daarom het die tyd gekom dat Jesus verhoog word en verheerlik word aangebreek. Maar hierdie “verhoog” word beteken, om aan ‘n kruis verhoog te word en hierdie “verheerliking”, beteken om gekruisig te word.

Dan gebruik Jesus die beeld in vers 24 van ’n koringkorrel wat in die grond val en ‘n groot oes inbring. Een koringkorrel sterf om baie koringkorrels te lewer. Daarom is Jesus verheerlik, om die voorreg te hê om te sterf as enkeling en vir die hele wêreld verlossing te bring. Een sterf om vir baie te red.

Net Jesus se sterwe kan verlossing van sonde bring. Maar Jesus wil nie alleen sterf nie. Hy nooi ons in vers 25 om saam met Hom te sterf. Daarmee bedoel Jesus dat ‘n mens aan jouself moet sterf. Jy moet sterf aan jou eie ego,  jou eie trots, jou sonde en selfverheffing. Want deur te sterf aan jouself, sal jy die lewe behou en ook die ewige lewe ontvang. Dan sal jy ’n dienaar van die Vader wees.

Die meeste mense se lewe is soos seepbelle wat kinders blaas. Seepborrels wat pragtig opstyg, met verskillende kleure en grotes en vorms. Almal bewonder dit en sê dit is mooi en pragtig. Maar dit kom tot niks nie. So styg mense se lewe en ego op in seepbelle tot aanskoue van baie, maar dit “pop” tot niks. Dit het geen betekenis vir iemand, behalwe plesier.

Maar die seepborrels van Sunlight Liquid is nie gemaak om plesier te gee of vir die mooi wees daarvan nie. Wie hou nou van skottelgoed was. Maar dit maak borde en koppies en messe en vurke skoon. As jy klaar gewas het is daar geen seepborrels oor nie, maar die breekgoed is skoon. Die borrels het gesterf en ‘n groot oes nagelaat. Al die skottelgoed is skoon.

So moet ons ook soos die seepborrels van Sunlight Liquid sterf, diensbaar wees en ‘n verskil maak in ander mense se lewe. Wie leef vir die prag en praal soos kinders wat seepbelle blaas, is nie diensbaar nie en hulle lewe het geen betekenis vir ander nie.

Die Here wil nie alleen sterf nie.

Jy moet in jou huwelik sterf, sodat jy kan leer om onderdanig te wees aan jou lewensmaat. Jy moet in jou verhoudings met ander mense sterf, sodat jy  diensbaar aan ander mense wees. Jy moet sterf in jou alledaagse arbeid, deur van die wêreld ‘n beter plek te maak. Jy moet  ook sterf aan jou sonde, sodat jy ’n nuwe mens kan word.

Waar kom al die geweld, spoggerigheid van mense, onmin, twis, hoogmoed, vyandskap, tweedrag tussen mense vandaan. Ons wil nie aan onsself sterf nie. Ons wil nie van ons trots sterf nie.

Die Here wil nie alleen sterf nie. Ons moet saam met Hom sterf. In een hoofstuk verder in Johannes 13, lees ons hoedat Jesus sy dissipels se voete was. Hulle was vol van hulleself en het baklei oor ereposisies, oor wie gaan aan die Here se regterkant en wie gaan aan sy linkerkant sit? Wie gaan hulle voete was? Daar was geen sprake dat hulle aan hulself gaan sterf nie. Hulle het ook nie verstaan dat Jesus vir hulle gaan sterf nie. Dan was die Here Jesus al die dissipels se voete, as simbool dat hy sy lewe gaan neerlê en gaan sterf vir hulle. Dan sê die Here Jesus in Johannes 13: 14 dat soos Jesus die dissipels se voete gewas het, behoort hulle ook aan mekaar te doen.

In Joh 13: 38 vra die Here Jesus vir Simon Petrus: “Sal jy jou lewe vir my aflê?” Dan weet ons hoedat Simon Petrus vir die Here drie keer verloën het, voor die haan gekry het.

Hoe is ons nie ook dikwels onwillig om aan ons sonde te sterf nie.

Om Jesus Christus radikaal met jou hele hart te volg, moet jy bereid wees om aan jouself te sterf. Die Here wil nie alleen sterf nie.                    AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s