SKRIFLESING: Mat 2: 8 en 13 – 23
Mag korrupteer. Absolute mag korrupteer absoluut.
Herodus die Grote, tydens die geboorte van Jesus Christus is ‘n voorbeeld daarvan. Hy was ‘n gehate en genadelose despoot. Hy het soos ‘n Hitler, Stalin of een of ander gewetenlose Afrika leier opgetree. Hy het vir meer as 40 jaar regeer. Soos alle diktators het hy aan mag vasgeklou. Hy het sy swaer, sy skoonma en later ook sy vrou doodgemaak, omdat hy in hulle ‘n bedreiging gesien het. Herodus was ‘n moordenaar. Menslike lewe het vir hom niks beteken nie. In 7 vC het hy toe hy gehoor het, sy twee seuns span saam om hom van die troon te verwyder, het hy opdrag gegee dat hulle al twee doodgemaak moet word en dan ook spesifiek verwurg moet word.

Die Joodse geskiedskrywer Josefus het hom beskryf as ‘n barbaar. Hy was dan ook die bouer van die Tempel van Herodus, waarmee Herodus die Jode wou paai. Die tempel is in 70 nC verwoes deur die Romeinse regeerder Titus. Toe die wyse manne by Herodus navraag gedoen het oor die geboorte van die “Koning van die Jode” het hy en nie die ster hulle direk na Bethlehem gestuur, met die voorwendsel dat hy ook ‘n geskenk vir die Kind wil bring. Toe hy agterkom dat die wyse manne nie terugkom met die informasie wat hy verlang het nie, het hy al die seuntjies van twee jaar en jonger laat doodmaak. Hy wil die alleen koning en regeerder wees.
Ons kan onsself maklik van Herodus distansieer, asof daar nie in ons ook boosheid is nie. Maar eintlik is ons ‘n haarbreedte van Herodus.
‘n Klompie jaar gelede het ‘n Amerikaner ‘n artikel geskryf oor ‘n getuie in die verhoor van Adolf Eichman. Eichman was tydens die Tweede wêreldoorlog een van die meesterbreine agter die sogenaamde “Holocaust” van meer as 6 miljoen Jode.

Kort na die Tweede Wêreldoorlog is Eichman wat ontvlug het in sy afwesigheid verhoor. Tydens hierdie aanvanklike verhoor het Yehiel Dinur, wat die massadood vrygespring het, getuig teen Eichman. Jare later het in 1961 het spesialismagte van Israel vir Eichman in Argentinië gevang. Hy is weer verhoor en Dinur moes weer getuig. Toe hy vir Eichman in die hofsaal sien het hy flou geword. Was hy bang? Was dit haat of slegte herinneringe? Tydens ‘n TV onderhoud wat later gevolg het en die joernaliste vir hom die vraag gevra het, het hy verduidelik dat hy tydens die oorlog in absolute vrees geleef het vir die magtige man. Maar in 1961 in die hofsaal, toe Eichman gestroop is van sy mag het hy hom gesien vir die man wat hy was. “Gestroop van sy beeld van mag, was Eichman maar net ‘n gewone mens” het Dinur gesê. “En toe het ek meteens besef: Ek is ….. presies soos hy ….” Dit het hom laat flou word. Die rubriekskrywer se opskrif spreek boekdele: Eichman is in elkeen van ons.
Herodus is in elkeen van ons. Ons almal is geneig tot die sonde. Ons almal is geneig tot die bose. Ons almal is geneig om jaloers en lelik met mekaar te wees. Ons is geneig om mekaar in die rug te steek en onsself te bevoordeel ten koste van ander. Ons doen dit nou wel nie in die mate as wat Herodus en Eichman dit doen nie, want ons beskik nie oor hulle mag nie.
Mag maak mense lelik. Mag laat jou op ander mense trap. Mag korrupteer. Absolute mag korrupteer absoluut. Sien ons dit nie elke dag in die koerante van politici wat hulle hande oorspeel met korrupsie nie.
Die magspel in huwelike en gesinne, waar mans wil mag hê oor vrouens – wat ons patriargie noem. Of waar vrouens die mag wil hê oor mans – wat ons matriargie noem. Of waar ouers met mag hulle kinders wil beheer.
Die magspel in die werksplek, in die kerk, in die sportklub of in die organisasie. Ons noem dit klein politiek.
Mag maak mense lelik.
Maar dan kom Jesus in die wêreld, in die magtelose gestalte van ‘n Kind. Daar is ‘n Hillsong liedjie met ‘n bruggedeelte:
“You could have saved us in a second,
instead You sent a child”.
Jesus Christus se hele lewe en sterwe staan in die teken van magteloosheid. Hy het Homself ook met die magteloses in die samelewing kom assosieer. Hy het sy dissipels vermaan aan die eerste Nagmaalstafel, oor hulle so baklei om ereposisies aan die tafel. Daarom het Hyself die magtelose slaaf geword in Joh 13 en Sy dissipels se voete gewas. Jesus Christus was ‘n “servant-leader”.

Robert Greenleaf het in 1970 in sy artikel “The Servant as a Leader,” die term “servant leadership” as volg beskryf: “The servant-leader is servant first… It begins with the natural feeling that one wants to serve, to serve first.” Servant leadership flips the typical leadership script by putting people ahead of power.”
Dit is wat Kersfees vir ons wil leer. Om mag prys te gee. Verantwoordelikheid is nie dieselfde as “mag” nie. Niemand het “mag” oor iemand nie. Jy het slegs verantwoordelikheid teenoor ander mense. ‘n Polisieman het nie mag oor jou nie, hy het net ‘n verantwoordelikheid teenoor jou. ‘n Politikus het nie “mag” oor mense nie, hulle het net ‘n verantwoordelikheid teenoor mense. ‘n Man het nie “mag” oor sy vrou nie. Hy het net verantwoordelikheid teenoor sy vrou. ‘n Vrou het nie “mag” oor haar man nie. Sy het net ‘n verantwoordelikheid teenoor haar man. Ouers het nie “mag” oor hulle kinders nie, hulle het net ‘n verantwoordelikheid.
Dit is wat ons politieke leiers nie verstaan nie. Dit is waarmee ons almal sukkel.
Gee mag weg. Neem verantwoordelikheid op.
Herodus die Grote, met sy magsbewustheid het die magtige tempel van Herodus gebou, maar die tempel is in 70 nC deur Titus afgebrand en verwoes, dat nog net die klaagmuur oorgebly het. Jesus Christus het sy mag weg gegee en ons as gelowiges leef voort as tempels van Christus en die Heilige Gees.
Mag ons die ware gees van Kersfees verstaan en ons mag weggee en ons verantwoordelikheid opneem om “servant-leaders” te wees ook in 2021 en elke dag van ons lewe.
Amen
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)
Wonderlike geseende stigtende boodskap Mag God u ryklik seen
LikeLiked by 1 person
Wonderlike geseende stigtende boodskap Mag God u ryklik seen
LikeLiked by 1 person