Geseënd is die wat afhanklik is …


Geseënd is die wat afhanklik is …..  Mat 5: 3

Die hele bemarkingsbedryf is daarop ingestel om aan jou goed te verkoop om jou onafhanlik te maak. Van banke, motors, geriefsartikels en wie weet wat nog alles word adverteer om vir jou onafhanklik te maak of ten minste onafhanklik te laat voel. Kinders wil groot wees, tieners droom van selfstandigheid, jongmense soek daarna, groot mense werk hulle dood om selfstandig te wees en oumense vrees die dag as hulle hulle afhanklikheid gaan verloor.

Daarom is dit harde woorde van Jesus, wanneer Hy sê dat ons ons strewe na onafhanklikheid moet afsweer. Want sien suksesvol, beteken vir ons om van niemand afhanklik te hoef te wees nie.

Die menslike lewe is baie broos. Ons kan hoe hard werk om selfstandig te wees. Maar somtyds tref teenspoed, ongelukke, swak gesondheid of rampe jou. Ons moet nooit selfversekerd word oor onsself of oor die lewe nie. Daar kan soveel politieke, ekonomiese en alledaagse werklikhede ons lewe beïnvloed, dat ‘n mens nooit van alles seker kan wees nie. As jy jou geluk  bou op voorspoed en onafhanklikheid, dan bou jy op sand. Jou geluk kan maklik soos ‘n sandkasteel wegspoel met hooggety.

afhanklik-585x401

Die eerste saligspreking, begin met geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is. Eintlik is die eerste saligspreking die belangrikste. Afhanklikheid is waar saligheid begin. Geluk, begin by ‘n heel spesifieke sort armoede, naamlik “die wat arm van gees is.” (1933/1953) Die armes van gees was die mense wat geweet het dat hulle God nodig het in hulle lewens, nodiger as enigiets anders.

Dirkie Smit skryf, dat dit nie oor ‘n triomfantelike geloof, wat die bewondering van almal rondom afdwing nie. Daar is ook niks vredevols of rustig aan hierdie geloof nie. Robert Guelich stel voor dat ons die “armes van gees”, vertaal met “the desperate”. Dit is mense wat sukkel om reg te kom in die lewe. Daar is by hulle ‘n soort verleentheid, verslaenheid, en radeloosheid met hulself.  Radeloosheid is allesbehalwe lekker, maar die goeie nuus is dat dit jou ‘n kandidaat maak van ‘n vreemde geluk. 

God werk met nulpunt-mense. Mense wat niks meer van hulself verwag nie. God maak sulke mense die voorwerpe van Sy genade. Afhanklikes is ook mense wat weet dat hulle niks van God verdien nie. Daarom is die kerk vol bedelaarbanke, met bedelaars daarop. Alles is die goeie guns van God, ons verdien niks van God se ontfermende genade nie.

Daarom is die Saligsprekinge soos paradokse. Hulle vra die teenoorgestelde as wat die wêreld vra. Wanneer jy die paradoks leef om in jou gees van God afhanklik te wees, gee die Here vir jou ‘n vreemde hemelse seën en geluk.

Om arm in die gees te word, beteken om afskeid te neem van trots. Dit is soos ‘n stadspoort wat laag gebou is, sodat ‘n kameel nie die stadspoort kan binnehardloop in ‘n militêre aanval nie. Die kameel moet op sy knieë, nadat sy vrag afgelaai is deur die stadspoort kruip. So moet ons ook ontslae raak van menslike trots en afhanklik word, om die vreemde geluk van God te ontvang.

John MacArthur skryf: ““You can’t be filled until you’re empty. You can’t be worthwhile until you’re worthless.”

Sal boeke soos: “How to Be Nothing? of “How to Be a Nobody?” verkoop? Nee! Dit is juis die paradoks van Jesus se Evangelie.

John MacArthur skryf: “Out of the carcass comes the honey. In our deadness we come alive.”, na aanleiding van Simson wat die leeu doodgemaak het en uit die karkas het toe die heuning gekom. Uit dit wat doodgegaan het, kom die soet van heuning.

In die Bybel is daar baie paradokse van mense wat “dit nie sou gemaak het nie”, wat God kragtig gebruik het.

Die hakkelende Moses, word die leier wat Israel uit Egipte laat trek het, die beloofde land binne. Verbeel jou ‘n staatsman van Moses se kaliber wat hakkel. Moses was intens van God afhanklik. Paulus was weer beproef deur die doring in sy vlees. Maar dan verklaar hy ”As ek sterk is, is ek swak. As ek swak is, is ek sterk.” Diep was hy ook van God afhanklik.

Dit bly vir ons as mens ‘n moeilike saak om regtig total en al onsself afhanklik aan God oor te gee. Dit is soos ‘n drenkeling in die water. Hoe meer hy of sy skop en spartel, hoe vinniger en meer sink jy. Die geheim is om op jou rug te lê en heeltemal te ontspan. Wanneer jy ontspan, dan dryf jy op die water. Dit vat geen inspanning nie, net oorgawe. So is dit ook met geloof en die eerste Saligspreking. Gee jouself oor in afhanklikheid van God.

BRONNELYS

MacArthur, John. The Only Way To Happiness (Foundations of the Faith) Moody Publishers. Kindle Edition.

Smit, Dirkie 1989. Vreemde geluk. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.

 (Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s