SKRIFLESING: 1 Samuel 24: 1 – 23

President Donald Trump se aanmoediging op Twitter dat sy aanhangers die “Capital Hill” die week bestorm, getuig van ‘n narsistiese diktator wat nie sy mag as president oor Amerika wil verloor nie. Dit was ‘n donker oomblik in die Amerikaanse geskiedenis. So was daar baie diktators in die geskiedenis van die wêreld, wat nie wou afsien van hulle politieke mag nie.
In die Bybel lees ons van Saul, die eerste koning van Israel. Hy het almeer die Here bedroef met sy lewe, sodat die Here se guns oor hom begin wyk het. Op die voorgrond het Dawid getreë, wat die gunsteling by God was om die koningskap van Israel by Saul oor te neem. Saul het dit besef en was daarom baie jaloers op Dawid. Van vroeg af het hy probeer om Dawid om die lewe te bring. Dink byvoorbeeld aan die keer toe Saul vir Dawid met ‘n spies wou doodgooi, terwyl hy onskuldig die harp bespeel het.
In 1 Samuel 24: 1 het Saul en sy manskappe terug gekom van ‘n veldslag teen die Filistyne. Saul hoor toe dat Dawid in die En-Gediwoestyn is en hy stuur drie afdelings soldate, wat 3000 manskappe is, om vir Dawid as enkeling te soek om hom dood te maak. Bykans die hele Israelitiese weermag soek om Dawid dood te maak. ‘n Mens kan jou die angs, vrees en teleurstelling van Dawid indink.
Saul het sy soldate na die Klipbokrotse gestuur om vir Dawid te soek. Saul het intussen by ‘n skaapkraal gekom met ‘n grot daarby. Hy het ingegaan vir sy toiletbehoeftes (Die Hebreeuse idoom in Hebreeus lees: hy het sy voete bedek.)

Maar Saul was onbewus daarvan gewees dat Dawid en sy manskappe agter in die grot skuil nie. Dawid het toe nader gesluip en ‘n stuk mantel van Saul se bokleed afgesny. Toe Saul klaar was en buitentoe gegaan het, het Dawid in die grot se opening gaan staan en geroep: “My heer die koning!” Dawid het op sy knieë voor die koning neergeval. Dawid het toe gesê: “Waarom luister u na die woorde van mense wanneer hulle sê, ‘Kyk, Dawid is daarop uit om u kwaad aan te doen’? Kyk, u het vandag met u eie oë gesien dat die Here u vandag in die grot in my hand oorgegee het. Iemand het gesê ek moet u om die lewe bring, maar ek het u jammer gekry. Ek het gesê, ‘Ek sal nie my hand na my heer uitsteek nie, want hy is die gesalfde van die Here.’ En, my vader, kyk, ja, kyk hier, die soom van u mantel is in my hand. Want toe ek die soom van u mantel afgesny het, het ek u nie om die lewe gebring nie. Besef dan en sien in dat ek nie kwaad en opstand in die oog het nie. Ek het nie teen u gesondig nie, maar u maak jag op my om my lewe te neem.

Dan spreek Dawid met wysheid in vers 14: “ ‘Uit goddeloses kom goddeloosheid voort.’ “My hand sal nie teen u wees nie.” Dawid weier om kwaad met kwaad te vergeld. Al word hy gesoek om doodgemaak te word, sal hy nie doodmaak nie. Hy is nie ‘n goddelose nie, daarom kan goddeloosheid nie uit sy hart voortkom nie. Daarom word Dawid ook die man na aan die hart van God genoem, omdat hy so opreg is.
Dawid vergelyk homself met ‘n dooie hond. Hy het geen kans teen die 3000 man van Saul nie. Dawid is nederig oor homself en beskou homself as ‘n vlooi op die dooie hond. Saul agtervolg ‘n vlooi op ‘n dooie hond.

In ons wêreld, word kwaad altyd met kwaad terug baklei. So word kwaad ‘n bose kringloop. Jy vergeld diegene wat aan jou kwaad gedoen het. So hou die spiraal van geweld net aan en aan en word dit net al erger. Dit vra iemand om met ‘n liefdesdaad ‘n einde te maak aan die sinlose spiraal van geweld op geweld. Ons moet ook ons vyande se venyn teen ons begroet met liefde. Jy sal jou vyande vuurrooi van skaamte maak oor jou liefdevolle optrede.
Saul was aangedaan deur die liefdesdaad van Saul. Hy antwoord in vers 18 – 21: “Jy is regverdiger as ek, want jy het aan my goed gedoen terwyl ek aan jou kwaad gedoen het. Jy het dit vandag duidelik gemaak dat jy aan my goed doen, dat die Here my in jou hand oorgelewer het, maar dat jy my nie om die lewe gebring het nie. As iemand sy vyand teëkom, laat hy hom ongedeerd wegkom? Die Here, Hy sal jou met die goeie beloon vir wat jy vandag aan my gedoen het. En nou, kyk, ek weet dat jy beslis koning sal word, en dat die koningskap oor Israel onder jou hand sal standhou.”
Die weldaad van Dawid, verander Saul se harde hart. Hy erken dat Dawid ‘n beter man is as hyself. Hy erken ook dat Dawid die statuur het om die volgende koning te wees van Israel. Dawid openbaar wysheid, koninklike wysheid.
Wysheid soek nooit weerwraak nie. Wysheid soek vrede, nie oorlog nie. ‘n Ware staatsman, soek altyd die groter gemeenskaplike voordeel, as sy eie selfsugtige ego.
Dawid het vir Saul skaam gemaak. So is ons as gelowiges ook geroep om nie geweld en haat aan te blaas nie, maar eerder ons vyand skaam te maak vir hulle verkeerde gedrag teenoor jou. Dit is soos twee mense wat teen ‘n deur aan weerskante beur. Skielik staan die een persoon terug en die ander een bars deur die deuropening en beland op die vloer, tot sy eie skaamte.
In Spreuke 15: 1 staan daar in die 1983 vertaling: “ ’n SAGTE antwoord keer die grimmigheid af, maar ’n krenkende woord laat die toorn opkom.”

In Spreuke 25: 22 staan daar in die 1983 vertaling: “Die Here sal jou daarvoor vergoed, en jy sal jou vyand vuurrooi van skaamte laat word.” In Rom 12: 20 staan daar in die 1983 vertaling: “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte.”
Glimlag vir jou vyand.
Stuur blomme vir jou vyand.
Praat goed van jou vyande voor ander mense.
Doen goed aan jou vyand.
Soek die goeie in jou vyand en sê dit vir hom of haar.
Bevorder die belange van jou vyand.

Hoor die pragtige wysheid van Leo Tolstoj: “Betaal slegte mense met u goedheid; beveg hul haat met u vriendelikheid. Selfs as u nie ‘n oorwinning oor ander mense behaal nie, sal u uself oorwin.” – Leo Tolstoj

“I have but ons candle of life to burn, and I would rather burn it out in a land filled with darkness than in a land flooded with light” – John Falconer
Geliefdes moenie alles en almal probeer beveg nie. Dit dien geen doel nie. Spreek seën uit oor jou vyand, en jy sal deel in die seën wat jy oor hom of haar uitspreek.
Ons is geroep om vredemakers te wees. Dan sal ons kinders na aan die hart van God wees, soos Dawid ’n man na aan die hart van God was.
AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)