Ek moet soos ‘n kindjie, klein word ……


 SKRIFLESING: Mark 9: 33 – 37 en Mark 10: 13 – 16

Die moderne mens het te groot vir sy skoene geraak. Ons dink so maklik groot oor onsself. Ons lei aan dieselfde grootheidwaansin waaraan Eva in die paradys en die dissipels aan die eerste Nagmaalstafel gelei het.

Die slang het mos aan Eva gevra of sy graag so groot soos God wou wees. Indien sy soos God wou wees moes sy net van die verbode vrug eet. En sy het geëet. Die dissipels het weer daar aan die eerste Nagmaalstafel gewonder wie van hulle is die grootste. Wie sal in God se nuwe koninkryk aan sy regterhand en wie aan sy linkerhand sit.

Die modern mens wil ook groot wees, sonder om God of sy medemens in die oë te kyk. Ons is so groot in ons eie oë dat ons ons gebedslewe verwaarloos, ons het God nie meer regtig so nodig nie. Ons probeer ook, ons elke dag te handhaaf teenoor ons medemens. Bidloosheid en selfhandhawing is simptome van mense wat aan ‘n grootheidswaansin lei, wat groot oor hulleself dink.

Ons moet weer klein word, soos ‘n kindjie, klein. Wat bedoel die Here Jesus as Hy sê dat ons soos ‘n kindjie die Koninkryk van God moet ontvang?

In die antieke wêreld was ‘n kind se waarde bitter gering. ‘n Kind se kans om 16 jaar oud te word was maar 4 uit 10 gewees. ‘n Pa het ook eers met geboorte besluit of hy die kind gaan aanvaar of nie aanvaar nie. Het hy die kind aanvaar, het hy die kind in sy arms geneem as teken van aanvaarding. Het hy die kind nie aanvaar nie, het hy doodgewoon sy rug op die moeder gedraai. Veral dogtertjies is dikwels nie aanvaar nie.

Sulke onwelkome babas is dan ook dikwels op ashope neergesit. Kinderlose egpare het gereeld op die ashope rond gesoek vir babas wat weggegooi is, in die hoop dat hulle by die babas kom, voordat die jakkalse hulle draai gemaak het. Kinders is ook dikwels verkoop as slawe om armoede of skuld af te skryf.

Selfs in die Joodse wêreld is kinders nie veel gereken nie. Daar was geen handves van kinderregte gewees nie. Veral dogters het min getel in die Joodse wêreld. Daarom het hulle dan ook dikwels die seënbede: “Die Here sal jou seën en jou beskerm ….” uitgelê dat die Here jou moet seën met seuns en jou moet beskerm teen dogters. Hier was seuns se waarde hoofsaaklik soos ons versekeringspolisse deesdae: hulle moes vir jou sorg op jou oudag.

Die kinders na wie Jesus in ons teksgedeelte verwys, was nie pienkgeskropte, stroopsoet onskuldige kinders wat na Elizabeth Ann’s se babapoeier geruik het nie. Nee, die kinders in die antieke tyd was dikwels vuil en verwaarloos. (Dink maar hoe die kinders vandag nog in die Arabiese wêreld daarna uitsien.) Verder was die kinders totaal magteloos, totaal afhanklik van die liefde en versorging van die grootmense. Hulle was totaal en al sonder enige regte. Dit is hoekom die dissipels met die ma’s raas wat wil hê dat die Here Jesus hulle kinders moes seën. Dit was in die oë van die dissipels ‘n vermorsing van die goeie rabbi se tyd en energie.

In hulle eie oë het die dissipels gedink hulle is konings, hulle het hulle self reggemaak vir ereposisies. Daarom bring die Here Jesus vir hulle grond toe en sê hulle moet soos hierdie kinders word. Die Koninkryk is vir mense wat klein is.

Kinders moet op stoele staan om by te kom. Kinders moet gedurig opkyk na grootmense. Kinders kan nie na hulle self kyk of vir hulleself sorg nie. Kinders is heeltemal aangewese op grootmense. Kinders leef uit die hande van hulle ouers.

Vir sulke mense is die Koninkryk van God bedoel, vir sulke mense wat weet hulle is klein. Eers as ek klein is, weet ek hoe geweldig afhanklik ek is. Eers as ek klein is, weet ek hoe ontsaglik nodig ek vir God het. Eers dan besef ek, dat ek nie ‘n dag sonder God kan leef nie. Vir sulke mense is die Nagmaal daar. Dit is vir mense wat honger en dors na God, nie vir hulle wat net so ‘n bietjie lus is vir godsdiens nie. Nagmaal is vir mense wat honger na die brood van die lewe en wat dors na die lewende water.

Ja, om in God se Koninkryk in te gaan moet ek klein word soos ‘n kind, soos ‘n skoothondjie wat leef van die krummels wat van die baas se tafel afval.

As ek weer geleer het om klein te word, kan ek skielik weer bid en skielik word dit nie meer vir my so nodig om myself te wil handhaaf nie. Ek leer weer die krag van gebed en ek leer dat God vir my sorg en daarom is selfhandhawing onnodig.

Paulus sê mos as ek sterk is, is ek eintlik swak, maar as ek swak is, is ek eintlik sterk. Ja, as ek groot is, is ek eintlik klein, maar as ek klein is, is ek eers regtig groot.

Christus het in sy lyding klein geword, daarom kon Hy so kragdadig in Getsemané bid en het Hy hom nie gehandhaaf voor Judas, voor die soldate, voor Pilatus en voor Herodus nie. Hy het Homself nie gehandhaaf nie, sodat ons uit sy verlossing kan leef.

Jesus Christus het ook klein geword in Sy lyding, sodat Hy die wêreld kon red van sonde. Daarom getuig die brood en die wyn van Sy lyding, sodat ons verlos kan wees.   

Gaan word klein in hierdie wêreld en dan kan God vir u en my kragtig gebruik.

Here, ek wil ‘n kindjie, klein wees ……

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s