SKRIFLESING: Efesiërs 2: 1 – 10
Dikwels sien jy mense teksverse of kruise op hulle voertuie as “stickers” plak.

Sommige van eienaars doen dit dat die Here die kar sal beskerm. Maar dan is dit juis hulle wat uiters onverskillig ry. Of besighede is vol teksverse geplak en dan is dit dikwels juis hulle wat hulle kliënte uitbuit. Of dit gebeur dat mense hulle Facebook profiel beplak met teksverse en mooi gedagtes, maar die leser weet dié persoon se lewe is alles behalwe Christelik. Of mense hang kruisies met ‘n ketting om hulle hals, maar hulle is vloekende matrose. Of iemand gooi teksverse rond en loop met die Bybel onder die arm, maar knyp die kat in die donker.
Die verandering waarvan ons skrifgedeelte plaas, gaan nie ook “carstickers”, Facebooks plasings, kruisies of teksverse nie. Die verandering waarvan ons skrifgedeelte plaas is ‘n grondige verandering van jou gedagtes, hartingesteldheid, motiewe en lewe. Dit is totaal en al lewensveranderend. Paulus praat van iemand wat dood was in sy sonde, maar deur Christus lewend gemaak is.

Die groot sendingkundige, Herman Bavinck het dit in ’n beeld beskryf om te verduidelik. Sommige mense dink as God jou red, jy net so ‘n sakdoekbreedte van jou lewe vir God hoef te gee. Dan gebruik hy die beeld van die seilvaarder wat wat in die bries van die seewind met sy sakdoek probeer om die seiljag aan die beweeg te kry. Natuurlik is dit nutteloos. Hy moet al die seile van die seiljag hys, sodat die seewind hom op volle sterkte kan meevoer. So gee ons dikwels vir God ook net ‘n sakdoek breedte van ons lewe om te verander. Die Here moet my verander, maar hy moet net nie my hele lewe verander nie.

Efesiërs 2: 1 – 10 roep ons op om te sterwe in die sonde en met Christus op te staan in ‘n nuwe lewe. Jy kan net dood of lewend in Christus wees. Daar is iets soos skynlewe of skyndood, waar iemand skynheilig voorgee dat hy / sy Christus aangeneem het. Christus wek ons egter op tot ‘n radikale nuwe opstandingsgeloof. Daarom kan ons nie oor sulke dinge skynheilig wees nie.
Skynheilig beteken om voor te gee dat God jou in Christus verlos het, maar jy lewe nog die ou lewe sonder Christus.
Die ware opstandingsgeloof ken die gemeenskap van gelowiges in die erediens, ken ‘n voorbeeldige lewe soos Mat 23: 23 beskryf met geregtigheid, barmhartig en betroubaarheid. Ware geloof word nie op die straathoeke uitgebasuin nie, maar in die binnekamer geleef. Dit word uitgeleef teenoor my medemens.

Hierdie egte geloof word net deur Christus bewerkstelling. In die woestyn lees ons in Numeri 21:4-9 hoedat die volk gemurmureer het teen God en Moses oor alles wat hulle gepla het. God het toe honderde slange in die laer ingestuur en die Israeliete het die een na die ander gesterf. Toe pleit die volk by Moses om vir hulle voorspraak by die Here te maak. Moses moes toe ‘n koperslag op ‘n paal aanbring. Almal wat gepik is en gelowig na die koperslang op die paal gekyk het, is gered en het gesond geword. Diegene wat nie geglo het in die koperslang nie, het almal gesterf. Dit was as’t ware ‘n vooruitwysing na Christus wat ook op ‘n paal verhoog sal word. Almal wat na Christus kyk vir genesing sal gered word van die sonde en lewendig in Christus word. Maar almal wat nie glo in Christus nie, sal die ewige dood sterf.
Wat belangrik is in vers 8 en 9 is dat Christus hierdie verlossingswerk uit genade gedoen het. Dit is nie ek wat vir Christus gekies het nie, maar Christus wat vir my gekies het. Hy het my ten volle losgekoop vanuit my sonde en my in ‘n nuwe lewe geplaas. Daarom kan ek nie skynheilig lewe nie.
Hoor wat sê Efesiërs 2:10 : ”Ons is immers sy maaksel, geskep in Christus Jesus om goeie werke wat God voorberei het, te doen, en daarvolgens te leef.”
Jesus het die “goeie werk wat God voorberei het”, vir ons gegee om te doen en daarvolgens te lewe.
Goeie werke wat uit onsself kom is skynheilig.
Maar “goeie werke wat God voorberei het”, kan nooit skynheilig wees nie, maar is egte en ware Godsdiens.

Die Romeinse Ryk het aanspraak daarop gemaak dat hulle wêreldwye vrede tot stand gebring het, die sogenaamde Pax Romana. In Efesiërs 2 word dit weerspreek, wanneer die keiser nie langer vereer word as die een wat vrede bring nie. In die goeie nuwe bestel het niemand rede tot roem nie (2:9), ook nie die keiser nie. Jesus is die kosmiese vredemaker (soos in Kol 1) wat op ongekende skaal vrede bewerkstellig.
Tussen twee lande is daar gewoonlik ‘n niemandsland, wat nie aan enige van die twee lande behoort nie. Dit is gewoonlik neutrale grondgebied. Tussen die dood en die lewe, tussen die bose en Christus is daar nie ‘n niemandsland of neutrale grondgebied nie. Jy is dood of lewend. Jy is in Christus of jy is buite Christus.
So baie van ons probeer op neutrale grond staan. Met die een voet in die bose en een voet in Christus. Ons wil die beste van twee wêrelde hê. Ons wil die voordele van Christus ervaar, maar ook die genietinge van die sondige wêreld. Dan is ons oneg. Dan is ons skynheilig. Ons kan nie twee base dien nie, Daarom roep Efesiërs 2 ons op tot ‘n radikale keuse vir Christus.
Een teoloog het gesê dat meer dikwels vloei die wêreld die kerk in. ‘n Wêreldse gees pak die kerk. Eerder moet die kerk die wêreld inspoel en die wêreld verander en transformeer.

‘n Diamant is eg. So eg dat jy dit nie kan breek met gewone gereedskap nie. ‘n Stuk glas wat soos ‘n diamant lyk kraak onder die geringste hammerslag.
Jou egtheid as lewend in Jesus sal in die harde slae wat die lewe jou toedien getoets word. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)