Om deur God se hande gevorm te word. (Jeremia 18: 1 – 17)


OM DEUR GOD SE HANDE GEVORM TE WORD

Heel dikwels maak ons ‘n gemors van ons lewe of van geleenthede in ons lewe. Ons doen soms dinge, waaroor ons later baie spyt is. Somtyds druip ‘n mens ‘n toets of ‘n eksamen. Somtyds voel jy dat jou lewe skeef loop – anders verloop as wat jy beplan het. Jou huwelik, jou gesinslewe, jou loopbaan, jou finansies loop anders as wat jy beplan en voorsien het. Soms is ‘n mens net doodeenvoudig teleurgestel in jouself en in die lewe.

Daar het dalk dikwels dinge gebeur in ons lewe, waaroor ons nie beheer gehad het nie: ongelukkige kinderjare, ‘n gebroke huis, ‘n siekte wat ons geknou het, of doodgewoon die genetiese samestelling waarmee ons die wêreld ingekom het. Somtyds voel dit of ‘n mens se lewe ‘n mislukking is! Somtyds wonder ‘n mens of jy nie maar ‘n “drop-out” is nie.

Dan nooi die Here ons vandag vir jou om saam met Jeremia te stap na die pottebakker se huis. Israel het ook heel dikwels ‘n gemors aangevang met die geleenthede wat God vir hulle gegee het.

Israel se geskiedenis is telkens gekenmerk deur verkeerde keuses en sondige afdraaipaaie. Telkens maak Israel ‘n mislukking van sy geskiedenis. Baie dikwels het Israel die “drop-out” volk geword tussen die volkere van destyds. Israel is moedeloos en die profeet Jeremia nog moedeloser. Daarom het God dit nodig geag om Jeremia op ‘n opvoedkundige toer te neem na die pottebakker se huis. Wil u nie saamgaan nie. Die Here het vandag ook vir u ‘n opvoedkundige les.

die-pottebakker-nDan is ons saam met Jeremia by die pottebakker se huis. Kyk, die pottebakker is juis besig om iets op die pottebakker se wiel te maak. Die pottebakker is besig om ‘n pragtige kruik op die pottebakkerswiel te maak. Dan skielik stort die klei inmekaar op die wiel en alles is ‘n mislukking. Gaan die pottebakker die klei weggooi? Nee, hy knie dit weer saam, plaas dit weer op die wiel en begin om ‘n skottel te maak. Uiteindelik neem dit ‘n pragtige skottel vorm aan.

Maar eintlik lees ons die Evangelie van Jesus Christus af daar op die pottebakkerswiel. Dikwels stort ons lewe ook in duie op die wentelende ratte van die wiel van die lewe. Somtyds val ‘n mens se kinderjare, jou studies, jou huwelik, jou gesin, jou loopbaan, jou gesondheid of jou lewenslus inmekaar. Dit is traumaties as jou lewe so uitmekaar val. Somtyds is dit jou eie skuld – ‘n stukkie hardheid in jou lewensklei. Somtyds is dit dinge buite jou beheer.

rippel die pottebakker se werkswinkelDie troos van die Evangelie is egter dat God ons nie weggooi as ons stukkend breek in die geweld en hardheid van die lewe nie. Mense is anders as God. Mense veroordeel mekaar en gooi mekaar weg as die een misluk of nie so suksesvol soos ek

is nie. God is egter anders: God knie ons in ons beproewinge en teenslae saam, om van ons iemand nuuts te maak. Soos die pottebakker wat van die inmekaargesakte kruik, ‘n pragtige skottel maak.

Die pottebakker maak nie van elke hopie klei dieselfde voorwerp nie. Hy maak wat hy wil met die klei. Hy verander selfs van plan om iets beters te maak van die klei. Die stuk klei kan nie ‘n fles wees nie; nou maak hy daarvan ‘n skottel. God raak nie ontslae van die klei wat nie uitgekom het soos Hy dit wou gehad het nie; Hy verander dit eenvoudig in iets anders.

Sommige mense kla, dat as God die pottebakker is en ons die klei, dan beteken dit dat die mens geen vryheid het nie. Dat ons slegs maar magtelose klei is in die hande van die Vader. Maar dan sien ons vryheid verkeerd. ‘n Vis is ook vry, maar slegs as die vis in die water is. Martin Luther het gesê” “Ons is vry van die wet, maar nooit vry van God en ons naaste nie. Sonder God en ons naaste is daar geen vryheid moontlik nie.”

Wanneer God die pottebakker is wil Hy van ons meer maak as wat ons is, soos die Engelse skrywer CS Lewis in sy boek “Mere Christianity” skryf: “Verbeel jou jy is ‘n lewende huis. God kom om dié huis te herbou. Daklekke en stukkende vloerplanke word byvoorbeeld reggemaak. Maar dan begin Hy met verbrekings aan die huis wat nie vir jou sin maak nie. Wat is Hy besig om te doen? Die verduideliking is dat Hy ‘n totaal ander huis bou as die een wat jy in gedagte het. Jy dink dat God ‘n klein, netjiese huisie gaan bou. God het egter ‘n paleis in gedagte ….. waarin Hyself wil kom woon.”

Ja, in God se hande word ons vryheid nie ontneem nie. Nee, ons is in beter hande.

Somtyds kla iemand dat hy ‘n senuweeagtige geaardheid het. Maar God maak daarvan ‘n positiewe eienskap, want sy senuweeagtigheid maak van hom ‘n sensitiewe leier wat ander mense verstaan en begrip vir hulle het. Iemand anders word gejaag deur ‘n onbesondenheid van jare gelede. As hy nie God se liefde in sy vergifnis ervaar het nie, sou hy vandag ‘n onuitstaanbare mens gewees het om mee saam te leef. En ek kan die man sien wat so graag verder wou gaan studeer en dit nie kan doen nie, en vandag uit sy pad gaan om die deure vir sy kinders en vir ander mense oop te maak. Of die persoon wat deur siekte of gebrek geteister word, verstaan sy eie en sy medemens se broosheid soveel beter. Of die persoon wat finansieel swaar trek, het soveel meer medelye met die gebrek van ander sodat hy nooit kla nie. So ‘n mens is soveel meer dankbaar vir die klein dingetjies in die lewe.

U sien God wil ons laste en mislukkings verander in iets positief. God wil ons laste in vleuels verander. Soos die beroemde gedig van die Duitse digter, Friedrich von Schiller. In die betrokke gedig word vertel hoe God die voëls gemaak het. God het die voëls vere gegee wat pragtig was om na te kyk. Hy het die voëls ook stemme gegee, heerlik om na te luister. Hy het hulle egter nie vlerke gegee nie – hulle kon nie vlieg nie. Dit is egter wat God gedoen het: Hy het hulle vlerke op die grond neergesit en gesê: “Neem hierdie laste en dra dit.” En die voëls het dit gedoen en die vlerke opgetel en oor hulle harte gevou en hulle laste gedra. Met verloop van tyd het iets gebeur; die vlerke het aan hulle borsies vasgegroei en hulle kon vlieg. Hulle laste het in vleuels verander. God wil ook ons mislukkings en “flops” verander in vleuels tot ons eie sieraad.

aba41-potterEn dit sê maar in ander woorde wat ons in ‘n smal straatjie iewers in Palestina gesien het: God gooi nie bedorwe klei weg nie, Hy maak daarvan wat hy kan. Onthou dit ook as jy vir jouself kwaad is omdat jy misluk het. Die Here gooi jou nie weg nie. Hy verander jou mislukkings in iets positiefs. Ja, jou laste en mislukkings word vleuels. Dit is mos ook die woorde van die Nederlandse Geloofsbelydenis wat sê dat Hy alles (ook ons mislukkings) tot ons beswil laat dien.

In Jeremia 19 lees ons egter dat God se toorn oor Sy volk ontvlam het. Hulle wil nie klei wees nie. Hulle wil nie dat God, die goeie pottebakker hulle vorm nie. Hulle wil eerder hulle eie beelde maak, hulle wil eerder ander beelde maak. In Jeremia 19:11 lees ons hoedat God vir Jeremia sê om ‘n kleipot te koop en dan te breek, as simbool dat God die volk Israel gaan breek. Dit is dan die einde van die swak en weerbarstige klei. Dit lyk of niks hulle kan red nie.

Ons weet ook dat dié oordeel wel voltrek is. ‘n Kleipot is gebreek. God se liefde het te sterk gebrand om die swak klei weg te gooi of die nuttelose kleipot te breek. Daarom het Hy – weens Sy passie vir mense – iets ander gebreek. Nee, Iemand anders, die liggaam van Sy Seun aan die kruis.

Die teoloog AA van Ruler praat iewers van die kruis as God se weerligafleier op die dak van die wêreld. Die kruis is die plek waar God se oordeel weggelei word van mense wat dit verdien het.

Aan die kruis is Sy hande deurboor – God se deernisvolle hande – hande wat nie wil straf of slaan of ‘n beskuldigende vinger wil wys nie.

Nee, God se hande wil ons vorm soos klei.

Daarom is ware vryheid juis om in hierdie hande te rus.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s