Om met geloofsmoed die toekoms te skep. (Jeremia 32: 1 – 25)


OM MET GELOOFSMOED DIE TOEKOMS TE SKEP.

In die huidige Suid-Afrikaanse samelewing twyfel boere om grond te koop. Die ANC en die EFF se beleid van grondonteiening, sonder vergoeding stem ons almal tot onrus en bekommernis. ‘n Mens wil voel om sommer handdoek in te gooi. Is dit nog die moeite werd om te boer en my plaas te verbeter? Ons geloofsmoed is maar broos en ons wil tou opgooi.

JeremiaMaar ons gelese gedeelte, speel af in die Babiloniese ballingskap, waar die toekoms van Israel baie donker lyk en die profeet Jeremia in aanhouding, onder huisarres is, doen Jeremia ‘n vreemde ding. Vanuit die tronk beklink Jeremia ‘n absolute gekke ekonomiese transaksie. Hy koop ‘n stuk grond in Anatot van sy neef Ganamel, waarop die Babiloniese leër uitkamp. Jeremia koop dus ‘n stuk grond waarop hy in alle waarskynlikheid nooit ‘n boom sal plant of wingerde sal snoei of ‘n huis sal bou nie – wat hy in alle waarskynlikheid nooit eens sal sien nie.

Jeremia se praatjies oor hoop is nie net praatjies nie. Jeremia verklaar as’t ware dat daar lewe na Babilon is. “The prophet put his money where his mouth is.” In wese is Jeremia se koop van die grond ‘n geloofsdaad. Jeremia belê as’t ware in die toekoms. Dit is ‘n daad van hoop wat as teken moet dien dat dit weer goed sal gaan in Israel. Hierdie daad van Jeremia laat ‘n mens nogal aan Abraham dink. Ook hy moes die skynbaar dwase ding doen om die vreemde in te trek. Hy moes die onlogiese ding doen om sy enigste seun Isak – die kind van die belofte – te gaan offer. Net so doen Jeremia die skynmaar onlogiese ding om ‘n stuk grond in Anatot te koop.

Netso het ons ook in die Suid-Afrikaanse samelewing ‘n boodskap van hoop nodig. Ons lees elke dag van plaasmoorde, geweldadige betogings, misdade, moorde, korrupsie, ekonomiese verval, munisipale dienslewering wat agteruit gaan, armoede en werkloosheid. In ons eie lewensverhaal beleef ons ook dinge wat ons tot wanhoop dryf.

Dan het ‘n mens HOOP nodig – maar nie hoop wat op valse optimisme gebou is nie. Valse optimisme kan soos dryfsand wees, jou net dieper laat wegsink.

Hoe kry ons dit reg om te bly hoop al lyk die situasie hopeloos? Jeremia koop nie die grond bloot omdat hy ‘n optimus is nie. Nee, Jeremia handel op grond van sy op God. Anders gestel: Jeremia sien nie bloot God se toekoms nie, hy sien vir God self. Daarom bid hy tot God en noem Hom: “Here, my God.”

Die Here is die een wat die onmoontlike kan doen. Die Here maak die onvrugbare Sara swanger. Die Here lei die slawevolk na vryheid. Die God kan ook nou die onmoontlike doen. Ten spyte van die omstandighede kan God dit weer laat goed gaan.

Die hopelose situasie spreek nie die laaste woord nie, maar wel die God wat ons hoop is. Daar is hoop wanneer ons nie kyk na die geskiedenis voorhande nie, maar na die God wat die geskiedenis in Sy hand hou. Ja, God se naam is geskryf bokant elke bladsy van die geskiedenis.

In die Nuwe Testament lees ons ook van ‘n skynbare hopelose tyd van ‘n Vrydag op Golota – toe die Hoop vir die mense aan ‘n kruis gespyker is. Die Vrydag en Saterdag was ‘n donker tyd, maar op Paassondag het die lig deurgebreek. Christus Jesus het opgestaan – daardeur is daar ewig ‘n grens gestel aan wanhoop.

Die Christenspreker Tony Campolo vertel dat hy in ‘n stadium aan ‘n swart gemeente in Philadelphia in die VSA behoort het. Dit was ‘n besondere aangename gemeente om in te preek, want die gemeente het geen geheim gemaak van hoe hulle die preek ervaar het nie. Eenkeer het Campolo ‘n bietjie gesukkel met sy formulering en dadelik het ‘n vrou uit die agterste banke geroep: “Please help him, Jesus!” ‘n Ander keer weer het dit heelwat beter met sy preek gegaan en elke keer wanneer die gemeente tevrede was met wat hy gesê het, het hulle laat hoor: “Preach brother, preach!”

Een Goeie Vrydag was hy een van sewe predikers wat die oggend moes voorgaan. Hy was voorlaaste en sover hy kon oordeel, het dit goed gegaan. Soos hy dit self stel: “I was so good, I wanted to take notes on myself.”

Na hom moes ‘n ou predikant preek. Die sê toe vir hom: “You did allright boy.” Effens vies vir die benaming het Campolo half leedvermakerig by homself gedink. Ek wonder hoe die ou man, wat my “boy” noem, nou eintlik met die prekery sal vaar. Die ou prediker het egter ‘n uur en half lank die gehoor aan sy lippe laat hang en Tony moes toegee dat hy sleg afsteek by die ou prediker.

Wat die ou prediker se preek nog meer merkwaardig gemaak het, was die feit dat hy een sinnetjie oor en oor gebruik het: “IT’S FRIDAY, BUT SUNDAY IS COMING!”

Hy het sag begin:

Dit was Vrydag en Jesus het gehang aan die kruis – maar dit was Vrydag: Sondag kom nog!”

Dit was Vrydag en die dissipels en vroue het gehuil – maar dit was Vrydag: Sondag kom nog!”

Dit was Vrydag en die skeptiese mense kyk na die wêreld en sê: niks kan en sal verander nie. Maar die siniese mense het nie geweet dat dit nog maar Vrydag is nie: Sondag kom!”

En so het hy aangehou. Teen die einde het hy geroep: “IT’S FRIDAY!” en die gemeente het spontaan en luidkeels geantwoord: “BUT SUNDAY IS COMING!”

Wanhoop – is wat Kierkegaard die “Sickness unto death” noem. In sulke tye moet ons onthou van die stuk grond wat Jeremia gekoop het. Ons moet onthou dat Jesus daardie Sondag opgestaan het. As ons wanhopig of moedeloos is, kan ons sê: “Dit is nou eers Vrydag, maar Sondag het gekom!”

Victor Frankl wat die Joodse gevangenes waargeneem het in die Duitse konsentrasiekampe (soos Auscwitz) het tot die gevolgtrekking gekom dat mense op twee maniere op moeilike en onmenslike omstandighede kan reageer. Jy kan in wanhoop in jou ellende lê en sterf, wat inderdaad gebeur het met Joodse gevangenes wat alle hoop verloor het. Ander in dieselfde omstandighede het die Duitse konsentrasiekampe oorleef omdat hulle bly HOOP het. Hulle het vir mekaar in die konsentrasiekampe stories van hoop vertel en begin beplan en droom van nuwe besighede wat hulle gaan begin na die oorlog. Hulle het ‘n veel beter kans gehad om die konsentrasiekampe te oorleef, want daar was hoop in hulle harte en hoop in hulle gesprekke.

Die Suid-Afrikaanse religieuse skrywer Ruben Alves wys daarop dat die lewe soos ‘n dans is, “Hope is hearing the melody of the future. Faith is to dance to it.”

Daarom moet ons ook elke dag tekens van hoop oprig.

  • Ons moet voortgaan om ons plase te bewerk en te ontwikkel.

  • Ons moet voortgaan om ons kuddes te verbeter.

  • Ons moet verbeterings op ons plase doen.

  • Ons moet bome plant.

  • Ons moet wingerde aanlê.

  • Ons moet tuine maak.

  • Ons moet voortgaan om die Evangelie te verkondig.

Watter tekens van hoop gaan jy oprig? Met geloofsmoed moet ons die toekoms skep. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s