SKRIFLESING: Hebreërs 13:2
Die Ou Testamentikus Claus Westermann het ‘n boekie oor engele geskryf met die titel “Gottes Engel brauchen keine Flügel”: “God se engele het nie vlerke nodig nie.” Dié boek het baie herdrukke beleef. Hy toon aan dat in verskillende tydvlakke van die Bybel, praat die Godsvolk verskillend oor engele.

Daarom kan ‘n mens ook nie iets soos ‘n leerstuk oor engele formuleer nie. Die Bybel stel nie in engele belang nie, maar in God. Engele is slegs boodskappers van God. Engele is God se helpers en somtyds God se draers van boodskappe in mensetaal. Westermann sê daarvoor het hulle nie altyd vlerke nodig nie.
Dit is merkwaardig hoe dikwels mense engele nie erken het nie, maar dat engele in gewone gestaltes aan mense verskyn het.

In Gen 18 het Abraham by Mamre gesit en drie manne sien naderkom. Hy het hulle slegs as besoekers herken en hulle met tipiese Ou Testamentiese gasvryheid bederf. Toe die drie manne vir hom en Sarah die boodskap bring dat hulle in hulle gevorderde ouderdom oor ‘n jaar ‘n seun in die wêreld sou bring het Sarah, selfs daaroor gelag. Hulle het die drie manne nie herken as engele nie. Want die drie manne het nie vlerke gehad nie. Hulle was tipies geklee soos Midde-Oosterse mans.
Dirkie Smit skryf dat mense dikwels eers later besef dat dit engele was wat hulle bygestaan, vertroos of bemoedig het.
In die Nuwe Testament word daar meestal van engele gepraat by die hoogtepunte van Jesus Christus se lewe. Maar die engele wys altyd heen na Christus, in wie God nader as ooit aan ons gekom het in ‘n vleeslike gestalte, aldus Dirkie Smit.
In Hebreërs 13:2 staan daar: “Moenie versuim om gasvry te wees nie, want hierdeur het sommige, sonder dat hulle dit weet, engele as gaste ontvang.” Abraham en Sarah het ook nie geweet hulle ontvang engele nie. Hierdie engele het vir hulle ‘n goeie boodskap van ‘n seun gebring. Netso, moet ons alle mense ontvang met gasvryheid. Ons kan dalk net ‘n engel ontvang en ons weet dit nie.

In Mat 25: 35 – 46 staan daar: 35want Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My gehuisves; 36Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek.’ 37Dan sal dié wat die wil van God gedoen het, Hom vra: ‘Here, wanneer het ons U honger gesien en U gevoed, of dors en U iets gegee om te drink? 38En wanneer het ons U ‘n vreemdeling gesien en U gehuisves, of sonder klere, en vir U klere gegee?

39Wanneer het ons U siek gesien of in die tronk en U besoek?’ 40En die Koning sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.’41“Dan sal die Koning vir dié aan sy linkerkant sê: ‘Gaan weg van My af, julle vervloektes! Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is, 42want Ek was honger, en julle het My niks gegee om te eet nie; Ek was dors, en julle het My niks gegee om te drink nie; 43Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My nie gehuisves nie; sonder klere, en julle het My nie klere gegee nie; siek en in die tronk, en julle het My nie versorg nie.’ 44Dan sal hulle ook antwoord: ‘Here, wanneer het ons U honger of dors of ‘n vreemdeling of sonder klere of siek of in die tronk gesien en U nie gehelp nie?’ 45En Hy sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.’ 46En hierdie mense sal die ewige straf ontvang, maar dié wat die wil van God gedoen het, die ewige lewe.”

Wat belangrik is, dat ons dikwels deur engele besoek word in gewone menslike gestaltes. Dit kan iemand wees wat ons bemoedig of in nood help. Dit is al die vreemde gestaltes waarin God aan ons verskyn. Dikwels sal die engel wat ons help, menslik wees. Ons almal het ervarings van hoe mense ons onverwags gehelp het. Of hoedat mense ons in ons donkerste uur vir ons lig gebring het. Was dit nie miskien ‘n engel gewees nie?
Ek onthou baie jare gelede was ons jongste seun Johannes baie siek gewees. Hy het buitengewone hoë koors gehad. Hy is opgeneem in een van Kimberley se privaathospitale. Hy is ontslaan. Die koors het nog nie gebreek nie. Hy is toe later in een van Bloemfontein se privaathospitale opgeneem. Verskeie spesialiste het hom besoek, maar sy koors wou nie breek nie. Ons was moedeloos en verward. Die spesialiste wou hom toe later na die Pasteur Hospitaal stuur wat in virusinfeksies spesialiseer. Ons was gedaan, moedeloos en tranerig. Dit het gevoel of dit die einde van die wêreld is.

Een middag, rondom middagete was ek alleen by Johannes se bed. Anneke het gaan eet. Skielik stap daar ‘n christen advokaat die kamer binne, wat ek van geen kant ken nie. Hy vra toe of hy vir Johannes ‘n gebed kan doen. Ek vra vir hom asseblief. Hy het ‘n mooi gebed gedoen. Toe hy net uit is, kom Anneke die hospitaalkamer binne. Ek vertel toe vir haar, van die advokaat wat vir ons kind gebid het. Feitlik onmiddelik daarna wonder sy of dit nie miskien die mangels van Johannes is nie. Toe die spesialis weer ‘n besoek doen, vra ek hom om spesifiek na die mangels te kyk. Hy doen so en sê dadelik dat die mangels vrot is van infeksie. Hy bel toe dadelik ‘n ander spesialis wat met mangels werk. Binne 10 minute daag hy op. Hy verander die antibiotika wat per drup toegedien word. Die volgende oggend speel Johannes vir die eerste keer in 10 dae. Tien dae was hy dodelik siek, verskeie spesialiste het hom ondersoek. Niemand kon die oorsaak kry nie. Vir my was die advokaat wat ingestap het en ‘n gebed gedoen het, die engel wat God gebruik het om Johannes te genees. Want onmiddelik na sy gebed kry Anneke die wysheid om te wonder of die oorsaak nie by die mangels lê nie. Voorwaar was die advokaat ‘n engel vir ons gewees.
Daar was ook die keer toe ons as die Ring van Hopetown ‘n predikante retreat gehad het. Ons het onder andere na die Van der Kloof dam gaan kyk en ons was ook binne die damwal. Johannes was klein. Op ‘n stadium raak ons almal in vervoering oor die skoonheid van die dam. Dit is net toe dat Johannes wegbeweeg van ons af. Daar was ‘n reuse gat in die damwal. Sou Johannes daar afval, is dit meer as ‘n honderd meter afgrond. Anneke kyk net betyds om en gryp hom aan sy klere, voor hy daar afval. Dit was vir my ‘n skrikwekkende oomblik in my lewe. Ek glo dit was God gewees, wat sy beskermengel beskik het, dat Johannes betyds gevang is deur Anneke. Daarom glo ek vas aan wonderwerke.
Ons mag nie vir engele aanbid nie. Engele kan nie uit hul eie uit optree nie. Hulle kry hulle boodskappe en opdragte van God. Hulle is maaksels van God. Daarom aanbid ons alleen die Drie Enige God. Hy stuur en beskik oor die engele. Somtyds stuur God ook mense as engele.

Wat belangrik is, is dat God ons ook kan gebruik as engele. As ons vir iemand wat honger is, kos gee of vir iemand wat dors is water gee of iemand besoek wat siek is of in die gevangenis is, tree ons op as engele van God.
Dikwels kan ons derduiwels wees met mekaar. Ons beduiwel mekaar. Ons doen duiwelse dinge en bedink duiwelse goed. Ons het dikwels ‘n duiwelse agenda. Dan roep die Evangelie ons op om op te tree soos engele vir mekaar. Ja, om goed te doen aan ander.
Jy kan miskien die engel sonder vlerke wees. Onthou ons word deur God gestuur. Daar is hemelse engele en aardse engele. Wees jy die aardse engel. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)