SEëN EN MOENIE VERVLOEK NIE.
Kan ‘n mens regtig verander? Ons het mos ‘n spreukwoord wat as volg lui: “’n Jakkals verander van haar, maar nie van snaar nie.” Kan ‘n mens verander van selfsugtig na offervaardigheid, van hoogmoed na nederigheid en van vyandskap na liefde? Kom ons staan stil by die laaste: Kan ‘n mens van vyandskap verander na liefde? Kan vyandskap en vooroordeel tussen mense regtig verander in liefde en vrede?
Telkemale lees ons in die Bybel van die vyandskap tussen die Jode en die Samaritane. In die tyd van Jesus was die vyandskap alreeds ‘n vete van meer as 1000 jaar en dit het al erger geword. Kom ek vertel u ‘n bietjie van die vete:
-
Die Samaritane het die Jode verag omdat hulle die tempel nie op die regte plek, volgens die voorskrifte van Moses gebou het nie en die Jode het die Samaritane afgeskryf, omdat hulle nie in Jerusalem wou aanbid nie. (Vergelyk byvoorbeeld die Samaritaanse vrou se vraag aan Jesus in Joh 4.)
-
Die Jode het die Samaritane as onrein beskou, as minderwaardig beskou. Daarom het die Jode en die Samaritane nie saam uit dieselfde beker gedrink nie. (Vergelyk die Samaritaanse vrou se verbasing in Joh 4, toe sy vir Jesus vra, hoekom hy, wat ‘n Jood is vir haar vra om water.)
-
Die Jode het die Samaritane ook verag, omdat hulle volgens Joodse standaarde nie rassuiwer gebly het nie, maar met ander nasies ondertrou het. Wat die Jode betref was die Samaritane min of meer melaats.
Dit was dus ook die gebruik gewees dat die Jode ‘n ompad om die land van Samaria geloop het, as hulle oppad was om in Jerusalem te gaan aanbid. Tog volgens Lukas 9, gaan Jesus op sy tog na die Paasfees in Jerusalem, nie met ‘n ompad langs Samaria verby nie. Hy steek sommer kortpad deur Samaria. Maar toe Hy in ‘n Samaritaanse herberg vir Hom en Sy dissipels verblyf vir die nag wou laat reël, het die Samaritane geweier dat Hy in hulle dorp oornag. Jesus was immers ‘n Jood op pad na die verkeerde tempel. Onmiddelik was Jesus se dissipels woedend. “Here” vra Jakobus en Johannes “wil U hê ons moet vuur uit die hemel afroep om hulle te verteeer.” Die twee seuns van die donder, twee van die verregses in Jesus se groepie was gereed vir aksie. Rassekonflik was nou baie naby.
Die probleem was dat die dissipels se Joodse afkoms vir hulle swaarder geweeg het as hulle Christenskap.
-
Jesus moes ‘n politieke bevryder word.
-
Jesus moes ‘n republiek stig.
-
Daarom baklei hulle so wie van hulle is die belangrikste, wie gaan die magsposisies beklee.
-
Hulle Christenskap was vol politieke agendas.
Daarom kan ‘n mens verstaan waarom die twee seuns van die donder, vuur en oordeel oor die vyand wou afbid. ‘n Mens kan inderdaad vra: Kan die dissipels verander? Wat moet gebeur dat die haat, vooroordeel en vyandskap in hulle harte moet verdwyn? Kan mense regtig verander?
Nee, mense kan nie verander nie, hul kan hoogstens verbeter. Maar Christus kan radikaal verander, omdat Christus mense radikaal verander.
Die seuns van die donder wou vuur afbid op hulle teenstanders, maar op Pinksterdag bid God vuur op hulle. Op Pinksterdag het die Heilige Gees soos in tonge van vuur op hulle neergedaal en hulle harte verteer. So kry hulle die onmoontlike reg naamlik om hul eertydse vyande lief te kry.
In Handelinge breek die vervolging van die Christene uit sodat hulle moet vlug. So beland Filippus in ‘n Samaritaanse dorp. Daar vertel hy vir die mense van Jesus van Nasaret. En daar gebeur die wonderlikse dinge: lammes en kreupels word gesond en versteurde mense word normaal. Hier gebeur nou presies die teenoorgestelde van dit wat die vuurvreters in Luk 9 wou doen. Die letterlike vuur wat hulle uit die hemel wou afroep, word vervang met geestelike vuur uit die hemel. Pleks dat die Samaritane verteer word, word hulle gesond!
Nog wonderliker: Toe die tyding in Jerusalem aankom, was die dissipels daar ook bly. Trouens, hulle stuur niemand minder nie as Petrus en Johannes, (Johannes wat weke tevore nog helvuur op die Samaritane wou afbid) om die Samaritane te gaan seën en om die vuur van die Heilige Gees op hulle af te bid.
So verkrummal ‘n 1000 jaar se vyandskap. Duisend jaar se mites en vooroordeel oor mekaar verbrokkel. Vyandskap word vervang met broederskap. Wat het gebeur? Die krag van die Heilige Gees het oor hulle gekom! Wanneer die Heilige Gees met ‘n mens werk, vind bevrugting plaas,word ‘n nuwe lewe verwek en ‘n nuwe mens gebore: ‘n Mens wat na God lyk en soos God optree. Iemand soos Jesus.
In hierdie reënboogland van ons, is ons ook geneig om die vuur op mekaar af te bid. Rassisme was nog nooit so hoog in ons land as ooit te vore nie. Misdaad, plaasmoorde en die onverskillige uitsprake van mense soos Malema en die EFF gooi natuurlik petrol op ons gemoedere. Die regering se grondonteieningsbeleid, sonder vergoeding, wat neerkom op diefstal blaas natuurlike die wantroue aan. Daar is swart rassisme, wit rassisme en bruin rassisme. Sommige swart mense uiter dikwels ook goed wat wit mense seermaak en wit mense uiter goed wat swart mense seermaak. Maar rassisme is geen oplossing vir Suid Afrika se sensitiewe politieke klimaat nie. Ons moet leer om nie vuur op mekaar af te bid nie, maar mekaar te seën. Wanneer ‘n taxibestuurder onverskillig bestuur is ons nature reaksie om hom te vloek en vinger te wys. Dit stoot net ons humeure op. As ons in die plek van stoom afblaas eerder die taxibestuurder seën en bid dat hy veilig mag ry, raak ons ontslae van ons aggressie en menslike woede.
Dis waarom die Jesusgroepie in Hand 8 so anders optree as in Lukas 9. Toe die Heilige Gees oor hulle gekom het, het die haters verander in sendelinge en die geweldaanbidders in mense wat seën. Toe verander die haat van 1000 jaar binne ‘n oogwink in vrede en blydskap. Is ons Christene? Verstaan ons wat dit beteken om in hierdie land deur die Heilige Gees “oorskadu” te word?
Begryp ons dat ‘n mens ‘n naloper van Jesus kan wees, sonder om ‘n navolger van Jesus te wees? Johannes, Jakobus en Petrus het aanvanklik honderde kilometers al agter Jesus aan geloop, sonder dat hulle regtig sy volgelinge geword het. Hulle het met hulle eie agendas agter Jesus aan geloop.
Glo jy regtig in die krag van Pinkster? Glo jy regtig in die krag van die Heilige Gees? Het die Heilige Gees al regtig oor jou lewe en in ons kerk gekom? Bid ons vuur op mekaar, of het God se vuur (Heilige Gees) ons al so verander dat ons ons vyande lief het en seën.
Dit is nie maklik nie, maar wie het gesê om ‘n Christen te wees is maklik. Is jy ‘n naloper of ‘n navolger? Bid jy vuur af of seën jy jou teenstanders? Dit wys jou ware kleure. AMEN
Die hooflyne van die preek het ek êrens gelees. Die skrywer het ek vergeet. Ek het die preek aangepas en verwerk om by hedendaagse omstandighede aan te pas.
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)