Die reuk ………


SKRIFLESING: Luk 2:8 – 20

Wanneer ‘n baba gebore word, sien die naby familie en vriende heel eerste die nuweling. Dit gaan met groot vreugde gepaard. Die familie het groter geword.

Die eerste genooides in Luk 2 na Jesus se geboorte was skaapherders. In godsdienstige kringe is hulle dikwels as onrein gesien. Die destydse herders is nie eens as getuies in ‘n Joodse hof toegelaat nie. Die openbare beskouing van skaapherders was dat hulle diewe en bedrieërs was, omdat hulle dikwels sonder toestemming met hulle skape oor ander mense se eiendom getrek het. Dikwels het hulle ook hul skape op ander mense se veld laat wei. Soos ons hier in die Oos Kaap kwaad is vir die herders wat hulle vee, die dorp injaag om mense se blomme, plante en bome te verslind. Baie van die skaapherders in die Bybel was voortvlugtend vir die gereg en het maande en weke in die veld en woestyn gebly en saans as dit donker is om die vuur gesit het. Hulle het van vuurrook en skape geruik. Hulle was onwelriekend en ongewild. Skaapherders was van die laagste klasse in die Joodse samelewing.

‘n Mens kan jou net indink hoe die skaapherders nie geskrik het toe hulle die engelekoor gehoor nie. Toe hoor hulle die goeie nuus dat Christus die Here daardie dag vir hulle gebore is in Bethlehem. Die teken wat hulle gekry het was ‘n baba wat in doeke toegedraai in ‘n krip lê. Verbeel jou die reuk en die speeksel van diere in ‘n diere krip, omdat daar geen ordentlike huisvesting vir Hom was nie. Ons sou vandag die Kinderbeskermingsvereniging of die Welsyn gebel het. Kom verwyder die kind, die toestande is swak. Die prentjie lyk nie reg nie.

Vir ons maak die prentjie nie sin nie, sê Stephan Joubert. Maar vir die herders het hierdie prentjie sin gemaak. Dit was húlle Verlosser. Hy het hulle reuk aangeneem, skryf Stephan Joubert.  Hy het opgedaag in ‘n wêreld wat vir hulle bekend was. Dit was aan die anderkant totaal onbekend vir die rykes en vooraanstaandes en vir die vroom godsdienstiges.

Jesus se vreemde aankoms, verklap wat was sy doel, waarom Hy gekom het na hierdie wêreld. Hy het gekom na mense aan wie die onwelriekende reuk van sonde gehang het. Dit is die Evangelie. Maar toe het die kerkgeskiedenis Hom toegeverf in romantiese Kerskaartjies, waarin Hy geverf is as ‘n adellike babatjie, omring deur heiliges en edelmanne.   

Jesus Christus is die groot Soeker. Ons is soos Adam en Eva, mense wat wegkruip vir God.  Daarom skryf Stephan Joubert so treffend: Ons is nie “seekers” soos wat sommige soeker-sensitiewe kerke glo nie; ons is “hiders”. God se Kind is die Groot Soeker. Hy bly op ons spoor, totdat Hy ons inhaal.

Daarom het Jesus gekom vir die stukkendes, die verlorenes, randfigure, afgeskryftes, eensames, sondaars en vir almal wat die reuk van sonde in hulle eie lewe ruik. Die tragedie is dat die mens nie altyd sy eie stank en reuke kan ruik nie. Jy kan nie jou eie asem ruik nie. Daarom sukkel ons so om ons eie sonde te ruik. Ons ruik maklik ander mense se sonde. Daarom moet die Heilige Gees ons ‘n bewustheid gee van ons eie sondige reuke.

Die skaapherders het besoek gebring by die Kind, wat later die “Goeie Herder” sou word. Hy sou word die Goeie Herder, waarvan koning Dawid, honderde jare tevore van gedig het in Psalm 23. Hy het die goeie Herder geword wat Sy skape by die naam ken. Hierdie Herder sou ook later Sy lewe vir Sy skape aflê. In Esegiël word geskryf van die slegte herders, naamlik die politieke en godsdienstige leiers wat die volk uitgebuit het. Dan word voorspel van die goeie Herder wat kom, om die wat mank en siek en kruppel en uitgestoot is op te tel en na veiligheid te dra.

Daarom gaan Kersfees oor weerloosheid en broosheid. Kersfees gaan oor om te gee. Kersfees gaan oor om uit te reik na ander mense wat weerloos is.

Mag u en ek ook in die Kersfeestyd, met die reuk van sonde wat aan ons kleef opnuut verwonderd staan voor die krip in Bethlehem.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s