BARMHARTIGHEID IS DIE HART VAN GOD.
Die beste nuus wat ‘n mens ooit oor God kan hoor, is dat God nie ‘n masjien of ‘n beginsel is nie, maar ‘n Persoon. Iemand met ‘n hart – ‘n hart wat kan voel, wat omgee, wat liefhet en wat kan vergewe.
Maar wat sou u dink is die beste nuus wat God ooit oor ‘n mens sou kon hoor? Dit naamlik dat die mens ‘n hart vir Sy medemens gekry het, ‘n hart wat soos God s’n regtig kan omgee en voel en liefhê. Ons is tog immers gemaak na die beeld van God.
Maar wat is barmhartigheid presies? Dit kan in drie woorde saamgevat word, naamlik: mildheid, ontferming en vergewing.
Barmhartigheid begin by mildheid. Dit beteken dat ons oop en ruimhartig is teenoor ander. Dat ons sal onthou, dat ek nie die enigste mens op die aarde is nie. Daar is ook ander mense vir wie ek moet ruimte maak. Barmhartigheid beteken ook ontferming, met ander woorde dat ek bereid sal wees om betrokke te raak as God my nodig het. Dit is om te buig na my medemens en in die nood van die wêreld te help. Barmhartigheid beteken ook vergewing. Hier gaan dit oor die vraag, wat my te doen staan as my naaste lelik, sleg, vyandig en onaangenaam is? As iemand in nood ‘n slagoffer van omstandighede was, dan is dit in ‘n sekere sin nie moeilik om so iemand te help nie. Maar as mense teenoor my lelik was, dan droog barmhartigheid en vergewing gou op. God is egter anders. Vir Hom is vergewing nog altyd deel van barmhartigheid.
Die vyfde saligspreking herinner ons daaraan dat dit in die Evangelie gaan oor mense. Jesus Christus het Sy lewe gegee omdat Hy vir die wêreld omgee. Hy verwag van Sy volgelinge dat hulle ook bereid sal wees om dit te doen. Ons kan so dikwels in ons godsdiens vasval in reëls en “moets en moenies”. Martin Luther het in sy beroemde geskrif oor die vryheid van die Christenmens dit so raak en helder gestel, dat ‘n gelowige is vry van reëls en wette, maar nooit vry van die naaste. (Die Christendom is anders as die meeste ander godsdienste, in die sin dat dit hier nie gaan om reëls nie, maar om mense.)
Maar oor watter mense gaan dit? Wie is my naaste? Mat 25: 31 – 46 gee vir ons ‘n beskrywing van ons naaste in die nood. Dit gaan iemand wees wat honger is, wat siek is, wat sonder klere is of iemand in die gevangenis. Hulle is as’t ware “Christus” wat self aan ons deur kom klop.
Jou “naaste” beteken nie slegs jou familie en vriende nie. Dit beteken die persoon wat op ‘n spesifieke oomblik en plek in jou teenwoordigheid is. Daarom is jou “naaste”, telkens op ‘n spesifieke dag, ‘n ander mens of mense. Jou naaste verander gedurig. Jou naaste is diegene wat in jou direkte teenwoordigheid kom.
Jou naaste is ook jou vyande. Lees ‘n bietjie wat sê Jesus in Mat 5: 43 en verder in verband met ons hantering van ons vyande. Om barmhartigheid teenoor jou vyande te betoon, is seker die heel moeilikste wat die Here van ‘n mens kan vra.
Iemand het eenkeer gesê: “As jy in God glo en jou vriende liefhet, dan is jy ‘n godsdienstige mens, as jy in God glo en ook jou vyande liefhet, dan eers is jy ‘n Christen!”
Toe die Here aan ons barmhartigheid bewys het, het Hy nie “vriende” gehelp nie. Paulus sê dat Christus sy lewe vir ons gegee het, terwyl ons nog vyande van God was (Rom 5: 6 – 10). God moes ons ook eers vergewe voordat Hy van nuuts af, met ons kon saamleef.
Barmhartigheid is nie ‘n luukse of ekstra wat die geloof betref nie. Wie nie barmhartigheid wil wees nie, verstaan nie die hart van God nie. Dit is wat die Here Jesus Christus teen die Farisieërs gehad het. Terwyl hulle stip en noukeurig op die minder belangrike sake gelet het, het hulle dit wat volgens God die swaarste weeg, naamlik die geregtigheid, die barmhartigheid en die trou agterweë gelaat. Om barmhartigheid na te laat, is om die hart van die Christendom uit te skeur. Wat dan oorbly is nuttelose religie.
Ek sluit met die ware verhaal uit die kinderdae van Ds. Walther Lüthi wat appels wou afpluk, maar toe is sy arms te kort. Die appelboom was egter op die buurman se erf. Die buurman het hom gesien, maar was nie kwaad vir hom nie. Hy het vir Walther afgepluk tot hy later te veel gehad het. Toe hy wou begin keer sê die buurman: “Kom, ek gee vir jou regtig genoeg, sodat jy jou trommeldik kan eet en daar nog oorbly vir jou broers en susters ook …”
So werk barmhartigheid ook. God gee vir ons in oormaat genade sodat ons ook vir ons broers en susters kan gee. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)