SKRIFLESING: Mat 2: 1 – 12
God gee op ons lewenspad vir ons tekens, waarin Hy self aan ons verskyn. Dit vra ‘n geloofsoog om dit raak te sien, as komende uit die hand van God. God se tekens kan openbarend wees of geloofsversterkend wees. Ons glo mos in die Heidelbergse Kategismus dat God Homself openbaar deur die algemene en die besondere openbaring. Die algemene openbaring is deur die natuur, geskiedenis, besondere insidente of deur jou gewete. Die besondere openbaring is deur die Woord van die Here self.

In die Kers Evangelie het God ook in tekens verskyn. Hy het sy engel gestuur om die boodskap aan Maria en ook later aan Josef te bring. Die skaapherders het die teken gekry van ‘n engelekoor wat die boodskap van Jesus se geboorte gebring het. Die wyse manne (sterrekykers) het die teken van die Betlehem ster gehad, om hulle te bring tot die Jesus kind. Wat belangrik is, is dat ‘n mens altyd tekens moet evalueer aan hand van die Woord. So het die sterrekykers hulle dokumente geraadpleeg en Herodus het opdrag gegee dat die skrifgeleerders die Joodse dokumente moet raadpleeg. Die algemene openbaring, word altyd getoets aan die besondere openbaring, naamlik die Woord van God.
‘n Mens kan jou maklik mislei en dink dat jy nou ‘n teken van God gekry het, om van jou vrou te skei om met ‘n ander een te trou. Dan was dit eerder ‘n versoeking van die duiwel, want die Woord sê jy mag nie owerspel pleeg nie. Toets altyd tekens, of dit ooreenstem met die woord van God.
Die Bybel is vol tekens wat God uitstort om rigting en boodskappe vir mense te stuur. Noag het die teken gekry, van die duif met die olyftakkie wat terug gekom het na die ark. Dit was ‘n teken dat die vloed besig is om op te klaar. Moses het by die brandende braambos gekom en dit was die teken dat God regtig met Moses praat en hom roep om sy volk uit Egipte te lei. Die tien plae was tekens aan die Farao om sy volk te laat trek uit Egipte, maar telkens was hy Farao daaraan ongehoorsaam. In die woestyn was die kwartels, die manna, die wolkkolom, die vuurkolom, die water uit ‘n rots en nog vele tekens van God se troue sorg. Hiskia het ‘n teken gevra, dat God hom sal gesond maak. Toe het God die skaduwee tien trappe laat afsak teen die trappe van Agas. Die hele Ou testament is vol honderde tekens van God, van God se besondere bemoeienis met sy volk Israel. Daarom gebruik die profete ook baie metafore (beelde) wat dien as tekens van die Here se oordeel en verlossing.

Die Nuwe Testament is ook nie anders nie. Daar staan deur wondertekens het Jesus Christus Homself openbaar as die Seun van God. Die opgevoude doeke in die graf was ‘n teken van sy fisiese opstanding uit die dood. Ook die apostels het wondertekens gedoen, om die vroeë Christelike kerk te vestig. Die Nuwe Testament praat ook van die tekens van die Wederkoms wat ons sal sien.
Die sakramente, die doop en die Nagmaal is ook heilige tekens dat God by ons teenwoordig is en ons in die geloof wil versterk. Luther het in tye van aanvegtinge, terug gedink aan sy doop, as teken dat God by hom is. Daarom het hy die duiwel met die inkpot gegooi.
Daarom openbaar God Homself gedurig deur tekens aan die mens. Wanneer jy vir ‘n betrekking aansoek doen en jy kry dit nie, is dit ‘n teken dat God se wil vir jou anders is. Wanneer jy wel die betrekking kry, kan jy weet dit is God se wil. Daarom as jy vir ‘n pos aansoek doen, vra jy as’t ware dat God vir jou die teken moet gee of dit Sy wil is. Wanneer mense ‘n liefdesteleurstelling ervaar, is dit ‘n teken dat God vir jou iemand beter in die vooruitsig bespreek het. Daarom werk God deur die alledaagse gebeurtenisse in ‘n mens se lewe.
Ek onthou toe ons as gesin eenkeer van Bloemfontein terug gekeer het na Strydenburg was ek oor baie dinge besorg gewees. Tien kilometer buite Strydenburg het die mooiste reënboog gespan gewees oor die dorp en die kerk. Toe weet ek, God is met ons.
Eenkeer in Adelaide se pastorie se studeerkamer was ek onder verskriklike aanvegtinge, oor wat God se wil vir my is. Ek kon die heelnag niks slaap nie. Hier teen 4 uur die oggend tel ek die Apokriewe Ou Testament wat daar rondgelê het op en slaan sommer moedeloos by ‘n plek oop. Presies op daardie plek, waar my oog vang, kry ek die volmaakte antwoord op my geloofsaanvegting. Dit het vir my so rêrig gevoel, dat ek in die kamer gekyk het of ek nie die Here sien nie. Ek het toe rustig aan die slaap geraak.
Somtyds is ‘n mens amper in ‘n motorongeluk en dan beskerm God jou op ‘n ongelooflike wyse. Dan dien dit as ‘n teken van God se sorg en trou. Dikwels ervaar mense kontantvloeiprobleme, wat hulle wakker laat lê. Dan word ‘n mens verras hoe God elke dag die regte hoeveelheid kwartels en manna voorsien.
Die lewe is vol tekens van God se troue sorg. Dikwels ervaar kankerlyers en mense wat swaarkry, die Goddelike tekens baie spesifiek wat vir hulle moed gee op die pad vorentoe.
Martin Luther het beleef en geskryf, dat ‘n mens God leer ken op 4 maniere, naamlik deur die Woord, die gebed, meditasie en die ervaring van Sy tekens.
Die Wesleyaanse vierhoek praat van die vier pilare waarop Goddelike openbaring rus, naamlik die Skrif, die tradisie, die rede en dan ook die ervaring.

Mense moet oor hulle ervaring van God praat. Daar staan in die Kersevangelie dat die herders gegaan het en vertel wat hulle gesien en gehoor het. Die wyse manne het ook weer rondgegaan en oral navraag gedoen van hulle ervaring van die sterre en die antieke dokumente.
Deel jou ervarings van God, met ander. Daardeur bemoedig jy hulle in die geloof.
Mag ons ook in die Kersfeestyd vertellers wees van ons ervarings met God en van die wonderlike tekens wat God ook in die afgelope jaar vir ons gegee het van Sy troue sorg en liefdevolle bemoeienis met ons.
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)
Ek wil graag weet of die Here met ons praat deur drome. Is dit moontlik dat Hy vir my laat droom oor mense sodat ek hulle kan waarsku om bv.nie sekere paaie te ry, nie naby krag moet gaan op spesifieke dae nie, en vooruit kan weet wat gaan gebeur by sekere funksies of samekomste waar families betrokke is. Of is dit uit die bose. Die drome is soms deurmekaar en word waar en soms is dit duidelik .
LikeLike