OM DEUR DIE MISWOLKE DIE OPGESTANE CHRISTUS TE HERKEN.
Ons leef in ‘n harde wrede wêreld. Die spreukwoord: “Hond eet hond” is absoluut van toepassing in die wêreld waarin ons leef. Somtyds sien ‘n mens so min raak van die realiteit van die “opgestane Christus”. Die rede hiervoor is dat ons sig belemmer word deur die mis van ons dag.
Die volgende stukkie geskiedenis verduidelik dit. Die Engelse het gehoop dat hulle die Franse by die Slag van Waterloo sal verslaan. So bou die Engelse ‘n hele netwerk van telegraafpale, sodat die oorwinning na die slag van Waterloo so gou moontlik aan die Engelse nasie gebring kan word. Dit gebeur toe dat Generaal Wellington van die Engelse, die Franse onder leiding van Napoleon Bonaparte beslissend verslaan het by die Slag van Waterloo. Die Engelse stuur toe ‘n gekodeerde boodskap per telegraaf aan die mense tuis om hulle te vertel van die wonderbaarlike oorwinning. Toe hulle in England die boodskap ontvang, lui dit: “ Wellington verslaan.” Daar het ‘n mismoedigheid oor die hele Engeland neergesak. Sonder enige hoop op die toekoms. Wat hulle nie besef het nie, was dat die helfte van die boodskap langs die pad verlore gegaan het, as gevolg van die digte mis. Toe die mis opklaar kom die boodskap deur: “Wellington verslaan Napoleon”. Skielik bars die hele Engeland in vreugde uit. Die Engelse het die Franse verslaan. Die gedugte Napoleon Bonaparte se dae is getel. Daar is vreugde in Engeland.
Netso het dit ook gegaan met die Paasgebeure. Die vroue het aanvanklik gedink dat hulle Jesus se liggaam verskuif het na ‘n ander graf. Die vroue en die dissipels het nog nie die opstanding verstaan of beleef nie. Die “mis” het hulle verhinder om die opgestane Christus te ervaar en fisies te sien. Maria Magdalena het toe Jesus Christus aan haar fisies verskyn, eers gedink dat dit die tuinopsigter was. Eers toe Jesus haar op haar naam “Maria” noem, het haar oë deur die mis die opgestane Christus herken.
Dikwels is daar in ons lewe ook baie “mis”, wat maak dat ons nie die opgestane Jesus kan raaksien nie. Dit kan persoonlike probleme, werksprobleme, verhoudingsprobleme, finansiële probleme of eenvoudig net die gejaag van die lewe wees. Jy sien Jesus eenvoudig nie raak nie.
My ervaring in die nag as ek van ‘n plaaswyksbyeenkoms afkom en dit is mistig in die berge, veral by Bosnek, is dat ek my ligte moet domp. Dan kan ek skielik reg voor my sien. Solank die ligte ver skyn, kan ek niks sien nie. In die gedompte lig van die voertuig kan ek myself oriënteer op die pad. So werk dit ook met jou persoonlike ervaring van die Here. Eers wanneer jy Jesus Christus raaksien in die gewone alledaagse versorging en insidente, dan raak Jesus vir ons sigbaar. Ons soek dikwels Jesus ver, terwyl Hy eintlik by ons is in alledaagse wonderwerke en versorging. Daarom moet ons met ‘n daaglikse bewustheid leef, om Jesus in die onmiddelike en die alledaagse te ontdek. Elke aand moet ek in my stiltetyd, gaan soek waar was Jesus vandag in my dag gewees. Waar het ek Hom vandag beleef. Ons noem dit om meditatief te leef. Om Jesus in die oomblik te beleef.
Maria Madalena het Jesus beleef in die oomblik toe Hy haar naam noem. Toe klaar die mis op. Toe sien sy vir Christus raak as haar “Rabboeni”.
Die mistigheid sal met ons wees tot die wederkoms van die Here Jesus Christus. Daar sal baie mis wees in die vorm van oorloë, geweld, misdaad, verraad, persoonlike probleme, maatskaplike nood en maak maar die lysie langer. Ons sal somtyds sukkel om sin te maak van die mistigheid van die lewe. Maar Christus Jesus gaan ook ‘n tweede keer kom om alles nuut te maak. Dan sal daar geen mis meer wees nie. Dan sal ons nie meer kyk in ‘n dowwe spieël vol raaisels nie. Dan sal alles nuut wees. Daarom eindig die Evangelie nie met die opgestane Christus nie. Nee, ons sien uit na die verheerlikte Christus wat kom met die wederkoms om alles nuut te maak. Dan sal ons nie meer deur die mis hoef te sien nie.
Nou sien ons nog deur die mis, die opgestane Jesus. Maar eendag, wanneer die mis opklaar sal ons Hom in Sy volle heerlikheid sien. Daarom bou die Evangelie op na Jesus se verheerliking. Ons kry die geboorte, dan die kruisiging, dan die opstanding en dan uiteindelik die wederkoms. Die miswolke moet plek maak vir die wederkomswolk. Daarom leef ons tussen die miswolke en die wederkoms wolk.
Maar in die mistigheid van hierdie lewe, waar ons dikwels sukkel om die opgestane Christus raak te sien, is daar katoë op ons lewenspad. Dit is die tekens wat Jesus vir ons gee, dat Hy lewe en werklik opgestaan het. Dit kan enigiets wees van ‘n wonderwerk, daaglikste versorging, gebedsverhoring, genesing, onverklaarbare ingrypings van God en ook die sakramente van die doop en Nagmaal. Daarom laat die Here ons nie verdwaal in die mistigheid en onsekerheid van hierdie wêreld nie.
Hy versterk ons daagliks met Sy teenwoordigheid en wondertekens. Sy krag is elke môre nuut en verfrissend.
Daarom kan ons elke dag die opgestane Christus in ons lewe ervaar. Deur die mistigheid van hierdie wêreld, sal ons hom sien, as ons NABY aan hom leef. Daarom roep hierdie Paassondag ons op om opnuut NABY aan die opgestane Christus te leef.
Toe my jongste seun Johannes nog ‘n klein seuntjie was, was dit een oggend baie mistig op Adelaide. Hy kon niks sien nie. Hy het aan die huil gegaan, want skielik was alles weg. Maar niks was weg nie. Later het die mis weggetrek en was die wêreld weer vir hom bekend. In die mistigheid van hierdie wrede wêreld, lyk God afwesig. Maar Hy is hier by ons. Daarom is geloof om die onsienlike te sien, met geloofsoë. Die opgestane Here Jesus Christus, het vir die ongelowige Thomas gehelp om te glo, deur hom toe te laat om aan Sy wonde te vat.
So het Die Here Jesus ook vir Maria Magdalena gehelp om Hom in die mistigheid te sien. Hy het ook aan die dissipels verskyn om te wys Hy lewe. So sal Hy ook in wonderwerke, gebedsverhoring en in Goddelike ingrypings aan jou verskyn, om vir jou te toon dat Hy die opgestane Christus is.
Moenie vaskyk teen die miswolke nie. Die miswolke sal plek maak vir die wederkomswolk. Jesus lewe! Jy sal Hom deur geloofservaringe beleef as die opgestane Christus. AMEN.
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)