God se reis begin met klein stappies ……


SKRIFLESING: Mat 13: 31 – 33

Die bose begin altyd groot en die goeie begin altyd klein. Die Satan wil altyd met die groot goed begin. So het hy vir Eva in die begin verlei, deur vir haar te vra of sy “soos God wil wees”. Hy het haar die sug gegee om groot te wees. So het die duiwel ook vir die Here Jesus versoek met versoekinge wat verband hou met groot en aanskoulike dinge, soos brood uit klippe, om deur engele gedra te word en ‘n belofte om oor al die koninkryke van die aarde te regeer.

Mense raak gaande oor aanskoulike goed, rocksterre, beroemde mense, geld, materialistiese besittings ens. Hoe groter, hoe beter. Mense wil ook nie vandag meer onder begin nie. Hulle wil sommer daar begin waar hulle ouers geeïndig het in die lewe. “We want it all and we want it now.” Die filmbedryf skep ook karakters wat alles die beste kan doen, sodat die kykers kan dagdroom om ook so te wees, soos wat die karakters is.

So het die koninkryke van hierdie wêreld gekom en gegaan. Elke era se konkinkryk spog met hulle grootheid, of dit nou hul wapentuig is, of bouwerk, of finansiële grootheid, of ekonomiese handelsbetrekkinge en of dit kernplofkoppe is. Van die antieke koninkryke van ouds tot die modern koninkryke van vandag, maak almal hulle skuldig aan ‘n grootheidswaan. So spog mense met hulle eie klein koninkrykies.

Met God se Koninkryk is dit so gans anders. Dit begin met niks, word in kleinheid gebore en groei stadig ongemerk, sonder enige vertoon. Daarom vertel Jesus die gelykenis van die mosterdsaad en die suurdeeg om ons iets te leer van God se Koninkryk.

‘n Mosterdsaadjie is skaars 1 – 2 mm in deursnee, maar dit kan ‘n baie groot boom word, waarin die voëls van die hemel kan nesmaak. Die suurdeeg werk ook ongemerk, maar as jy weer sien het die brood gerys. So werk God deur die eeue. God werk in die klein onbelangrike en onaanskoulike goed. Daar waar mense in die geloof klein treetjies in gehoorsaamheid gee, word God se Koninkryk gebore. God se Koninkryk kom stadig, want dit is ewig. ‘n Pampoen groei ‘n paar weke vining en dan is alles verby met die pampoenplant. ‘n Eikeboom of olyfboom groei baie stadig, maar kan baie dekades, selfs eeue oud word. Hoe stadiger die groeiproses, hoe langer is die lewenspan van die boom.

Daarom moet ons geduldig met God wees, as Hy nie vinnig genoeg na ons sin werk nie. God se Koninkryk is nie ‘n pampoenkoninkryk nie, maar ‘n mosterdsaadboom – koninkryk. God werk in die geheiemenis van die mens se hart. Daarom laat Hy die Koninkryk ontkiem en wortelskiet. Hy laat Sy Koninkryk groei in die harte van mense. Daarom lyk elke mens se lewe soos die jaarringe van ‘n groot boom. Elke jaarring vertel van die “journey” saam met God. Sommige van die jaarringe vertel van voorspoed en ander van teenspoed. Maar in elke jaarring van jou lewe kan jy God se teenwoordigheid raaksien.

So het die Here se kerk ook jaarringe, wat vertel van die geskiedenis van die kerk. Die Here hou self Sy kerk instand, al blaak die hel van woede.

Henri Nouwen het met sy lewe aangetoon dat om ‘n Koninkrykslewe te beoefen moet ek ‘n ware dissipel gaan word, daar waar daar swakheid, gebrokenheid, siekte, pyn, eensaamheid, angstigheid en verlorenheid is. Deur diens, liefde, en omgee sal mense die hart van God sien. Spirituele formasie stel Jesus teenwoordig in die nood van die wêreld. Spirituele formasie beteken om Jesus Christus te “embody” in die wêreld. Dan werk ek soos suurdeeg, wat smaak en tekstuur gee aan die lewe met al sy pyn en seer.

Geestelike formasie vra waagmoed en ‘n profetiese ingesteldheid. Dit vra dat die geloofsgemeenskap ‘n profetiese gemeenskap word, wat nie narcisties die kerk preserveer om maar net instand gehou te word nie. Dit vra om  te “engaged” met die wêreld. Jesus Christus het die gelykenis nie vertel om die kerk in stand te hou nie, maar om die wêreld deel van Sy Koninkryk te maak.

Die kerk moet die wêreld in “domino”. Die kerk moet nie torings bou, soos die toring van Babel nie. Ons kan so maklik die kerk verafgod, as ons geestelike tuiste, in plaas daarvan om God se kerk eerder as ‘n beweging uitwaarts na die wêreld te verstaan. Die Pinkstergees het ons bemagtig en begeester om God se Koninkryk te domino op al die plekke waar God se Koninkryk nog nie sigbaar is nie. Soos suurdeeg moet ons die wêreld verander en ‘n beter plek maak. Die duiwel is altyd besig om aanskoulik opwaarts te bou (soos met die Toring van Babel). Die Here wil uitwaarts na die wêreld toe bou.

Die kerk is daar om die wêreld te verander en nie om haarself instand te hou nie. ‘n Goeie moeder is meer oor haar kinders bekommer as wat sy oor haarself bekommerd is. Die kerk moet ook leer om soos ‘n goeie moeder meer bekommerd te wees oor haar kinders in die wêreld as oor haarself. Storey haal aan deur te sê: “God’s love affair was not about the church, but the world.” Die kerk moet ‘n nuwe droom en visie kontekstualiseer, waarin armoede, werkloosheid, onreg ensovoorts aangespreek word.

Daarom moet die kerk mense dissipel, om ware navolgers te wees van Christus. Deur geestelike formasie word mense geskaaf tot “Christ-shaped” dissipels wat soos Jesus leef en optree. Maar die hele geloofsgemeenskap moet “Gospel-shaped” word wat ‘n transformerende geloofsgemeenskap moet word wat werk met die agenda van die lewende Christus. “Spiritual formation refers to the transformation of people into what C.S. Lewis calls “little Christs” (Leclerc)

John Wesley het spiritual formasie verstaan as liefde wat in elke oomblik uitgestort word. Daarom vind spirituele formasie in die Kairos – oomblikke plaas wanneer God uniek deur ons werk in ‘n spesifieke konteks.

In spirituele formasie staan dissipelskap as ‘n kernbegrip. Nominale Christene kan navolgers of leerlinge wees van Jesus Christus, maar dit maak nog nie van jou ‘n dissipel nie. “Being a disciple or discipleship is another word for Christian spirituality and focuses on the transformation of the human person into the likeness of Jesus Christ.” (Leclerc)

Spirituele formasie is ‘n stuk bevryding van ‘n stuk ongesonde ingebuigdheid van die self en eie ego. Dit is ‘n stuk genesing soos wat Henri Nouwen in sy eie lewe persoonlik ervaar het. Nouwen getuig as volg: “Spiritual formation prepares us for a life in which we move away from our fears, compulsions, resentments, and sorrows, to serve with joy and courage in the world, even when this leads us to places we would rather not go.”

Almal van ons het ‘n begeerte om ‘n verskil te maak en van dié wêreld ‘n beter plek te maak. Die fout wat ons maak is dat ons groot dink, in plaas daarvan dat ons klein dink en begin. Iemand het gesê: “Big journeys begin with small steps.”

Die Here verwag nie van ons om groot dinge aan te pak nie. Deur klein treëtjies te gee, kan ek verskil maak in die lewe. Maar dan moet ek die mosterdsaad plant in die grond en moet ek die suurdeeg inknie in my elke dag se bestaan. Ek moet besluit om ‘n aksie te neem in my lewe. Dissipelskap is om aksie te neem in jou lewe.

Daar is die verhaal van Nicolaus Zinzendorf (26 Mei 1700 – 9 Mei 1760), wat ‘n paar eeue gelede begin het met sy “mosterdsaadklub” terwyl hy op skool was. Zinzendorf het later een van die prominente sendelinge van die Morawiese Sendinggenootskap geword van sy tyd. Met sy sterk piëtistiese inslag het hy mense bedien om minder rasioneel oor godsdiens te wees en eerder “godsdiens van die hart” te beoefen. Hy het klein begin en ‘n groot verskil in sy lewenstydperk gemaak.

As ons maar net ons lewensjare so kan deurbring om werklik ‘n verskil te bring in ons omgewing en konteks. Om een lewe aan te raak is beter as om niemand aan te raak nie. As ek elke dag net in liefde na  een person uitgereik het, het ek in ‘n jaar ‘n verskil aan 365 lewens gedoen. Daarom moet ons godsdiens nie maar net rasioneel beoefen word nie. Nee, dit moet werklik lewensveranderend in my lewe en in die mense rondom my se lewe wees.

Iemand het eenmaal langs die seestrand gestap waarlangs honderde stervisse uitgespoel het. Hy was besig om soos hy loop die visse een na die ander terug te gooi in die see. Iemand vra vir hom of hy mal is, want hy kan mos onmoontlik almal terug gooi. Die man sê toe, terwyl hy nog ‘n stervis terug gooi: “Vir die een het dit ‘n verskil gebring.”

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s