‘N LIEFDEVOLLE GOD SOEK SY
TWEE PROBLEEMSEUNS OP.
Dit gaan in hierdie gelykenis om ‘n liefdevolle God en Sy twee probleemseuns. Die een is ‘n wegbreek-seun (verwêreldliking) en die ander een is die tuisbly-seun (kerkmens). Waarom het die Here Jesus hierdie gelykenis vertel. Die antwoord vind ons in vers 1 en 2 van Luk 15. Die wegbreek-seun is eintlik die tollenaars en die tuisbly-seun verwys na die Farisieërs. Kom ons kyk na die twee seuns:
-
Eerste probleemseun is ‘n wegbreker
Die eerste seun eis sy gedeelte van sy erfporsie op. Hy wil hê dat sy pa se besittings verdeel word, tot nadeel van sy pa. Dit getuig van ‘n swak verhouding tussen hom en sy pa. Die seun het sy deel gevat en weggebreek van God. Hy het weggebreek uit die verbond en uit die kerk. Dan lees ons hoedat hy sy lewe opgemors het en skande veroorsaak het, want sien hy wou op sy eie bene staan en vry wees. Verwêreldliking het deel van sy lewe geword.
Dan eindig hy by die varkhok. Dit is die grootste moontlike belediging vir ‘n Jood, want Jode eet nie varkvleis nie. Hier eet hy saam met hierdie onrein diere. Hy word self soos een van die varke. Dit wil sê daar is geen werklike lewe sonder God moontlik nie. Wie uit die hande van God klim – eindig altyd in ellende.
Maar geliefdes, hier hoef dit nie te eindig nie. Ook hierdie seun se droewige verhaal eindig nie hier by die varkhokke nie. Want daar wag ‘n liefdevolle Vader by die huis. Dan lees ons hoedat God bekering in sy hart werk.
Hy besluit om terug te keer. Hy kom skoorvoetend nader, maar sy vader hardloop hom tegemoet. Sy vader neem as’t ware die iniasitief. Dan lees ons hoedat sy vader hom omhels en soen, as teken dat hy vergewe is. Daar word geen boetes of pligte op hom gelê as straf nie. God is nie ‘n polisieman nie. Dan lees lees ons hoedat hy sy klere terugkry, as simbool dat hy sy status as kind van God terugkry. Ook die ring en skoene wat hy kry dien as simbool van ‘n herstelde outoriteit en status.
-
Tweede probleemseun is ‘n tuisbly-seun.
Dit is die Farisieërs, die kerkmens, die een wat tuis is in die kerk. Die Farisieërs was pligmense, nie dankbaarheidsmense nie. Hierdie tuisbly-seun het goed gedoen, was getrou, het hard gewerk, was lojaal en het niks verkeerds gedoen nie. Maar hy het dit uit plig gedoen, soos wat ‘n kneg sy baas dien. Hy het uit plig gedien en nie uit dankbaarheid nie.
Wanneer die oudste seun tuiskom en die feesklanke hoor, stuur hy sy bediende om te gaan kyk. Toe hy verneem sy verlore broer het tuisgekom was hy onmiddelik opgeruk. Hy wil nie eers die feesmaal bywoon nie. Hy is kwaad oor sy vader ‘n vetgemaakte kalf vir sy verlore broer geslag het, maar nog nie eens vir hom ‘n bokkie gegee het, sodat hy met sy vriende kan feesvier nie.
Ook vir hom soek die vader op, deur uit te gaan na hom. Sy vader verseker hom ook van sy liefde vir hom. Hy sê vir sy seun: “ Kind, jy is altyd by my, en alles wat ek het, is ook joune.”
Die fout wat die seun maak, is dat hy vergelykings tref. Hy vergelyk homself met sy broer wat weggeloop het. Omdat hy verbitterd is, beland hy in ‘n tronk van selfopgelegte verwerping. Hy verwerp homself uit die liefde van sy Vader. So beland hierdie seun in die sel van verbittering. Hy verloor sy Vader ook boonop. Hy verloor sy lewensvreugde. Moenie uself met ander mense vergelyk nie. Kyk na wat u het, nie na wat ander het nie.
Die oudste seun het geglo dat hy die hemel verdien. Hy het neergekyk op sy jonger broer – die tollenaar. Hy wou niks met hom te doen gehad het nie. Hy is ook sommer kwaad vir sy pa, vir God wat so maklik vergewe. Hy is besig om sy vader te verloor, omdat hy sy broer verloor het. Kerkmense, tuisbly-mense kan dikwels hard en afgunstig optree teen hulle wat deur God se genade vrygespreek is. Vergelyk byvoorbeeld ook Jona se woede teenoor God, omdat God Ninevé se mense vrygespreek het.
Dikwels verset ons, ons nie daadwerklik nie – maar is ons ongeêrg en onbekommerd oor ons medemens se sieleheil. Ons kan baie keer, traak-my-nie-agtig wees teenoor die redding van ander mense.
Die gelykenis vertel ons nie of die oudste seuns se hart verander het en sagter geword het teenoor sy jonger broer nie. Eintlik is dit ‘n oop antwoord. Ons moet dit in ons eie lewe beantwoord. Ons wat kerkmense is, tuisblyers is in die Vaderhuis, is ons waarlik bly oor elke nuwe broer in die Vaderhuis of leef ons ongeêrg voort in ons eie klein hoekie.
Die oop vraag vanoggend is of ons nie dalk een van die twee probleemseuns is nie? Dalk ‘n wegloop-seun, wat nog nie tuis is in die Vaderhuis nie. Dalk ‘n tuisblyer wat jaloers is oor die bietjie genade wat ‘n broer of suster te beurt geval het.
Daar is ‘n wagtende, soekende en liefdevolle Vader wat wag. Kom terug my seun! Kom terug my dogter!
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)