Onthou om te onthou


SKRIFLESING: Jer 2: 1 – 13

Ons almal vergeet. Ons vergeet baie dinge. Dit is natuurlik onvergeeflik as ons ons geliefdes se geboortedatums of troudatums vergeet.

Maar ons vergeet van God ook dikwels. Deur die eeue is dit die kwaal van die mensheid. Mense vergeet van God as dit te goed gaan. Wanneer dit sleg gaan, kan mense dikwels verbitterd word en ook van God vergeet.

Die volk Israel het in Egipte en in die woestyn vir 40 jaar, baie naby aan God gebly. Toe hulle vasgevang was tussen die Rooi See en die magte van Farao, het die Here vir hulle die Rooi See oopgemaak. In die woestyn het Hy vir hulle elke dag kwartels en manna gegee. Net genoeg vir een dag op ‘n slag, sodat hulle afhanklik van God kan bly. Elke nag het ‘n vuurkolom voor hulle uitgegaan om vir hulle lig en beskerming te bied. In die dag was daar die wolkkolom wat vir hulle koelte en lafenis gegee het teen die felheid van die woestynson.

Toe trek hulle die beloofde land binne. Dit gaan goed. Hulle het gearriveer. Skielik was hulle in ‘n gemaksone. As jy in ‘n gemaksone is vergeet jy gou van die Here en van jou afhanklikheid aan hom.

Party mense sal sê om van God somtyds te vergeet is nie so erg nie. Almal vergeet mos.

Elizabeth Achtemeier skryf egter: “Geen mens kan in ‘n aanbiddingsvakuum lewe nie. As jy van God vergeet, soek jy vir jou plaasvervangers vir God. Dit is soos ‘n getroude persoon wat owerspel pleeg, jy soek anderkant die draad vir jou ‘n nuwe minnaar.

Jeremia skryf in Jeremia 2: 10 dat die volk fonteine van lewende water verruil vir opgaarputte wat gebars is. Hierdie opgaarputte, was gewoonlik ondergrondse putte wat uit die ondergrondse klip gekap is. Hierdie putte is gewoonlik gebruik vir graan of vir water. Omdat klip maklik bars, het die water in so ‘n opgaarput maklik deur die barste weggesyfer. ‘n Opgaarput moes gekap word. Dit het menslike aksie en werk gevra. Fonteine weer het van nature opgeborrel. Jy hoef niks te doen nie. Die Here gee dit vir jou.

Netso ondenkbaar is dit dat die volk Israel die Here se versorging (fonteine van lewende water) verruil vir opgaarputte wat hulle self moet uitkap. Die lewende fonteinwater is gewaarborg, terwyl die mensgemaakte versorging (opgaarputte) se water lek.

Dikwels lei welvaart tot geheue verlies. Dit gaan oor “Cars, Cells and Cash.” Of soos Foster sê : “Sex, money and power.” Dit is ons opgaarputte. Ons wil opgaar, maar dit lek eenvoudig weg, soos die water deur die opgaarputte se barste lek.

Christene het egter ‘n geweldige diep tradisie van “om te onthou om te onthou.”

Dit is ‘n tradisie van onthou en oorvertel, sodat ons God nie vergeet nie. In die Ou Testament het die Jode gebedsrieme gehad, waarmee hulle die Torah vasgebind het aan hulle voorkoppe. Die besnydenis as verbondsteken het hulle help onthou dat hulle in ‘n verbond met die lewende God sien. Hulle is elke dag daaraan herinner as hulle na hulle liggaam kyk. Dan het die Jode natuurlik ook die weeklikse Pasga gehad, om hulle te help onthou dat die Here hulle uit Egipte uit die plek van slawerny gelei het.

In die Nuwe Testament lees ons van die Here Jesus se hemelvaart. Iemand wat weggaan word dikwels na ‘n tyd vergeet of die herinneringe vervaag. Maar dit is nou meer as 2000 jaar later en die Here Jesus Christus word nog elke Sondag en weeksdag aanbid oor die wêreld. Die Here Jesus het ons nie as weeskinders agter gelaat nie. Hy het Sy Heilige Gees vir ons gestuur om elke dag met ons te wees. Hy het vir ons die kerk gegee, as die gemeenskap van gelowiges, sodat ons mekaar kan help herinner aan die Here Jesus se werk. Hy het vir ons die Woord gegee, sodat ons kan ONTHOU van die heerlike werk van God Drie-Enig. Daarom is ons vanoggend vreugdevol, want ons het ‘n nuwe 2020 Direkte Afrikaanse Bybel ryker geword, sodat die Bybel ons kan help om God se groot dade te onthou.

Martin Luther het gesê: “The Bible is a remarkable fountain, the more one draws and drinks of it, the more it stimulates thirst.” Elke Sondag in die erediens word ons gehelp om te onthou van God se grootste werk. Die sakramente van doop en Nagmaal is ook tekens wat ons laat onthou en herleef. Dit alles is aan ons gegee, sodat ons nooit sal vergeet nie.

Daarom help die Woord ons om oor te vertel. Ons moet oorvertel, oorvertel en oorvertel van geslag tot geslag, sodat ons sal onthou om te onthou.

Mag die nuwe 2020 Direkte Afrikaanse vertaling ons help om te onthou!

As jy van God vergeet, dan sal jou gebarste opgaarputte lek. Jy sal droogte in jou lewe ervaar. God sal van jou wyk. Maar as jy onthou dat God die fontein van lewende water is, sal jou gees self ook ‘n fontein van lewende water wees.

Die Woord help om om te onthou van God se ryke seëninge. Jy kan dit lees in jou eie Afrikaanse Bybel in idiomatiese Afrikaans.

Die Here het ons geseën met die nuwe Bybelvertaling.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s