Geluk begin by afhanklikheid. (Mat 5: 3 en Luk 12: 13 – 21)


GELUK BEGIN BY AFHANKLIKHEID

Is u gelukkig? Ken u geluk? Waar sal u vir uself op ‘n skaal van 1 tot 10 plaas?

021Almal soek geluk. Die meeste mense dink ‘n mens is gelukkig as jy selfstandig en onafhanklik is. Daarom begeer mense om op hul eie bene te staan, ‘n eie huis te besit, om ‘n eie motor te hê en om niemand in die oë te hoef kyk nie. Mense wil in beheer van hulle lewe wees en self kan beplan wat hulle van die lewe wil hê. Dan word God maar net ‘n noodvalskerm, wat jy gebruik as jy hom nodig het. God word ‘n spaarwiel, as iets verkeerd loop in jou lewe. Daarom is daar mos die spreuk: Nood leer bid.

Ons glo dus vas dat hoe beter ‘n mens in staat is om self die gang van jou lewe te beheer, hoe beter is jou kanse op geluk.

Dan lees ons hierdie vreemde woorde in Mat 5: 3, wat lees “Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die Koninkryk van die hemel.” Vreemde woorde! Maar agter die woorde moet ons die Here Jesus Christus sien staan. ‘n Geseënde lewe begin die dag as ‘n mens besef dat jy God nodig het en nie sonder Hom kan leef nie. Hierdie behoefte of afhanklikheid is nie iets wat na ‘n tyd oorgaan nie, maar met die verloop van tyd eerder sterker word.

‘n Geseënde 2018 begin met ‘n diep afhanklikheid van die Here. ‘n Geseënde dag begin met ‘n diep afhanklikheid van die Here.

Geluk begin by ‘n heel spesifieke soort armoede. Die Ou Vertaling het gepraat van dié wat arm van gees is. Dit is mense wat desperaat, moedeloos, radeloos en nie meer in beheer van hulle lewe is nie.

Die slegte nuus is dus dat radeloosheid allesbehalwe lekker mag wees, maar die goeie nuus is dat dit jou ‘n kandidaat maak vir die vreemde geluk. Geloof is dus nie iets triomfantelik of bewonderingswaardig of rustig of vredevol nie. Dit is noodsaaklik! Dit gaan oor mense wat sukkel om reg te kom in die lewe.

Ons voel dikwels ons wil die Here onder meer positiewe omstandighede kies, sodat dit voorbeeldig en bewonderingswaardig mag wees. Maar die Here maak dit vir ons onmoontlik om te kies vir hom. Ons hopeloosheid en radeloosheid dring ons na Hom toe.

bedelen-1024x610God werk met bedelaars ! God wek met nulpunt mense, wat op die einde van hulle krag gekom het.!

Die Here maak dit baie moeilik vir ons as Hy die saligheid by afhanklikheid laat begin, want dit druis in teen ons grein. Tieners droom van selfstandigheid. Jongmense soek selfstandigheid. Grootmense koop selfstandigheid. Ou mense is bevrees dat hulle hulle selfstandigheid kan verloor.

Daarom is die woorde van Jesus hard. Die ryk dwaas van Luk 12 wou ook selfstandig wees. Sy droom was op ‘n illusie gebou.

Family-&-Settlement-VisasAfhanklikheid van God beteken, dat  ek afhanklik van God is dat my huwelik sal werk, dat my kinders die jaar sal deurkom, dat daar brood op my tafel sal wees, dat ek ‘n werksgeleentheid het, dat my gesondheid sal hou en dat ek God kan vertrou vir my saligheid.

Ons wil bogenoemde dinge so graag verdien, daarvoor werk, op ons eie voete staan. Kom ons vertrou eerder die Here met ons lewe. Kom ons lewe elke dag in totale afhanklikheid aan die Here.

Wanneer iemand wil verdrink, skop hy paniekerig rond, totdat sy eie moegheid hom laat verdrink. Maar as jy op jou rug lê en jou liggaam laat ontspan, dan dryf jy spontaan op die water, en kan die reddingswerkers jou maklik red en kan jy oorleef.

Ontspan, gee oor, en jy is veilig! Afhanklikheid van God werk amper net so. Net baie beter …… AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s