God beskik, maar die mens moet wik. (Rut 1 – 4 )

GOD BESKIK, MAAR DIE MENS MOET WIK.

‘n Waterkrisis stuur op Suid – Afrika af.

downloadOp 21 April 2018 is dit dag Zero vir die Kaap wanneer daar nie meer water gaan wees in die krane van die Kaap nie. Die Nelson Mandela Metropool se damvlakke staan op ‘n skrale 26 %. Ook Manguang in die Vrystaat staar ‘n waterkrisis in die gesig. Politieke partye gee mekaar oor en weer die skuld vir die huidige krisis. Dit kan katastrofiese impak hê op Suid Afrika.

waterDaar is ‘n paar feite wat ons moet onthou. Suid Afrika staan bekend as ‘n waterskaars land. Dit het ek al van my skooldae af geleer. Die aardverwarming het ook ‘n groot rol, wat veroorsaak dat Suid – Afrika se weerpatrone beslis gaan verander. Ons kan meer droogtes verwag oor groot dele van ons land, aldus die geleerdes. Aardverwarming het die mens oor homself gebring, omdat ons die natuur se bronne uitput en te veel koolsuurgas in die atmosfeer vrystel. Daarby moet ons onthou dat die bevolking van Suid – Afrika sodanig gestyg het, dat die aanvraag vir water baie hoër is as 20 jaar gelede. Meer mense moet met dieselfde hoeveelheid water uitkom. Mense stroom ook in hulle duisende na die Kaap vir werksgeleenthede en beter infra struktuur. Natuurlik is ons ook nou in ‘n natuurlike afwaartse droogte spiraal, wat eers gebreek sal moet word. Maar selfs al reën dit binnekort, is die Kaap se waterkrisis nie opgelos nie. Daar is te veel mense vir ‘n beperkte hoeveelheid water.

Maar wat sê die Bybel hieroor. Hoe moet ons dit hanteer? Ek lees in Rut 1-4 ook van ‘n hongersnood, wat waarskynlik droogte as oorsaak gehad het. Die verhaal van Rut wil ek toepas op Suid Afrika se water – krisis.

Die spreekwoord lui: “Die mens wik, maar God beskik.” Wik beteken planne maak. Beskik beteken dat God besluit hoe dinge gaan gebeur. Die spreekwoord sê dat ons maar kan planne maak soos ons wil, maar God neem die finale besluite. Vanoggend wil ons hierdie woorde omdraai, deur te sê: “ God beskik, maar die mens moet wik.” God beskik vir ons geleenthede, maar ons moet planne maak om daardie geleenthede te benut.

Dit is in kort ook die verhaal van Naomi in die boek Rut. Die boek Rut is meer die verhaal van Naomi as die verhaal van Rut. Die storie gaan nie soseer oor hoe Rut ‘n man gekry het nie, maar oor hoe Naomi op haar oudag versorg is; hoe God beskik het, maar Naomi gewik het.

Naomi se verhaal is ‘n verhaal van swaarkry en lyding. Sy het ‘n sukkel bestaan gevoer. Daarom verklaar sy: “Moet my asseblief nie meer Naomi noem nie, maar Mara, want die Almagtige het die lewe vir my bitter gemaak ….. Die Here het dan teen my gedraai, die Almagtige het ‘n ramp oor my gebring.” Die woorde klink sommer baie bekend. Dikwels voel ons ook dat die lewe bitter geword het, so asof God teen my gedraai het. Somtyds lyk die toekoms in die “nuwe Suid-Afrika” vir ons baie donker en uitsigloos. Teleurstellings is dikwels deel van ons lewe. Die lewe het vir ons sonder hoop geword.

So het Naomi ook gevoel. Sy is getroud met ‘n sieklike man, Elimelek. Haar twee seuntjies Maglon en Kiljon is ewe sieklik. Maglon was nie baie sterk nie, soos sy naam aandui. Kiljon se naam beteken “maer/ uitgeteer.” Naomi moes dus al vroeg in haar lewe leer om met siekte saam te leef. Toe kom die depressiejare en hul boer uit op hulle stukkie grond daar buite Betlehem. Daar in Betlehem wat beteken “huis van brood”, het hulle broodsgebrek begin lei. Hulle vlug toe suidwaarts tot in die land van Moab. Daar tussen die Moabiete het hulle toe gaan woon. Die Israeliete het neergesien op die Moabiete omdat die Moabiete ontstaan het uit die bloedskande wat Lot met sy eie dogter gehad het. Daar tussen die uitgeworpenes moes hulle gaan bly.

Toe sterf Elimelek en Naomi word ‘n enkelouer met twee seuntjies agtergelaat. Met groot moeite maak sy hulle groot. Uiteindelik het Maglon en Kiljon met Orpa en Rut, twee Moabitiese meisies getrou. Nog voordat hul kinders kon hê, sterf Maglon en Kiljon. Naomi hoor toe dat dit beter gaan in Juda en besluit om terug te trek na Betlehem. Orpa het teruggedraai, maar Rut het saamgegaan.

Toe Naomi en Rut daar in Betlehem opdaag, was hulle lewens by ‘n doodloopstraat. Die lewe was uitsigloos. Hulle kom in Betlehem aan, sonder ‘n sent. Naomi en Rut het waarskynlik gevoel dat hulle het gekom aan die einde van alle hoop. Naomi het verskillende opsies gehad. Sy kon soos verskeie boemelaars op parkbankies, haarself oorgee aan drank. Of sy kon haar skoondogter uitstuur om ‘n prostituut te word. Naomi sou wel op een of ander manier van die wêreld kon afklim.

001-ruth-2In Naomi se doodloopstraat, beskik God vir haar ‘n uitweg. Hierdie uitweg se naam was Boas. God het dit beskik dat Rut juis are opgetel het op Boas se land. Boas was ‘n vermoënde familielid aan Naomi se oorlede man se kant. In die Israelietiese familiereg was dit gebruiklik dat die naaste familielid die verantwoordelikheid het om as losser op te tree vir die betrokke weduwee. Die losser met die weduwee trou sodat sy finansieël versorg sou wees en daar ook ‘n nageslag verseker kon word vir die oorledene.

Boas was die tweede naaste bloedverwant. Hul naaste bloedverwant sou nie sommer met Rut trou nie, want as daar kinders gebore sou word uit die huwelik, sou dit sy eie seuns se erfdeel in die gedrag bring. Boas was egter ongetroud en in sy middeljare en hy het finansieël vooruit geboer. Boas was dus hul enigste hoop.

Die probleem egter was dat hoewel Boas dood goed was, hy ook goed dood was. Daarom het hy nooit tot trou gekom nie. Hy het doodeenvoudig net nie belang gestel om te trou nie.

Hy het haar raakgesien daar op sy lande waar sy are opgetel het. Hoewel sy mooi en jonk is het hy haar as ‘n “dogter” raakgesien. In ‘n latere gesprek prys hy haar as “my dogter ……. wat agter geen man, arm of ryk aanloop nie.” Miskien het hy tog iets vir haar gevoel, want hy gee sy snyers opdrag om ekstra are op die land agter te laat. Hy verbied ook sy werkers om haar nie seksueel te teister nie, daarom sê hy vir sy werkers om “haar nie lastig te val nie.” Hy reël ook vir haar kos daar op die lande.

www-st-takla-org-bible-slides-ruth-696

Dit is duidelik dat Boas iets meer vir Rut gevoel het as respek en vriendskap. Tog neem hy geen verdere inisiatief nie. Hy was dood goed, maar ook goed dood. So gaan die oesseisoen verby en Boas neem geen inisiatief nie. Hy was werklik dood goed, maar ook goed dood.

Die ervare Naomi besef Boas het ‘n bietjie aanmoediging nodig. Sy weet God het vir Boas as losser beskik volgens die Israelietiese familiereg, maar nou moet sy wik en iets doen om Boas en Rut bymekaar uit te bring. Sy weet God het beskik, maar nou moet sy wik.

Daarom gee sy vir Rut die volgende opdrag. Rut moet ‘n lekker bad neem, haarself mooi maak, grimeer, parfuum aansit en haar mooiste klere aantrek. Dan moet sy gaan wegkruip by die dorsvloer, want Boas sou die aand daar gaan slaap het, om sy oes op te pas. Sy moes wag totdat Boas klaar geëet het en klaar gedrink het. Die wyn sou sy weerstand verder verlaag. Dan moes sy by Boas se voete gaan lê en wanneer hy in die nag van haar bewus word, moet sy hom konfronteer met haar reg dat hy vir haar as losser moet optree. As’t ware moes sy vir hom die ja-woord vra. In Hebreeus beteken dit om by ‘n man se voete te lê, dat die vrou “verleidend uitlokkend” by die man lê. Hierdie handeling, maak nie van Rut ‘n goedkoop meisie, wat net agter Boas se geld is nie. Nee, sy eis net haar reg uit volgens Israelitiese familiereg.

Boas word wakker van die sagtheid langs hom, hy ruik die parfuum en in die donker vra hy vir haar wie sy is. Sy vra toe sommer dadelik ook die ja-woord: “Ek is Rut, ek is van u afhanklik, en u is my losser, neem my nou onder u beskerming.”

Die sagtheid van Rut, haar parfuum, sy respek vir haar, haar brose afhanklikheid, die wyn, sy gewete alles word skielik net te veel vir Boas. Dan tree Boas soos ‘n ware heer op. Hy beloewe om met haar te trou en vir haar as losser op te tree. Hy beveel ook sommer vir Rut om by hom te lê tot die volgende oggend.

Die volgende oggend is Boas ‘n nuwe mens. Hy wat eers goed dood was, wik nou vir die vale want hy is smoorverlief. Daar is egter een probleem. Die naaste familielid het die eerste reg om as losser op te tree. Hy is egter die tweede naaste familielid. Daarom konfronteer Boas die man met ‘n tweeledige vraag: “Is jy bereid om Elimelek se stukkie grond by Naomi te koop?” Die man antwoord dadelik “ja”, want hy sien rand en sent. Met die tweede vraag stel Boas vir die familielid ‘n strikvraag: “Is jy bereid om ook met Rut te trou, sodat die grond in die familie kan bly.” Dit sou beteken as Rut kinders kry die grond terug na haar kinders gaan. Daarvoor sien die man nie kans nie. Wat sou dit vir hom beteken om die grond te koop en later weer daarvan afstand te doen. Sy antwoord is ‘n duidelike “nee”.

Nou is die knoop vir die huwelik deurgehaak.Boas trou met Rut. Nou is Naomi ook op haar oudag versorg en beklee sy haar regmatiese status in die gemeenskap. Uit die huwelik is gebore Obed, die oupa van Dawid. Obed kom dus ook voor in die geslagsregister van Jesus Christus.

Die bitter storie van Naomi het verander in ‘n sprokie. Haar bitterheid het in vreugde verander. Dit het gebeur omdat Naomi die geleenthede wat God vir haar gegee het, raakgesien het. Sy het geweet God beskik, maar sy moet wik. God het Boas en die Israelietiese familiereg beskik in haar guns, maar sy moes wik met die kanse wat God vir haar gee.

Daar is vandag so baie mense wat geleenthede by hulle laat verby gaan. Hulle sal liewer op ‘n hopie gaan sit en hulle lot bekla. Ons leef in ‘n veranderde samelewing met nuwe eise en nuwe bedreiginge. Maar sien u ook die geleenthede raak wat God beskik, gebruik u, u geleenthede tot u beswil.

God maak nie van ons robotte nie. Nee, God het ons as mense geskape wat elke dag moet wik en weeg en beplan. As dinge verkeerd loop in my lewe moet ek God nie blameer nie. Ek moet myself eerder die vraag afvra: Het ek die geleenthede wat God vir my beskik het, reg gebruik? Geliefdes, word positief, sien soos Naomi die geleenthede raak wat God vir u en my beskik.

agri-2In die huidige waterkrisis, moet ons ook nie vir God blameer nie. Ons is ‘n waterskaars land, ons het aardverwarming veroorsaak en ons is te veel mense vir ‘n beperkte hoeveelheid water. Dan moet ons verwag dat dit die ritme van die natuur is, dat daar dikwels ook droogtes kan kom. Natuurlik het God ook ‘n plan met droogtes, om ons meer afhanklik van Hom te maak.

Ons moet nie net bid, dat die Here sal beskik nie, Die Here wil ook hê ons moet wik. Ons lewe in ‘n tyd van planne maak. In die huidige waternood in Suid – Afrika sal ons ook moet leer dat God wel vir ons sal beskik, maar dat ons sal moet wik met water.

AgriSA-Banner-image_269473061Ek hoor onlangs van ‘n boer wat sy boorde, in plaas van vloed – besproeiing met druppel – besproeiing natlei. Hy spaar twee derdes water met die verandering in sy watervoorsiening. By die nedersetting op pad tussen Adelaide en Fort Beaufort het die staat vir elke huis van ‘n groen wateropgaartenk voorsien, om aan hulle water behoeftes te voldoen. Ons moet waterwys word. Ons sal moet damme boue, tenks oprig en water hergebruik. Dan word bedoel nie net die staat en munisipale owerhede nie, maar ook elke man en vrou in die straat. Ons sal moet leer om onafhanklik van munisipale water klaar te kom. In die antieke wêreld het hulle in die woestyne tentdoeke gespan wat in ‘n spiraal water afgelei na ‘n watertenk. Selfs net die nag se dou was genoeg gewees vir die volgende dag se watergebruik.

Daarom is die uitdaging vir Suid – Afrika se inwoners om net soos wat Naomi gewik het, om vir haar en Rut ‘n toekoms te verseker, ook te wik met nuwe planne om in hierdie waterskaars land te kan oorleef met min water. Ons moet wik, God sal beskik. Wik en weeg en beplan en bou u toekoms. Voorwaar God beskik, ons moet wik. Ons moet wik en weeg met die geleenthede wat God elke dag vir ons gee. AMEN

[Die hooftrekke en oorspronklike naratiewe dialoog en metafore het ek jare gelede raakgelees en daarvan opsommings gemaak. Dit is grootliks gebruik. Die oorspronklike skrywer het ek vergeet. Ek het egter die preek toegepas in die huidige watersituasie in ons land.]

(Ds. Paul Odendaal is leer van die NG Kerk Adelaide.)

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s