Lyding is nie God se wil nie, maar Hy gebruik dit wel tot my beswil. (Klaagliedere 3: 18 – 33)

LYDING IS NIE GOD SE WIL NIE, MAAR HY GEBRUIK DIT WEL TOT MY BESWIL.

Daar is niemand van ons in hierdie kerkgebou vanoggend, wat nog nie gehuil het nie. Seerkry en swaarkry is deel van ons bestaan. Hoor wat skryf Totius na die dood van sy kinders: “ O die pyngedagte: My kind is dood! ….. dit brand soos ‘n pyl in my. Die mense sien daar niks nie en die Here alleen weet wat ek ly. Ek wou my ganse digkuns waag om al my hartpyn uit te klaag om in my klanke uit te sê om soos in marmer vas te lê die beeltnis van my pyn .….. wanneer ek dieper kyk en dink as wat ‘n sondaar pas. En steek ek dan my hande uit na u besluit, dan gryp ek in die dorings vas.” Kan u iets van die pyn in Totius se hart aanvoel? Tereg skryf hy dan ook, dat hierdie wêreld nie ons woning is nie. Ja, ek wil amper sê dit is ‘n wrede wêreld. Ja, ‘n wêreld wat met sy kloue alles wat vir my liefdevol en kosbaar is wil wegskeur. Dan bly net die pyn oor. Die waarom vrae ….. Die hoekom vrae …….

sufferingDie pyn en gebrokenheid word werklik, wanner ‘n klein kindjie sterf, wanneer jou geliefde jou ontval, wanneer natuurrampe alles wegvee, wanneer 130 miljoen Jode na die konsentrasiekampe toe is om te sterf, die wreedheid van oorlog, werkloosheid, armoede, hongersnood, Vigs, stukkende huwelike en gesinne, motorongelukke, terreurdade en so kan ons die lysie langer maak.

Tereg sê Jeremia in vers 20 “as ek daaraan dink, dan draai my gedagtes vas.” Maar wat sê God se Woord daaroor? Klaagliedere 3 sê: LYDING IS NIE GOD SE WIL NIE, MAAR HY GEBRUIK DIT WEL.

Die twee dele van die preek is:

a.) Lyding is nie God se wil nie.

b.) Maar God gebruik wel lyding.

Pars 1: Lyding is nie God se wil nie.

Geliefdes, ons is soos stout kinders wat aan God die skuld gee, as ons verbrou het. Want gemeente, dit is tipies mens, om skuld te verplaas op iemand anders.

Ons bedoel so goed as ons vir iemand in nood sê: “Toemaar, dit was God se wil.” God het dit toegelaat. Maar dit is onwaar. PYN, kan nooit God se wil wees nie. Die Bybel sê baie duidelik dat die liefdevolle God wat alles met soveel liefde geskape het, nooit ‘n welbehae in menslike pyn en hartseer kan hê nie.

Gemeente, u sien dus die God van liefde, is die groot outeur, die groot komponis van die liefde en hoe kan die groot komponis van die liefde, vals note van pyn ook skep.

Wanneer ‘n klein kindjie wreed van sy ouers af weggeneem word, of wanneer ‘n bus vol jong talentvolle kinders met ‘n blink toekoms in die Westdene – dam verdrink of wanneer gekaapte Boeiings vasvlieg in die Twin Tower Wêreldhandelsentrum of as ‘n jong mens wreed sterf aan kanker, IS DIT NIE GOD SE WIL NIE.

suffering-paula-smith-heffel

Die God van liefde, voel saam met ons die pyn. So het Jesus byvoorbeeld gehuil oor Lasarus se dood. Die outeur van pyn en hartseer, is u en ekself. Ek en u is die komponiste van al daardie vals note van pyn en hartseer. Met die sondeval het God se skepping stukkend gebreek, ja soos ‘n kind wat ‘n kosbare pottebakkerspot afstamp. Deur ons eie sondige wil, het pyn in hierdie wêreld gekom. Voor die sondeval was daar net trane van vreugde. Met die sondeval, het die eerste trane van pyn en hartseer gevloei. Daarvandaan het seerkry en dood net gedomino en vermeerder in ons lewe.

En wanneer iemand onverskillig is, byvoorbeeld te vinning ry en hy maak ‘n ongeluk en iemand sterf dan sê ons so maklik – dit was God se wil. So maak ons God die gewillige pakdier van ons mislukkings.

Nee, God is die onskuldige party. Ons is die skuldiges. Kan u dus verstaan dat ons nie sommer maar so ligweg al die skuld op God kan plaas nie. Daarom an ons geen vinger wys na God in die hemel nie. Nee, ons kan maar net ons hande uitstrek na die hemel en van God genade afbedel. – ook krag om die pyn in ons harte te kan verduur.

Pars 2: Maar God gebruik wel lyding.

Pyn is nou wel nie God se wil nie, maar dit vind nooit buite Sy Raad plaas nie. Daarmee bedoel ek dat God pyn gebruik binne die lewens van mense. God is betrokke by my pyn, Met ander woorde, ons dompel onsself in die pyn in, maar God gebruik hierdie pyn tot die beswil van myself.

So gebruik God, byvoorbeeld pyn om die mens tot verootmoediging te bring, tot ‘n bekering of tot ‘n verdieping van van sy geloofslewe. Klaagliedere 3: 29 tot 30 is baie duidelik hieroor, dat God partykeer pyn en ellende gebruik om die mens te laat besef hoe verganklik hy is. Vanuit die ellende, vanuit die pyn van my sonde, word die kreet gebore: “Ek ellendige sondaar!”, wat eintlik maar die geboortepyne van ‘n mens is tot die ware lewe.

Maar God kan ook pyn gebruik om mense nog nader aan hom te trek. Deur pyn en seerkry word inderdaad die mens se karakter gevorm.

Baie van God se kinders het in hulle diepe pyn, die Here die diepste leer ken. Tereg skryf IL de Villiers dat heel dikwels die donkerste menslike ondervinding tot ‘n sinvolle pad van die mens geweef word. Heel dilwels wil God pyn gebruik om ons opreg te leer bid uit afhanklikheid. Om ootmoed vir my medemens te kweek. Om my lewe reserweloos in God se hand te waag.

Dit werk amper soos ‘n pragtige weefstuk. Die voorkant is pragtig en foutloos. Maar die agterkant is vol knope. Die knope is nodig om die voorkant af te rond tot ‘n kunswerk. Net so is lyding, soos knope wat my lewe afrond om ‘n pragtige geheelprent te skep. Lyding vorm jou lewe.

U sien eers wanneer ek die pyn in my eie lewe ervaar het, kan ek iets verstaan van die traan wat brand in my medemens se ooglede. Sommige mense se lewens drup van hemelse dou, omdat hulle die bitter van die lewe so goed ken. Maar nou sal u vir my sê, dit is goed en wel, maar daar kom ook ‘n einde aan al my kragte. Somtyds kom ‘n mens aan die einde van jou emosionele kragte. Soms huil ‘n mens jouself leeg, maar die pyn sit nog soos ‘n stuk kanker in jou siel. Dan moet u Klaagliedere 3: 22 – 25 lees. Dit wil sê, God se trou ken geen einde nie. God se trou is die verbond, waarvan ons doop die teken is. As alles vir u te veel raak, kan u vashou aan die doop. Met my doop wil God vir my sê:”Ek wil jou God wees. Ek wil hê jy moet my kind wees..” Die doop is die reënboog van God se verbondstrou. Ek kan maar in my diepste pyn en vertwyfeling vashou aan my doop. Ja, ons kan maar hang aan ons doop en God se liefde. Martin Luther het op sy houtlessenaar uitgekerf dat hy gedoop is. Dit was vir hom ‘n herinnering in tye van aanvegtinge dat hy as gedoopte, aan God behoort en dat niks hom van die liefde van God kan skei nie.

Na die donderstorm, volg die reënboog van God se trou. Maar die doop is die reënboog van God se trou wat verskyn nog voor die donderstorms van beproewinge losbrand oor my lewe. Wanneer alles wankel is Hy die Rots der eeue, wat ewig vas bly staan. God sal red. God sal krag gee, want God voel soos ‘n Vader saam met ons.

Wanneer ‘n kind ontsteld is, dan kan hy op sy vader se skoot klim en die vader sal hom vertroos. Hoeveel te meer ons Hemelse Vader nie. U sien dus dat ons die klei is en dat God die pottebakker is wat ons in ons lyding vorm tot voorwerpe van Sy ontferming. Ons moet toelaat dat God ons wat die klei is, vorm op die pottebakkerswiel van die lewe. Hoe kan ons vir die Pottebakker sê: “Waarom het u ons so gemaak? Waarom die pyn? Hoekom? God wil van die mislukte lewens van mense, nuwe moontlikhede vorm.

Miskien kan Bonhoëffer iets vir ons sê. Hy was ‘n groot teoloog wat ook die Tweede Wêreldoorlog deurgemaak het. Hy het gesê: Ek vertroos my daaraan dat die koeël wat my tref eers verby God moet gaan. Die koeël is nou wel nie God se wil nie, maar God weet van daardie koeël. Bonhoëffer het ook gesterf, maar met die troos: “Ek kan nooit uit God se hande val nie.”

Generator-OpportunityU sien dus pyn is nie God se wil nie, maar God kan dit wel gebruik. God laat soms pyn toe, om my op die pottebakkerswiel van die lewe te omvorm tot Sy eer. Pyn is ‘n besielende emosie! Dit is wanneer ek met leë hande, met betraande oë inhardloop in God se vaderhande. Heel dikwels word uit pyn, menslike karakter gebou. Soos daardie veldblommetjies wat op die sementpaadjies in die groot stede, tussen al die harde sementblokke opkom – lieflik!

Berusting in pyn is soet. God is goed.”                        AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.) 

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s