Terwyl ons mekaar afskryf, skryf God vir ons in genade op. (Jes 61: 1 – 2 en Luk 4: 16 – 30 en Joh 8: 1 – 11)


TERWYL ONS MEKAAR AFSKRYF, SKRYF GOD VIR ONS IN GENADE OP.

Elke dag is ons besig om mekaar te oordeel en te veroordeel. Ons doen dit met ons woorde, gesindheid, dade, houdings en gedagtes. Miskien is dit die rede waarom ons so graag wil hê dat die kerk moet preek oor oordeel.

806ee4ca-a8d2-4f5a-8d20-58cfd8af2a37Lidmate wil graag hê dat dominees elke Sondag moet preek oor sonde en oor die oordeel van God.

Baie lidmate skep ‘n behae daarin om te luister na veroordelende prediking. Lidmate sê dominees preek te min oor sonde, die oordeel, die hel, die vuur en die duiwel. Hulle sê: Dominee, jy moet preek oor sonde, en oor die hel en die vuur. Jy moet mense bang preek dat hulle kan wakker skrik. Hulle hare moet regop staan, so moet jy vir hulle preek. Mense wil van die vuur en die hel en die oordeel hoor – wat ANDER veroordeel .

Ek lees van ‘n predikant in Engeland in die begin van die vorige eeu wat so goed was om te oordeel en die hel aan mense te verkondig dat hulle op ‘n sekere Sondag aan die pilare van die kerk vasgeklou en geskreeu het: “Help ons gaan verlore!”

Genade en oordeel is twee kante. Wat moet verkondig word?

In Jesaja 61: 1 – 2 voorspel die profeet Jesaja eerste die genade-jaar van die Here en dan daarna verkondig Hy die oordeel. Met ander woorde die profeet Jesaja voorspel daar sal eers ‘n genadejaar wees en dan sal die oordeel van God aanbreek. Jesus Christus se geboorte sal die begin van die genadejaar aankondig en die genadejaar sal voortduur tot en met die wederkoms. Eers met die wederkoms sal die oordeel van God inwerking tree.

Die Here se eerste koms is die genadejaar en Sy tweede koms is die wederkoms, die oordeelsjaar.

In Luk 4: 16 – 30 het die Here Jesus die profeet Jesaja in Jes 61: 1 – 2 woordeliks aangehaal, maar het opgehou net voor die laaste gedeelte van vers 2 wat lui: “… die dag waarop ons God sy vyande straf.” Hy het met ander woorde Jesaja aangehaal tot en met die genadejaar, toe opgehou lees en die boekrol toegemaak en toe gaan sit om te preek. Hy het nie die gedeelte van die oordeel gelees nie, omdat dit eers later kom. Jesus het nie die Joodse gebruik gevolg om Sy preek met oordeel af te sluit nie. Juis daarom was dit een van die redes waarom die skrifgeleerdes en die Jode Hom verwerp het.

Jesus Christus het hierdie profesie in vervulling laat gaan. Hy het gekom om die genadejaar aan te kondig. Hy het nie gekom om te veroordeel nie, daarom staan daar:

. om die Evangelie aan die armes te verkondig (hulle wat armoedig voor God        is)

.. vrylating vir gevangenes (hulle wat gevang gehou word deur hul sondes)

.. herstel van die gesig van die blindes (hulle wie nog blind vir die Here is)

.. Hy het gekom om die genadejaar aan te kondig.

Geliefdes, daarom skilder die Nuwe Testament nie vir God as ‘n harde ongenaakbare despoot nie, maar as ‘n liefdevolle God.

judging-you-1Stephan Joubert beskryf dit duidelik: “Terwyl ons mekaar afskryf, skryf God ons in genade op.” Ons kan so maklik met ‘n veroordelende fingerwysing, mekaar afskryf en veroordeel. Ons weeg mekaar en as ons iemand te lig beskou – ignoreer ons dié persoon of smeer sy naam swart. Met veroordelende harte weeg en beoordeel ons mekaar. Vir genade is daar geen plek nie.

Daarom is my werk nie om vir u te vertel wat u moet doen en nie moet doen nie, Ek moet nie die oordeel van God aan u verkondig nie, dit is God se werk met die Wederkoms. Nee, my taak is om elke Sondag aan u ‘n ander kant , ‘n ander fasset van God te verkondig. Om God se liefde in al sy veelkleurigheid en vrolikheid aan u te verkondig. My taak is nie om u met prediking te veroordeel nie, maar om vir u elke Sondag te verkondig dat God vryspreek en lief het.

Daarom het die Here Jesus ook die owerspelige vrou in Joh 8 nie veroordeel nie, maar aan haar genade betoon omdat dit die genadejaar van die Here Jesus is. Wanneer die kerk iemand vermaan of tugtig, is dit nie om iemand te veroordeel nie, maar om so iemand reg te help (op te help). Daarom geskied die kerklike tug altyd in liefde.

angel-blowing-trumpetDie genadejaar strek vanaf Christus se geboorte tot en met Sy wederkoms. Daarom leef ons hier in die jaar 2018 nC in die genadejaar van die Here.

Eers as die horlosie en die kalender van hierdie wêreld gaan staan hou die genadejaar van God op.

Tot dit egter gebeur moet die kerk van die Here die genadejaar verkondig.

Daarom preek ons Gereformeerde dominees so min oor die hel en oordeel van God: omdat ons nog in die genadejaar van die Here lewe. Dit is die GENADEJAAR! U as Nuwe – Testamentiese gemeente, Adelaide lewe binne in die genadejaar. Wat ‘n voorreg?

Daarom is dit my vreugde om elke Sondag aan u die GENADEJAAR van die Here te verkondig. Om elke Sondag ‘n anderkant of fasset van God se liefde, genade en deernis aan u te verkondig. U moet elke Sondag verwonderd staan voor God se ongelooflike liefde.

Wanneer die Evangelie so gebring word dat dit jou bang maak, is daar ‘n probleem. ‘n Bangmaak Evangelie het in homself die kiem van dwaalleer. Die woord EVANGELIE beteken immers “goeie tyding” of “goeie boodskap” en daarom wil die Evangelie jou vry maak, jou los maak. Ja, die Evangelie wil vir jou vreugde en blydskap bring. Die toets van suiwer Woordverkondiging is of die Woord “vry maak” om ‘n nuwe verloste lewe te lewe.

Mense word nie verander deur bangmaak – prediking nie, maar deur liefdevolle prediking, waarin hulle telkens verstom staan voor die wonder van God se liefde vir die wêreld.

Jubel in die Here, Gemeente! Julle is bevoorreg om in die genadejaar van ons Here Jesus Christus te lewe.

beginsels-om-te-gee2Omdat ons in die genadejaar van die Here lewe en die Here aan ons, soos aan die owerspelige vrou in Joh 8 genade betoon, moet ons ook aan mekaar genade betoon.

Daarom staan daar in Luk 6: “ Moenie oordeel nie, en oor julle sal nie geoordeel word nie. Moenie veroordeel nie, en julle sal nie veroordeel word nie. Spreek vry, en julle sal vrygespreek word. Gee, en vir julle sal gegee word.”

rippel wat ek is is net genadeDaarom moet ons nie op boemelaars neersien nie …. hulle lewe van ons menslikheid. Daarom moet ons nie ‘n ongehude moeder verwerp nie …. hulle soek net vergifnis. Daarom moet ons nie van gevangenes vergeet nie …… hulle wil besoek word. Daarom moet ons nie Vigs-slagoffers veroordeel nie …. hulle soek aanvaarding. Daarom moet ons nie op armes neersien nie ….. Hulle soek ons respek. Daarom moet ons nie siekes vergeet nie …. hulle lewe van ons belangstelling. Daarom moet ons nie van sterwendes vergeet nie ….. want hulle lewe van ons deernis. Daarom moet ons nie ons vyande vergeet nie ……. want hulle soek ons vergifnis.

Ons moet genade betoon, omdat aan ons genade betoon is. Want sien ons lewe in die genadejaar van die Here Jesus Christus.

U en ek is nie so oulik soos ons partykeer dink nie. Ons besittings, talente, geleerdheid, gesondheid is alles maar genade. Paulus sê ons is slegs maar voorwerpe van die Here se ontferming. Juis omdat ons voorwerpe van die Here se ontferming is, behoort ons dit nie moeilik te vind om in genade, in liefde en in ontferming met mekaar saam te leef nie.

Gemeente, dank God dat ons nog in die GENADEJAAR van ons Here Jesus Christus leef. GOD SE GENADE IS DAAROM GROTER AS SY OORDEEL.

Dit is daarom vir my ‘n groot vooreg om elke Sondag aan u die Here se genade te verkondig. Ons leef uit Sy genade ….. want sien ons lewe in die genadejaar van onse Here Jesus Christus. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s