SKRIFLESING: Mat 28: 20
Ek lees die volgende interessante opmerking oor Jesus se hemelvaart. Hy het nederig die wêreld ingekom as ‘n buite egtelike baba in ‘n krip in ’n stal, maar het die wêreld triomfantelik verlaat met Sy hemelvaart. So anders as baie van die bekendes van ons tyd wat triomfantelik begin en skandalig eindig.
Maar het Jesus ons régtig verlaat? Beteken dit, dat Jesus nie meer “mens” is nie. Het Sy hemelvaart ‘n einde gemaak aan Sy “inkarnasie” en Sy vleeswording? Waar is Jesus nou? Wat doen Jesus nou?
Wat belangrik is, is dat ‘n mens Jesus nie behoorlik kan verstaan sonder die hemelvaart nie. Ongelukkig is die hemelvaart die “aspoestertjie” en die mees verwaarlooste kerklike feesdag op die Christelike kalender.

Dr Coenie Burger het hieroor deeglik geskryf. Dit sou ‘n groot fout wees om te dink, dat Jesus weg is en nou, net in die hemel is. Dit sou so sleg wees soos as ‘n afrigter van ‘n rugby-span wat op die dag van die wedstryd afwesig sou wees as sy span speel. Hulle sou nie kon staatmaak op sy fisiese nabyheid en morele ondersteuning nie. Hulle sou net kon rugby speel op grond van wat hy hulle geleer het. Maar die span sou maar baie eensaam en alleen die wedstryd moet speel.
Maar hoor wat sê die Bybel in Mat 28: 20: “ Leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het, En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” Verder sê Mat 18: 20: “…. want waar twee of drie in My Naam is, daar is Ek by hulle.”
Helmuth Thielicke skryf aangrypend oor die hemelvaart van die Here Jesus Christus: “ The ascension does not mean that Jesus leaves us; on the contrary, it means that He comes terribly near to us. The boundary between this world and the Beyond which He has been passes on Christmas night, is just being crossed once again and in a new way.”
Ons lees dat met die bekering van Paulus, dat die Here Jesus self aan hom verskyn het in persoon en ook aan Annanias wat die Here se boodskap aan Paulus moes bring.
Luke Johnson skryf: “ In Acts, the presence of the resurrected Lord is just as strong after the ascension as before; indeed stronger.”
Die hemel is nie ‘n veraf onwerklike plek nie. Nee, die hemel is net in ‘n ander dimensie, baie naby aan ons. Wanneer ons eendag sterf, sal ons wat nou onsienlik is, kan sien met ons nuwe geestelike liggame.
Kom ek verduidelik so aan u. Ons glo aan die twee nature van Christus, naamlik sy Goddelike natuur en sy liggaamlike natuur. Met Kersfees het Christus wat Goddelik is, kom mens word. Met Sy hemelvaart het Sy liggaamlike persoon opgevaar om te sit aan die regterhand van God. In Sy Goddelike natuur is hy egter nog steeds by ons, al is dit onsigbaar. Dit is natuurlik bevrydend. As Jesus net in Sy liggaam by ons was, was dit beperkend. Hy sou hoogstens by ‘n paar mense op ‘n slag op een plek kon gewees het. Hy sou dan met ander woorde net in Johannesburg kon wees en nie ook by ons hier op Adelaide nie. Die feit dat Hy in sy Godheid by ons is, het die troos dat Hy altyd in alle omstandighede by almal gelyktydig kan wees. Hy kan in Adelaide, Bedford, Johannesburg, Washington, Moskou en op enige plek in die wêreld gelyktydig wees.
Daarom is die Heilige Gees nie ‘n “replacement” vir Jesus nie. Die Gees vervang op geen manier vir Jesus nie, maar maak juis vir Jesus “toeganklik” vir ons. Christus is in Sy Godheid by ons en Hy doen Sy werk in ons. Christus werk kragtig in ons.
Maar met Sy hemelvaart het Christus, sy kerk op Pinkster Sondag bymekaar geroep, omdat Christus self “’n gemeenskap van gelowiges” bymekaar geroep het en hulle so vertrou het, dat Hy van die kerk verwag om in “Christus se vlees” teenwoordig te wees in dié wêreld. Peterson het geskryf dat die profete en die apostels almal dele van die Bybel geskryf. Maar Christus het geen boek geskryf nie. Hy het egter die “gemeenskap van gelowiges” gestig. Van hierdie gemeenskap van gelowiges verwag Hy om Sy “vlees” te wees op hierdie aarde.
Daarom moet daar by ons ‘n stuk inkarnasie plaasvind. Ons moet as’t ware meer menslik word, sodat ons goddelik kan optree. Ons moet as’t ware Christus beliggaam of “embody”. Mense moet in ons die lewende en opgestane Christus kan raaksien.
Ons moet Christus se vlees op aarde wees. Ons moet Christus se hande, voete, oë en liggaam wees in die wêreld.
In Europa was daar in ‘n dorp ‘n pragtige begrafplaas met ‘n Christusbeeld in die middel van die begrafplaas. Die beeld het uitgestrekte hande gehad. As gevolg van hewige bombardement in die Tweede Wêreldoorlog het die hande afgebreek. Na die oorlog wou die stadsvaders die beeld afbreek. Want hoe lyk ‘n Christusbeeld sonder arms nou? Een kerkvader het egter die simboliek raakgesien. Hulle het toe ‘n marmerplaat onderaan die Christusbeeld aangebring met die woorde: “Jy is my arms in hierdie wêreld.”
Jesus Christus het opgevaar na die Vader. In sy vlees is Hy by die Vader, maar in sy Godheid nog met ons. Daarom moet ons Jesus se “vleeslikheid” sigbaar maak deur sy hande en voete te wees in hierdie wêreld.
Amen
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)