SKRIFLESING: Luk 7: 29 – 35
Ons word groot gemaak om nie vir ander mense aanstoot te gee nie.

Selfs al is jy reg en die ander een verkeerd, hou jy liewer jou mond …… want ‘n mens wil mos nie aanstoot gee nie. As iemand vloek, bly ons stil. As iemand sondig, help ons hom of haar nie reg nie. Ons “click” ook net met die mense wat in die openbaar by ons status pas. Ons wil geen aanstoot gee nie. Ons wil nie hê, mense moet van ons praat nie. Ons volg die pad van die minste weerstand.

Ons sê niks of doen niks wat dalk vir ‘n ander een aanstoot kan gee nie. Eintlik speel ons dan kerk-kerk. Juis daarom het ons ‘n stilswyende kerk geword. ‘n Niksdoende kerk, want ons wil nie in die wêreld daarbuite aanstoot gee nie.
Ons tugtig ook nie meer mense in die kerk nie, want netnou neem hulle ons hof toe.

Jesus was anders gewees. Hy het gesê wat Hy wil. Hy het gedoen wat Hy wil. Hy het gemeng met mense wie Hy wil. Hy het Hom geensins gesteur aan die openbare opinie van mense nie. Op hierdie Sondagoggend wil die Here vir ons oproep om op te hou om te probeer om altyd gewild te wees of in tel te wees of om by almal aanvaarbaar te wees. Jy moet eerder guns vind in die oë van God as guns in die oë van mense.
Dan vergelyk Jesus Christus homself met Johannes die Doper. Hulle albei het dieselfde Evangelie gebring. Maar met al twee het die mense fout gevind.

Johannes die Doper was die eksentrieke profeet gewees wat snaaks aangetrek en vreemd geëet het en in die woestyn gebly het. Hy het klere gedra wat van kameelhare gemaak is met ‘n leergordel om sy heupe. Hy het van sprinkane en veldheuning geleef. God het vir Johannes die Doper gestuur om ‘n treurliedjie te sing, sodat die mense van sy tyd moes huil oor hul huigel godsdiens. Daarom was die tema van Johannes die Doper se preke altyd: “Bekeer julle, skeur julle klere want die Koninkryk van God het naby gekom!”
Johannes die Doper se preke het as voorbereiding vir die Here Jesus se koms gedien. Johannes die Doper wou hê dat mense hulle sonde moes raaksien, daaroor berou moes ontwikkel en sodat hulle die nodigheid van ‘n Verlosser kon insien. Daarom wil die Here hê moet ons treur en huil as ons ons eie sonde en die sonde van die wêreld raaksien. Die kerk van Johannes die Doper se godsdiens was dus dat die mens moet huil oor sy sonde.
Die Here Jesus het egter die lag en bly-wees kant van die Evangelie gebring. Hy het vir my sondes gesterf en daarom kan ek bly wees. Die Here Jesus het mos gesê: “Kom na My toe almal wat moeg en oorlaai is.” Hy het gesê dat Hy die lewende water en die brood van die lewe is.
Johannes die Doper het die huil-kant van die Evangelie gebring en Jesus Christus het die bly-kant van die Evangelie gebring. Tog was die mense met al twee se preke ongelukkig.
Johannes die Doper het gekom en nie brood geëet of wyn gedrink nie, en julle sê: “Hy is van die duiwel besete.” Die Seun van die mens het gekom, geëet en gedrink en julle sê: “Kyk daar, ‘n vraat en wynsuiper, ‘n vriend van tollenaars en sondaars.”

Ware verkondigers van die Woord beland altyd in die diep water. Johannes die Doper se kop is afgekap. Jesus Christus is aan ‘n kruis dood gespyker. Petrus is onderste bo gekruisig. Stefanus is gestenig, die vroeë Christene is vir leeus gegooi of met pik besmeer en aan die brand gesteek. Die kerkhervormers het al singende op brandstapels gesterf. Johan Heyns die groot profeet van die NG Kerk is doodgeskiet voor sy eie vrou en kleinkinders.
Ons kan dankbaar wees dat die Here Jesus nie die predikant van Adelaide of die moderator van die kerk is nie. Hy sou uiters ongewild gewees het. Ons sou hom ook uitgedryf uit ons dorpie of uit ons kerk, soos die mense van Nasaret met Jesus gemaak het. Want sien, Jesus draai nie doekies om nie. Hy praat die waarheid, maak nie saak wat die openbare opinie is nie. Jesus was nie skaam gewees om aanstoot te gee nie.

Die ware Jesus Christus is geen romantiese, gewilde of hoogs aanvaarbare Persoon gewees nie. Nee, Hy het die mense die hel in gemaak. Hy het tafels omgegooi by die basaar en mense sonder skroom skynheilig of witgepleisterde grafte genoem op die trappe van die sinagoge.

Daarom sê die Here dat die mense maak soos die kinders op die markplein. Sommige is vrolik en speel op die fluit. Dit verwys na Jesus Christus se vrolike omgang met sondige mense. Hy het saam met hulle geëet en gedrink en hulle sy vriende gemaak. Maar die kinders het nie gedans nie, die mense in die tyd van Jesus was daaroor ongelukkig en daarom het hulle vir hom skelwoorde toegesnou.
Die kinders wat weer ‘n treurlied gesing het, verwys na die bekeer-boodskap van Johannes die Doper. Maar daaroor was die mense ook nie tevrede gewees nie. Daarom staan daar julle (die kinders) het nie gehuil nie.
Die mense wil nie lag nie, hulle wil nie huil nie, hulle is met alles in die Evangelie ontevrede.
Ons neem so gou aanstoot oor ‘n preek of oor ‘n gebeurtenis in my lewe, dat ons so maklik, ons nie steur aan Sy waarskuwings nie. Ons herken nie Sy hand in ons lewe nie. Ons verstaan nie Sy stem as Hy met ons praat nie.
Ons is soos kinders, wat dink die Evangelie is ‘n spel. As die spel, die Evangelie nie volgens my reëls is nie, dan ruk ek my op en speel nie saam nie. Dit het deur die eeue die kerk ligsinnig en oppervlakkig gemaak.
Ons lewe word maklik in beslag geneem deur beuselagtigheid, deur minder belangrike dinge. Ons is soos kinders wat nog stry of ampsdrag nog nodig is, wie aan die Nagmaalstafel mag aansit, wie welkom in ons eredienste is, hoeveel liedere gesing moet word en hoe lank die erediens moet wees ensovoorts.
Maar die wesenlike, die verspreiding van die liefde en barmhartigheid van God na ‘n stukkende verloor gaande wêreld gaan by ons verby.
Dirkie Smit sê: “God openbaar God self deur die eenvoudige, verborge gedaante van die Woord wat ons lees, deur die verkondiging van die eenvoudige, deur nie indrukwekkende predikers waarna ons luister, mensies uit die stof, noem Calvyn hulle. God openbaar Hom deur ouderlinge en diakens wat ons besoek, mense wat ons so goed ken, deur die getuienisse van gewone mede-Christene in die skole, by die huis, by die werk, deur die tekens van brood en wyn wat ons eet en drink, deur die naaste in nood wat op ons lewenspad verskyn, en ons harte aangryp …… Meer hoef ons nie te verwag nie. Meer gaan ons nie ontvang nie. So roep God ons, om Sy kerk in die wêreld te wees. So werk Sy Evangelie. So kom Sy ryk.
Kom ons hou op om ons te steur aan die openbare mening van mense. Daar sal altyd dié wees wat mor en klae en soos die kinders in Luk 7 sal maak. Daar sal altyd die wees wat kerk-kerk wil speel.
Kom ons verlang eerder om God se volle waarheid onvervals te verkondig en uit te leef. Getuig van die Here, leef vir die Here ……. al beteken dit dat jy vir sommige mense aanstoot gee. Verlang u om gewild by God of gewild by mense te wees. Waarna verlang u? AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)