Om tevrede en dankbaar te lewe! (Luk 12: 13 – 21 en Ps 49: 1 – 21)


OM TEVREDE EN DANKBAAR TE LEWE!

Ons mense is altyd geneig om te dink as ons ryker was, of mooier was, of maerder was, of meer geleenthede het, sal dit met ons beter gaan. Ons is geneig om met alles ontevrede te wees en altyd te strewe om meer te besit. Daarom dink ons baie keer dat materiële dinge geluk kan koop.

Koning-Midas-goudDit laat ‘n mens dink aan die mitiese verhaal van Koning Midas wat verskriklik graag ryk wou wees. ‘n Feëtjie het eenkeer sy ongelukkigheid raak gesien en hom gevra wat hom makeer. Hy het geantwoord dat hy ook graag ryk wou wees soos die ander konings, dan sou hy gelukkig wees. Die feëtjie het sy wens aangehoor en vir die koning gesê dat alles waaraan koning Midas sou raak, sal in goud verander. Die koning was skepties, maar tog bly.

ما_معنى_الطاقةSowaar alles waaraan die koning geraak het, het spoedig in goud verander. Dit was wonderlik hoe koppies, glase, mure, beddens, ja alles in goud verander. Spoedig was hy die rykste koning en dit het hom baie bly gemaak. Almal het na hom opgesien.

Maar spoedig het die nuutheid van sy gawe verdof – dit was nie meer so lekker dat alles in goud verander het nie. Selfs die gras, die bome, die blomme het alles in dooie goud verander. Koning Midas het begin nadink, hoe hy die groen gras en die bome se blare en die reuk van die blomme mis en hy het bitterlik begin huil. Hy het besef dat goud en rykdom nie alles is nie.

Toe kom koning Midas se dogter in om hom te vertroos. Toe sy aan hom raak het ook sy in goud verander. Nou was koning Midas totaal eensaam, sy sug na rykdom het ook sy enigste dogter van hom weggedryf. Hy was nou alleen met al sy goed, maar sonder enige vreugde.

‘n Mens kan inderdaad in ‘n wêreld van goud leef, maar totaal eensaam! Dit is waaroor die gelykenis van die ryk dwaas in ons gelykenis handel. [Luk 12: 13 – 21] Die ryk man wou meer en meer en het sy skure vol gemaak. Maar ewige geluk het hom ontbreek, Die dood het hom kom haal, nog voor hy sy goed kon geniet. Die gelykenis sê daarom dat ‘n mens jou skat by God moet bymekaar maak, want eers dan het jy permanente rykdom.

Natuurlik kry ‘n mens ryk en arm dwase. ‘n Dwaas is iemand wat dink dat geld vir hom geluk kan koop. Daarom kan ‘n arm man, ook ‘n dwaas wees as hy dink geld sal vir hom alleen vreugde bring.

Geld is soos seewater – hoe meer jy drink, hoe dorser word jy. Dit is waarom die Nasionale Lottery vir mense so aangryp. Jy droom nie van hoe jy ander kan help nie, maar eerder wat ek met die miljoen kan doen.

Materialisme bring indiwidualisme (elkeen vir homself), wat weer eensaamheid meebring. So aborteer ons God en ons medemens uit ons lewe. Ons verloor ons deernis en medelye met ons medemens. On verval in depressie want ons leef vir onsself en nie vir ‘n hoër doel nie. Daarom het ons niks meer om voor te lewe nie. So verloor ons die hoop en die sin van ons eie lewe.

Ons is so gespanne oor die dinge wat ons kan verloor, dat ons in spanning, depressie, gejaagdheid, minderwaardigheid en angs lewe. Inderdaad word ons goed ons god. Ons kan maklik sê, maar ek sal nie val vir die geldgod nie. Maar die geldgod vang ons.

Luister na die verhaal van Ds. Walter Luthi, ‘n Duitse teoloog: Hy vertel van die geslepe ou jakkals, wat ‘n plattelandse dorpie geteister het. Elke nag het hy hoenders, duiwe en lammers gevang.

‘n Paar opgeskote seuns het besluit hulle sal hom vang, ‘n tou om sy nek bind en met hom deur die strate paradeer. So sal hulle die onbetwiste helde van die dorp wees. So gesê, so gedaan. Met ‘n gelukskoot kom hulle op die lê-plek af. Dadelik kommandeer hulle die jongste onder hulle, die skraalste om by die gat in te kruip, natuurlik om die jakkals te vang en uit te bring. Vol bravade duik die seun in die gat in. Triomfantelik roep hy: “Ek het hom. Ek het hom. Ek het hom!” Maar toe begin die grond te bewe en die stof slaan op. Doodsbenoud roep die seun. “Hy het my! Hy het my! Hy het my! Eina! Hy het my!” So gaan dit ook met materiële dinge. Jy dink nog jy beheer dit, dan beheer dit jou.

Dit is juis hierdie geldgod wat twiste bring in families en in huwelike en selfs tussen lande. Baie van Afrika se oorloë gaan oor bloeddiamante en olie. Dan geld natuurlik die wet van die oerwoud, “die sterkste wen.” Twiste, stryd, oorlewing, maak dat mense soos die diereryk elkeen vir homself baklei en nooit die ander raaksien nie.

Dit is soos ‘n venster. Kyk ‘n mens deur die venster, dan sien jy ander mense raak. Verf jy ‘n lagie silwer agterop, dan sien jy net vir jouself.

Wie vir homself lewe, lewe sonder vreugde en sonder hoop. So ‘n mens sterf ook sonder sekuriteite, want ‘n doodskleed het geen sakke nie. Die Woord sê egter dat God wil hê, dat ons in vreugde en blydskap en in eenvoud moet lewe, met die kinderlike vertroue dat God vir ons sorg. Ons moet leer om te minimaliseer, ons hoef nie alles te hê nie.

Ons moet dinge koop oor hulle nuttigheid en nie oor die status wat dit vir ons gee nie. (to impress people)

Ons moet leer om te kan weggee. (gawes)

Ons moet leer om in afhanklikheid voor God te lewe. (Saligsprekinge)

Ons moet leer om te bid: “Ons Vader, gee ons vandag ons brood.” Ons moet leer om in dankbaarheid te lewe – liewer ‘n halwe skewe brood met vrede, as ‘n huis vol kos met ‘n getwis daarby.

Ons moet leer om ongekompliseerd te lewe.

Ons moet waardeer wat ons het – Soos die Gamat wat op die parade in Kaapstad vir die deftige dame wat klaar oor alles wat so duur is, gesê het: “Madam djy moenie kla nie, ons het elke dag ‘n gratis trip om die son.”

Geniet die dinge wat God vir jou gegee het, al is dit nie die luukste of nuutste op die mark nie. Geniet die lewe saam met jou vrou en jou kinders. Geniet die lewe.

SPARK.Blog_.DankbaarheidGeniet die dinge wat geld en goud nie kan koop nie, soos ‘n park, ‘n biblioteek, ‘n katedraal. ‘n Mens hoef nie iets te besit om dit te geniet nie. Geniet in oorgawe die lewe, die skepping, die seisoene, mense, jou lewensmaat, jou kinders, jou vriende, jou gesondheid of ‘n boek.

Iemand het eenmaal gesê dit is genade om nie te veel te hê nie en dit is ook genade om nie te min te hê nie. Ernst Schumacher het gesê: “Small is beautiful.”

Leer om die klein dingetjies in die lewe te geniet. Wanneer ons bid: “Lord let your Kindom come!” moet ek ook bid: “Lord, let my kingdom go.”

dankie_1Leer om in eenvoud en in vreugde te lewe. Ons grootste skat is nie wat ons besit nie, maar wat in ons is, naamlik die geloof in Jesus Christus ons Here. Niks en niemand kan ons hiervan beroof nie. Daarom sê die Heidelbergse Kategismis dan ook by Vraag 1: “Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?”

Dan antwoord die Kategismus: “Dat ek met liggaam en siel, in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort. Hy het met Sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ‘n wyse, dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien ….”

Wat is meer vertroostend as om te weet ek hoef nie vas te hou aan my aardse skatte nie, maar dat God my vashou en dat elke haar op my kop getel is. AMEN

[Verskeie bronne is gebruik in die samestelling van die preek.]

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.) 

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s