SOEK GOD SE KONINKRYK EN NIE JOU EIE NIE
Teks: Mattheus 6: 25 – 34 en Mattheus 6: 10
Bekommernis kan lewensgevaarlik wees. Soos die war verhaal wat ek eenmaal gelees het van ‘n sekere vrou. Die vrou was doodsiek gewees en het elke week na die dokter toe gegaan. Elke dag moes sy duur medisyne gebruik. Haar probleem is dat sy met haarself geworstel het. Sy was angstig en bekommerd oor wat van haar en haar gesin gaan word. Hoe meer sy geworstel het met haarself en haar probleme, hoe sieker het sy geword. Een koue wintersaand toe sy op pad is na die kafee om brood te koop, sien sy koerantseuntjies, besig om koerante te verkoop. Sonder truie en sonder skoene het hulle op en af gespring om warm te kry. Sy het hulle baie jammer gekry en dadelik sop en toebroodjies gemaak en vir hulle geneem. Die aand het sy rustig gaan slaap, want vir een aand kon sy van haarself vergeet. Die volgende oggend het sy truie vir hulle begin brei. Teen die einde van daardie week was sy ‘n gesonde mens, want sy het geleer om van haarself te vergeet. Sy het begin lewe vir ‘n saak wat groter as syself is. Toe sy vir haarself en vir haar eie klein wêreldjie geleef het, het alles vir haar te veel geword. Toe sy begin leef het vir ander en vir God se Koninkryk het sy begin moed kry.
Ons kan vandag se boodskap as volg saamvat: SOEK GOD SE KONINKRYK EN NIE JOU EIE NIE.
Verse 25 – 32 handel oor die mens se bekommernis oor sy mees basiese behoeftes. Om te mag eet, drink en aan te trek is lewensnoodsaaklik vir die mens. Die gevaar is egter wanneer ek begin leef net vir my eie behoeftes. Wanneer ek slaaf word, wat net leef, werk en bekommerd is oor my behoeftes, dan is my prioriteite verkeerd. Dan is ek besig met my eie klein koninkryk. Wanneer my motor, beeste, donkies, my geluk, my kinders of my huis vir my belangriker as God word is daar iets groots verkeerd. Wanneer ek my dankoffer swaar begin gee, wanneer my posisie in die gemeenskap belangriker is as God se eer, wanneer my goeie naam vir my meer kosbaar is as God se Naam, wanneer ek meer tuis is in my eie huis as in God se huis is daar iets groots verkeerd. Wie so besig is om aan sy eie “empire”, sy eie “koninkryk” te werk is met sy eie godsdiens besig. So ‘n gesindheid bring geen vrede nie, net bekommernisse. Vers 33 wil vir ons leer dat wanneer ons die Onse Vader bid: “Lord, let your Kingdom come” moet ons terselfdertyd bid: “Lord, let my kingdom go.” “Laat u Koninkryk kom en laat my koninkryk in duie stort.” Wat bedoel ons, as ons bid: “Laat u Koninkryk kom” of as Jesus sê: “Beywer julle allereers vir die Koninkryk van God.” Ons bedoel daarmee: Here, laat u grondgebied wen in my lewe. Dit beteken hoe langer, hoe meer onder die heerskappy van God. Elke sentimeter van my lewe, my huwelik, my besittings, my werk moet onder die heerskappy van God geplaas word. Wanneer ons bid: “Laat u Koninkryk kom, ” bid ons om die ondergang, om die neerlaag van ons eie koninkryke.
Vers 33 sê dat ons ook die wil van God moet najaag. Wie ‘n einde maak aan sy eie koninkryk, maak daarmee ook ‘n einde aan sy eie wil. Voortaan jaag hy eerder God se wil na. Hy stel God aan as die Pottebakker van sy lewe. Hy is nie meer die pottebakker van sy eie lewe nie.
Ek sluit af: verlang u na vrede in u hart? Bekommer jou oor die Koninkryk van God en oor hoe sy Koninkryk grondgebied mag wen in julle lewe en in die wêreld. Moenie oor julleself bekommerd wees nie. Dit is immers God se wil om oor julle bekommerd te wees.
Here, laat u Koninkryk kom! Kom Here Jesus. Kom wen grondgebied in ons harte! Kom wen grondgebied in die wêreld. Kom eis op wat alreeds aan u behoort.
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)