Christus Jesus sluit mense in, wat ons afskryf. (Joh 4: 1 – 42)

CHRISTUS JESUS SLUIT MENSE IN, WAT ONS AFSKRYF.

Niemand hou van ‘n snob nie. Want ‘n snob dink mos altyd hy is beter as ‘n ander een. ‘n Snob stel homself altyd op ‘n hoër trappie. Daar was baie Joodse snobisme in die Bybel. Hulle het hulself op ‘n hoër trappie as ander volke geplaas. Ja, hulle was hoogmoedig gewees teenoor die Samaritane en ander volkere. Hulle het na die uiterlike geoordeel.

Joh 4: 1 – 42 het verskillende perspektiewe. Ons gaan nou na een van hierdie perspektiewe kyk. Johannes 4: 1 – 42 wil vir ons sê: CHRISTUS JESUS SLUIT MENSE IN, WAT ONS AFSKRYF.

by-die-putIn Joh 4 lees ons van Jesus wat op reis was. En dan vertel Joh 4 ons van ‘n sekere gesprek wat Jesus met ‘n sekere Samaritaanse vrou aangeknoop het daar in die land Samaria in die dorpie Sigar. Sien die volgende in u geestesoog. Dit was 12h00 in die middag. Jesus is moeg en wag by die put en sy dissipels is op pad dorp toe om kos te koop. Sy moes in die middag, na die put toe gaan want sy was een van die onwelvoeglike vroue van Sigar. Die gerespekteerde vroue het in die oggend put toe gegaan, maar sy moes haar beurt laaste afwag.

73181f_5c33b03f9d7e4afbb4ce8e782cd6e87c_mv2Dan lees ons van ‘n soekende Jesus daar by die put, wat dateer uit Jakob se tyd , wat ‘n gesprek met die vrou aanknoop. Voorwaar ‘n vreemde gesprek. Jesus was nou nie juis hier in ordentlike geselskap gewees nie.

(Foto van Jakob se put.)

Jesus, die ordentlike Jood is in gesprek met die mees onordentlike heiden. Ons wil eintlik uitroep: “Here, skaam u, u nie om met hierdie vrou te praat nie. Want daar was 4 dinge wat teen haar gestel het daar by die put.

  1. Haar geslag

  2. Haar afkoms

  3. Haar sondige verlede

  4. Haar godsdienstige oortuiging

Eerstens was sy ‘n vrou gewees. In daardie tyd was dit onbetaamlik vir ‘n man om met ‘n vrou in die openbaar te gesels. ‘n Vrou was die besitting van haar man en sy moes gesien en nie gehoor word in die openbaar. Dit tas ‘n man se eer aan as hy met ‘n vrou in die openbaar sou gesels. Maar Jesus praat met haar in die openbaar. Jesus sien ‘n onbenullige vrou raak wat geen regte in die destydse samelewing gehad het nie. Jesus soek haar op.

Tweedens lees ons dat die vrou ‘n Samaritaan was. Haar afkoms was dus ook teen haar. Die Jode het van die Samaritane as “honde” gepraat. En hier praat Jesus die Jood, met hierdie hond van ‘n Samaritaanse vrou. In plaas van hierdie hond weg te jaag, praat hy met haar oor die dinge van die ewige lewe.

Derdens lees ons dat Jesus ook verby haar agtergrond en sondige verlede kyk. Want hierdie vrou was nou nie juis ‘n goeie vrou gewees nie. Die huwelikswet van daardie tyd het bepaal dat ‘n vrou slegs 3 keer mag trou. Daarna is dit vir haar onbetaamlik, Hierdie vrou het egter al vyf mans gehad en ons lees in vers 18 dat sy sommer saamslaap met die sesde man, sonder om getroud te wees. Voorwaar ‘n lekker skinderstorie, want sondig was hierdie vrou beslis gewees. Maar Jesus praat met hierdie vrou, met haar swak sedelike lewe.

Vierdens was hierdie vrou van ander godsdienstige oortuiging gewees as die Jode. Die Samaritane het op die berg aanbid en die Jode het in die tempel in Jerusalem aanbid. Daar was dus ‘n duidelike godsdienstige verskil in aanbidding tussen die Jode en die Samaritane. Desnieteenstaande die verskil van godsdienstige oortuigings, praat die Here met haar oor die ewige geestelike water.

U sien dus dat Jesus verby haar geslag, haar afkoms, haar sondige verlede en haar geestelike oortuigings gekyk het en haar raak gesien het. Ja, die stukkende vrou, die klein mensie by die put het Hy raakgesien.

Met alle respek: Jesus Christus is geen snob nie! Sy optrede het juis die godsdienstige snobisme van die Jode gekonstrateer. Iemand is vir ons aanvaarbaar as die persoon aan al die vereistes voldoen wat ons soek. Geslag, afkoms, ‘n sondige verlede of geestelike oortuigings speel ‘n rol vir ons. Die Evangelie trek egter ‘n streep deur alle snobisme. God sien vir hierdie Samaritaanse vrou raak, met al haar tekortkominge en betoon liefde aan haar. Netso kyk God verby my geslag, my afkoms, my sondes, my tekortkominge en geestelike oortuigings. God sien my raak soos ek is.

Joh 4 vertel ons van ‘n liefdevolle God wat bemoeienis met mense soos ek en jy maak. Weet dan vandag, al tel alles teen u – u tekortkominge, u agtergrond, u sonde, u verlede of u skandes – God is nooit teen u nie. Hy soek u by die wanhoopsput van u lewe. Jesus het Sy hande uitgesteek na die Samaritaanse vrou, na egbreeksters, na tollenaars, na siekes en melaatses en na sondaars.

Daarom moet die kerk van Jesus Christus ook bereid wees om haar hande uit te steek na prostitute, na die mens wat stink, na armes, na straatkinders en na sondaars. Ons mag nie bang wees om ons hande vuil te maak nie.

Ons moet leer om verby ‘n persoon se geslag, se afkoms, se taal, se kultuur, se sondige verlede en geestelike oortuiging te kyk. Ons moet onsself nie vaskyk in die vraag of iemand vir ons sosiaal aanvaarbaar is nie. ‘n Christen mag geen ruimte laat in sy lewe vir godsdienstige snobisme nie.

Jesus Christus het die Lewende Water aangebied ongeag wie of wat die persoon is. Christus Jesus het Sy hande vuil gemaak met ons sonde en lewensnood. Snobisme is geen Christelike deug nie – dit kom van die duiwel. Daarom moet ons dit beveg in ons lewe.

image3Dan lees ons van die gesprek tussen Jesus en die Samaritaanse vrou. Hoe tipies mens. Wanneer Jesus aan die vrou die lewende water van die ewige lewe aanbied, dan dink sy vanuit ‘n gerieflikheidsoogpunt: A, dis die einde van die stappery put toe. Nooit sal sy weer hoef water te skep nie. Die Here belowe aan haar die hemel en sy is bekommerd oor die aarde. Die Here belowe aan haar die hemelse water en sy is bekommerd oor water vir haar huis en diere.

Toe sy uiteindelik besef dat Jesus met haar wil praat oor haar godsdiens, toe blyk dit dat sy haar godsdiens net beleef as ‘n plek waar sy aanbid. In vers 20 lees ons dat haar godsdiens bestaan uit ‘n berg waar aanbid word. Sy sê, dat die Samaritane ‘n berg soek om te aanbid en die Jode soek Jerusalem om te aanbid. Vir baie van ons bestaan ons godsdiens ook uit ‘n plek of geleentheid waar ons aanbid. Vir baie bestaan hulle godsdiens uit ‘n kerkgebou, ‘n erediens op ‘n Sondag of ‘n biduur.

Dit is egter blote vormgodsdiens. Jesus Christus wil egter hierdie vrou bevry van vormgodsdiens. Hy wys haar toe daarop dat ware egte godsdiens nie in ‘n plek gevind word nie, maar in ‘n Persoon, naamlik Christus die Messias. Ware godsdiens is ‘n persoonlike verhouding met die lewende Here! U sien dus ware godsdiens bestaan nie uit ‘n plek waar aanbid word nie, ook nie uit ‘n klomp moets en moenies nie. Dit gaan om ‘n Persoon, naamlik Christus, die Messias. Alleen, Hy is die Lewende Water en alleen Hy kan my verlos en my ewige dors les.

Die wonderlike uitkoms van die verhaal, is dat die vrou wat deur haar gemeenskap uitgestoot is, die dorp Sigar red, toe sy ‘n getuie word van haar ontmoeting met die lewende Christus. Sy wat uitgestoot is deur haar dorp, tree nou inklusief op en vertel haar dorp van die wonderlike ontmoeting met Jesus.

Ons mensdom tree uiters eksklusief op, terwyl Jesus ons leer om inklusief te dink en op te tree teenoor vreemdelinge en mense wat anders as ons is. Wie inklusief leef, is dan ook goeie missionale werkers in God se akkers. Wie inklusief optree, verstaan iets van die hart van God en van die liefde van Jesus Christus. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s