God gee vir ons vriende …….


SKRIFLESING: Spreuke 6: 16 – 19, Spreuke 13: 20,  Spreuke 16: 28, Spreuke 17: 17 en Prediker 4: 9 – 12

Ons ken almal die portret of die skildery van die biddende hande. Dit hang in ons huise, dit is op boekmerke en kom selfs dikwels op begrafnisbriewe voor. Maar ken u die geskiedenis van die agtergrond van die biddende hande? Die oorsprong van die biddende hande, lê opgesluit in die verhaal van ‘n aangrypende vriendskap tussen twee vriende.

Aan die einde van die 15 de eeu het twee leerjongens, Hans en Albrecht in die houtsneebedryf in Frankryk studeer. Albei wou baie graag ook in die skilderkuns gaan studeer, maar nie een van die twee het geld gehad nie. Hulle besluit toe op die volgende oplossing. Een van hulle sal eers gaan werk en genoeg geld maak sodat die ander een van die inkomste kan studeer.

Wanneer die eerste een dan klaar gestudeer is en ryk en beroemd geword het, sal hy weer geld voorsien vir die ander om te studeer.

Die vraagstuk was natuurlik net: Wie sou eerste gaan studeer? Uiteindelik het hulle ‘n geldstuk opgeskiet om te besluit en Albrecht het gewen.

Terwyl Albrecht in Venesië gaan studeer het, het Hans as ‘n grofsmid gaan werk. Elke maand wanneer hy sy salaris gekry het, het hy ‘n groot deel daarvan vir sy vriend se studies aangestuur.

Die maande het jare geword en uiteindelik was Albrecht behoorlik gekwalifiseer. Hy het na Duitsland, sy geboorteland teruggekeer en as meesterskilder begin naam maak. Nou was dit sy beurt om sy vriend Hans finansieël te help met sy studie.

Die twee het ‘n blye weerontmoeting gehad, maar toe Albrecht na sy vriend se hande kyk, het hy trane in sy oë gekry. Toe eers kon hy werklik die omvang van sy vriend se opoffering begryp. Die baie jare van brute handearbeid as grofsmid het Hans se sensitiewe hande gekneus en vol eelte gelaat. Sy hande was nou so grof, dat dit nooit weer die fyn kwas van ‘n skilder sou kon hanteer nie.

Die dag toe hy aan sy vriend die skildery van die “biddende hande” oorhandig, het hy nooit geweet dat die simbool van vriendskap en opoffering, eendag aan miljoene mense oor die wêreld heen bekend sou raak as ‘n simbool van gebed nie.     

In nederige dankbetoon vir die jare van opoffering wat dit vir hom moontlik gemaak het om ‘n groot skilder te word, het Albrecht Dürer ‘n portret geskilder van sy vriend Hans se beskadigde hande – die hande wat so hard en so getrou gewerk het sodat Albrecht sy talent kon ontwikkel.

Henry Wadsworth Longfellow sê: “ Hoe onvergelyklik goed voel dit om die bekende hand van ‘n getroue vriend in jou eie te neem!”

 Vriende speel ‘n geweldige belangrike rol in ‘n mens se lewe. Sonder vriende is ‘n mens inderdaad arm. Natuurlik kan vriende jou bou of vriende kan jou afbreek. Juis daarom waarsku Salomo in die boek Spreuke vir ons om die onderskeid te ken van goeie en slegte vriende. Goeie vriende bou jou en slegte vriende breek jou af.

Een slegte tamatie steek die hele kissie aan en al die tamaties word vrot. ‘n Slegte vriend kan jou afbreek, maar ‘n goeie vriend kan die beste in jou na vore laat kom.

Salomo waarsku in Spreuke 6: 16 – 19 veral vir ons van sewe eienskappe in vriende wat God haat en waarvoor ons moet oppas:

  • Oë wat straal van hoogmoed (Ek is beter as jy.)
  • ‘n Tong wat lieg. (Vriendskap ken net die waarheid, nie leuens nie.)
  • Hande wat met bloed bevlek is. (Om iemand te oorheers, te manipuleer.)
  • Gedagtes wat met komplotte besig is. (Dinge agter jou rug te doen.)
  • Voete wat net een koers ken, die van die kwaad. (Met verkeerde goed besig is wat teen die gewete indruis.)
  • ‘n Getuie wat lieg. (Skindertong … ken geen vertroue nie.)
  • Iemand wat rusie stook tussen broers. (Humeurige mens wat gou kwaad word.)

Die vriend wat by jou skinder, sal van jou ook skinder. Die vriend wat nie skinderstories by jou aandra nie, sal ook nie van jou skinder nie.

Al my woorde moet van liefde getuig. Daarom moet ek ook kan stilbly oor die kwaad in my vriend se lewe. 1 Kor 13 sê mos dat die liefde bedek alles, ook my vriend se foute.

My vriend moet op my vertroue kan reken. Daar is niks wat so seer maak as ‘n mens se vertroulikheid geskaad word nie. My vriend se geheime moet by my veiliger wees as die goud in die reserwebank.

Ons almal het vriende nodig. Die modern samelewing maak dat ons dikwels so gejaagd is dat ons verleer om vriende te wees vir mekaar. Ons jaag so na wind, dat ons verleer het om te kuier. Daarom lewe ons in die era waarin die mens nog nooit so alleen gevoel het as juis in hierdie tyd nie. Die modern tegnologie maak ons net nog eensamer.

Hoe stadiger die vervoermiddels is, hoe meer het mense by mekaar uitgekom. In die outyd het die oumense al langs die pad van die plaas tot in die dorp gekuier. Op pad terug plaas toe het hulle ook weer al langs die pad terug gekuier. So ‘n tog kon maklik oor 3 dae strek.

Natuurlik moet ‘n mens nooit kla en sê ek is alleen nie. Die vraag is of ek ‘n vriend vir ‘n ander een is? Ralph Waldo Emerson sê: “Die enigste manier om ‘n vriend te hê, is om ‘n vriend te wees.” In ons wyke het ons juis ‘n besondere geleentheid om na mekaar uit te reik.

Natuurlik moet ‘n mens jou op ‘n vriend kan reken soos die volgende verhaal aantoon: “Luitenant, my vriend het nie uit die gevegsone teruggekeer kamp toe nie. Ek dink hy is gewond. Ek vra verlof om hom te gaan haal” “Versoek geweier, manskap. Ek wil nie hê een van my manne moet hulle lewe onnodig in die gevaar stel nie. Die kanse dat jou vriend nog lewe, is byna nul.” Maar die soldaat het die bevel verontagsaam en tog sy vriend op die slagveld gaan haal. Op pad terug, met sy kamaraad se dooie liggaam in sy arms, word hyself dodelik gewond.

Die offisier was woedend. “Ek het  jou mos gesê jou vriend is dood. Nou het ek julle altwee verloor! Maar sê vir my (gaan hy met ‘n bietjie deernis voort) was dit die moeite werd om jou lewe te waag, net om ‘n lyk uit te bring?” Die sterwende soldaat se antwoord was: “O, ja Luitenant! U sien, toe ek by hom kom, het hy nog gelewe. Toe sê hy vir my: Ek was seker jy sou kom.”

Epicurus skryf: “Dit is nie werklik ons vriende se hulp wat ons help nie, maar die rustige wete dat hulle ons sal help ….”

Daar is natuurlik altyd die mooiweersvriende, maar daar is ook vriende wat tot in die uiterste by jou sal staan. Soos Cicero gesê het: “In goeie tye ken ons vriende ons; in slegte tye ken ons ons vriende.”

Die Prediker sê: “Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val, kan die ander hom ophelp.”

Jesus Christus is ons grootste Vriend. Soos die ou Gesangevers wat lei: “Wat ‘n vriend het ons in Jesus.”

AMEN  

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s