Het jy lang tone? (Mat 23: 1 – 12)


HET JY LANG TONE?

Afrikaans het van die mooiste spreukwoorde soos: : “Iemand het lang vingers”. Dit beteken natuurlik iemand is geneig om te steel. ‘n Ander spreukwoord is byvoorbeeld om te sê: ”Iemand het ‘n groot kop.” Dit beteken iemand dink baie van homself of haarself.” Nou wat sal dit beteken as ons sê: ”Iemand het lang tone”?

ring-toes-1Die spreukwoord beteken dat iemand liggeraak is. Liggeraak beteken om gou kwaad te word. Met ander woorde jy trap gou op sy tone, deur die geringste wat jy sê of doen. Natuurlik is die rede van ‘n persoon se liggeraaktheid, die behoefte aan aansien en posisie. Daar word soveel energie gemors op mense se liggeraaktheid, Want liggeraaktheid veroorsaak konflik en ons weet hoeveel energie gaan in konflik verlore. Liggeraaktheid kom neer op hoogmoed.

pharisee

Die Farisieërs en Skrifgeleerdes was ook uiters liggeraakte mense. Wanneer Jesus teen hulle preek, het hulle rede gesoek om Hom aan te kla en te veroordeel. Hulle het dit uiteindelik reg gekry toe hulle vir Jesus laat kruisig het op Goeie Vrydag. Wie was die Farisieërs en die Skrifgeleerdes? Die Skrifgeleerdes het as groep ontstaan na die ballingskap en het baie jare se studie van die wet agter die rug gehad. Hulle was dus die teologiese elite van daardie tyd. Die Farisieërs was weer ‘n beweging van ‘n groep leke, wat wou toesien dat gewone mense nie hulle godsdienstige pligte verwaarloos nie.

Albei die groeperinge was erg ingestel op die nakoming en die maak van wette. Daarteenoor het die Here Jesus die onnodige wette uitgevee en die wet eenvoudig en maklik gemaak deur die gebruik van die woord LIEFDE.

Ons mensdom is behep met uiterlike vertoon. Die Fariseërs en Skrifgeleerdes het op die straathoeke gebid en barmhartigheidswerk gedoen vir ‘n vertoon van godsdienstigheid. Hulle was ingestel op tossels, gebedsbande, aanspreekvorme en die voorste sitplekke. Daarom het Jesus dit juis gehad teen hulle uiterlike vertoon. Om hulle aan te spreek hieroor, was om op hulle tone te trap.

Maar die mensdom het nog nooit verander nie. Uiterlike vertoon en die maak van wette om persoonlike aansien te verhoog vind elke dag in die samelewing plaas. Status speel ‘n groot rol en dit word bevestig deur verskeie verskynsels. Op die Kaapse vlakte word jongmense aangetrek deur die glans van dwelmbase en kriminele vertoon. Bendes trap so op mekaar se tone dat die Kaapse vlakte bekend is vir bendeoorloë. Politici jaag met ‘n konvooi van blou ligte roekeloos op die paaie om in elk geval laat op te daag by ‘n funksie. Om mense te laat wag vir jou, is mos ‘n teken van jou eie belangrikheid.

In ons gelese gedeelte leer Jesus vir ons iets van die Koninkryksbeginsels. Wie die grootste onder julle is, is bereid om te dien. Jy is dan nie ontsteld as iemand op jou toon trap nie, want dit gaan nie oor jou nie, maar oor God se Koninkryk en die welwese van ander mense.

Mense kan so maklik op ons tone trap, as iemand jou in die padverkeer benadeel of voor jou indruk. As ons nie genoeg aandag kry nie, reageer ons dikwels soos iemand op wie se toon getrap word. Iemand moet ons net skeef antwoord, dan is ons gou op ons perdjie. As iemand ons net êrens te na kom skree ons gou “Eina!” Ons is dikwels te groot vir ons skoene, omdat ons tone so lank is.

Gebrokenheid in jou lewe is dikwels ‘n goeie ding. Dit leer jou om nederig te wees. Somtyds moet ons vir die Here dankie sê, dat alles nie altyd klopdisselboom in ons lewe verloop nie. Gebrokenheid leer jou om op jou knieë te gaan. Dit leer jou om te buig. Die nederigste mense wat ek ken, is juis hulle wat dit dikwels die swaarste in die lewe gehad het. Verbly jou oor moeilike omstandighede of teleurstellings. Dit is dikwels die leerskool van nederigheid. Jesus ag nederigheid baie hoog. Jesus se plant was die wingerd wat ondersteuning nodig gehad het. Jesus se dier was die swakke lam. Jesus se voëlsoort was die opregtheid van duiwe. Jesus se ryding was ‘n donkie. (Owen Feltham)

Jesus het nooit kwaad geword vir gebrokenes en nederiges nie. Hy was lief vir die tollenaars, die sondaars, die melaatses, die prostitute, die kinders en sommer vir almal wat nie trots was op wat hule gedoen het nie. Maar Hy het gou kwaad geword vir die Farisieërs en die Skrifgeleerdes met hulle lang tone en lang gesigte en hulle oppervlakkige vroomheid. Jesus het gereeld op hulle lang tone getrap en altyd ook reaksie gekry. Dit was juis hulle wat Sy dood fyn beplan het en dit ook uitgevoer het aan die kruis.

voetewas

Godsdiens kan dikwels die teelaarde wees van hoogmoed. By die laaste Pasga-ete op die Heilige Donderdagaand, was die dissipels begaan gewees oor wie gaan aan die Here se regterkant en linkerkant sit, die twee vernaamste posisies. Hulle het ook gesoek wie sou die werk van ‘n slaaf vervul en almal se voete was. Die 12 dissipels, die 12 ekke, met hulle 12 selwe rondom die selfopofferende Messias. In plaas van besorg te wees oor die naderende kruisdood, is hulle besorg oor hulle posisie en status by die instelling van die eerste Heilige Nagmaal. Dan lees ons hoedat Jesus die stinkende lang toon voete van Sy dissipels was, deur buigend voor elkeen te kniel. Deur die nederigheid van ‘n slaaf aan te neem, het Hy die wêreld gered. Daarom is nederigheid een van die hoogste deugde in die Christelike kerk. Daarom bly altyd in die valleie van nederigheid. Dit is in die valleie waar die waterstrome en die riviere loop. As jy verlang na die strome van seën van Bo, moet jy in die valleie van die lewe loop.

Daarom is dit ook die eienskap van die meeste suksesvolle leiers, naamlik inherente nederigheid. Daar word vertel dat in Princeton, die plek waar Albert Einstein klas gegee het vir die grootste gedeelte van sy lewe, geen monument vir Einstein opgerig is nie. Einstein was teen elke vorm van verering. Die fokus het eerder op die wiskunde en wetenskap geval as op homself. Daarom is daar nie ‘n monument van hom op Princeton nie. Sy geniale werk is sy monument, hy het nie nog een nodig nie.

Mense met lang tone. Daaroor kan jy boeke skrywe. Mense met lang tone veroorsaak binnepolitiek en oorloë. Lang tone veroorsaak kerkpolitiek, soos die Farisieërs en Skrifgeleerdes. Mense met lang tone skel en wys vingers vir ander mense deur die ruit van die motorvenster. Lang tone wil nie tereg gewys word nie. Lang tone gebruik die sosiale media om sy of haar eie beeld te bou en te poets tot by die punt van selfverheerliking. Lang tone gun nie ander sukses en voorspoed nie. Lang tone is altyd groen van jaloesie oor ander se voorspoed en besittings. Lang tone kan nie luister nie en soek altyd sy of haar eie sin.

Dit is nie lekker om saam met ‘n lang toon te lewe nie. Hulle is te kort gebaker en humeurig. Lang tone word gou opvlieënd en gun nie die son oor ‘n ander een se kop nie. In die teenwoordigheid van lang tone, is jy altyd gespanne. Netnou trap jy op haar of sy tone en dan is die hel los.

Christus Jesus wil ons kom verlos van ons lang tone sindroom. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s