Ons kan ‘n lewe van HOOP lewe. (Jer 33: 14 – 16 en Luk 21: 25 – 28)


ONS KAN ‘N LEWE VAN HOOP LEWE!

Johan Cilliers verwys na die Wêreld-Burger van 6 September 2000 waarin daar ‘n foto verskyn wat kon kwalifiseer as die foto van die jaar. Op die agtergrond van die foto is die somber getuienis van die skade wat die Russiese tenks in die Tjeteense dorpie Gorkovskoye aangerig het. Al wat oorgebly het van die dorpie is net ruïnes, platgeskiet in die bombardement tussen die Russiese tenks en die Tjeteense seperatiste. Die hartseer verhaal van wat mense aan mekaar doen.

Op die voorgrond sien ‘n mens egter ‘n sewejarige dogtertjie en seuntjie met hul skooltasse, baie opgewonde op pad na hulle eerste skooldag. Hulle gesigte straal, want dit is immers hul eerste skooldag. Wat nog meer aangrypend is, is die feit dat die dogtertjie ‘n bossie pienk blomme vashou in haar regterhand.

‘n Skrynende kontras kan ‘n mens jou beswaarlik voorstel. Op die agtergrond ‘n gebombardeerde buurt en op die voorgrond stap die tweetjies daar as ‘n simbool van hoop en ‘n nuwe begin.

Miskien is hierdie foto juis so inspirerend, omdat dit ons dringendste nood en behoefte van HOOP weerspieël. Ons lewe in ‘n wêreld van ruïnes. Ons leef in ‘n geruïneerde Suid – Afrikaanse samelewing.

Ons leef in ‘n land met die hoogste misdaad, meeste moord, meeste verkragtings, meeste padongelukke, van die hoogte Vigs – statistieke, meeste egskeidings en so gaan die lysie aan. Ons leef in ‘n geweldadige samelewing, in ‘n wêreld waar die woordjie moraliteit al uitgesterf het.

Plaasmoorde gebeur weekliks en die Afrikaansprekende deel van die bevolking ervaar hoe hulle taal en identiteit bedreig word. Die staatsdiens, weermag, polisie en munisipale dienslewering het grootliks gedisintegreer. Ons land is ekonomies afgegradeer na rommelstatus. Meer as die helfte van ons land leef onder die broodlyn en smag na werk en ‘n toekoms. Werkloses is so moed verlore dat hulle gryp na geweldadige partye soos die EFF en hulleself aan geweld en skandelike gedrag skuldig maak. Ons dorpe gaan agteruit, die rommel word meer en dienslewering bestaan amper nie meer.

Daarom is ons baie dae moedeloos en teneergedruk. Elke dag kyk ons vas teen hierdie ruïnes en alles lyk so hopeloos vir ons.

Baie van hierdie ruïnes het ons vir onsself geskep. Ja, ons is die slagoffers van ons eie sonde. Ons bly in die ruïnes wat ons vir onsself geskep het. In die boek Jeremia leef die volk Israel in die ruïnes van die Babiloniese ballingskap. Ruïnes wat hulle vir hulself geskep het. Hulle ongehoorsaamheid en ontrou het hulle in die kloue van Babilon laat beland. Hulle huise, hul tempel, ja alles is afgebrand deur die Babilonieërs.

Baie dikwels is ons ook egter slagoffers van kragte en magte buite ons, wat ons lewens en samelewing vernietig. In Engels is daar ‘n woord PEST wat hierdie kragte saamvat, naamlik “Politics, Economics, Society en Technology”. Ja, ander mense bepaal ons politieke toekoms, die politiek bepaal die sterkte van die SA Rand en die Arabiere bepaal die olieprys.

So leef ons op ruïnes, selfgemaakte ruïnes of ruïnes wat ander mense veroorsaak het.

poland-travel-trip-wa-gene1jpg-324661987790e1e0Maar gelowiges hoef nie en mag nie tevrede wees met die ruïnes waarop ons elke dag leef nie. Die Christelike Evangelie is immers ‘n Evangelie van HOOP! Daarom het ons gelees van twee ankerpunte. ‘n vertrekpunt en ‘n eindpunt. Jer 33: 14 – 16 is die vertrekpunt en Luk 21: 25 – 28 is die eindpunt. Ons eerste skrifgedeelte handel oor die eerste koms van Christus, handel oor Kersfees en die tweede skrifgedeelte handel oor die tweede koms, die wederkoms.

Eerste komstimages

Tussen die eerste en die tweede koms van Christus leef ons. Ons leef tussen die Bethlehem – ster en die Wederkoms-wolk. Tussen die ster en die wolk kan ons nie verdwaal nie. Die ster en die wolk is die twee sekerhede waaraan ons kan vashou. Dit is soos by die atletiekwedstryd van ‘n klein kindjie. Ma staan by die wegspringplek en pa staan by die wenpaal. Die kind weet waarvandaan hy kom en hy weet sy pa wag vir hom. Hy is seker.

Christus Jesus het vir ons ewige HOOP gebring. Eenmaal is ‘n Kind gebore. Eenmaal het Hy geblom, gebloei, verlep op die puinhoop wat hulle Golgota noem. Hy het geblom op die plek waar hulle die skuim, die sondaars, die goddeloses tereg gestel het. Op Golgota het Hy geblom en gebloei vir jou en my. Op die Golgota – ruïne het Hy geblom en gebloei, sodat ons HOOP mag hê. Die HOOP word verder bevestig in die feit dat Jesus ook die ruïnes van die dood oorwin het.

paaseiersProf Johan Cilliers, voorheen professor aan die kweekskool op Stellenbosch, vertel die verhaal van die Down-sindroom kind met die naam van Philip. Sy ouers het hom gereeld Sondagskool toe geneem.

Eers wou die kinders hom nie heeltemal aanvaar nie. Een Sondag, dit was Paas-Sondag het die Sondagskool juffrou plastiese paaseiers aan die kinders uitgedeel met die opdrag om op die kerk se erf iets te soek; wat simbool is van nuwe lewe en dit in die paaseier te sit. Die kinders het met groot opgewondenheid hul paaseiers gevul met simbole van nuwe lewe. Toe is die kinders weer binnetoe, en die juffrou het die een na die ander paaseier oopgemaak, met die gepaardgaande verwondering van die kinders. In elkeen was ‘n simbool van nuwe lewe. In die een ‘n nuwe blaar, in die ander ‘n blom, in die ander ‘n groen grasspriet, Toe kom hulle by die laaste paaseier. Die laaste eier was leeg, dolleeg. Die juffrou vra wie se eier is dit, hoekom is daar niks in geplaas nie? Toe sê Philip, die Down-sindroom kind, baie skaam: “Juffrou dit is myne.” Die kinders vra dadelik: “Maar Philip hoekom moet jy altyd anders as ons wees? Hoekom het jy niks in jou Paaseier gesit nie?” Op sy kenmerkende Down-sindroom – manier het hy gesê:”My paaseier is leeg, want die graf van die Here Jesus is leeg, heeltemal leeg,”

Daar was ‘n paar oomblikke van stilte. Almal het geweet Philip was reg. Toe het hulle begin om hom te aanvaar en met hom maats te maak. ‘n Paar maande later het Philip infeksie opgedoen en hy het onverwags gesterf. Al sy sondagskoolmaats was by die begrafnis. Op sy kis het sy maats een na die ander paaseiers gesit, leê, dolleë paaseiers.

Christus het Hoop gebring in die ruïnes en murasies van die begrafplaas. My graf is slegs ‘n leë dop! Ek is saam met Christus ‘n oorwinnar oor die dood. Of ek lewe en of ek sterwe, ek is getroos, want ek behoort aan Jesus Christus.

Ons leef tussen die sekerheid van Jes 33 en die sekerheid van Luk 21. Ons leef tussen die ster en die wolk. Op hierdie pad tussen die Bethlehem – ster en die wederkoms-wolk het God vir ons tekens gegee om ons te herinner aan die HOOP.

Hy het vir ons sy Woord gegee, as die boek van HOOP, wat oor verbondsgeslagte hoop gebring het vir God se kerk, maar ook vir die heidenvelde. Deur Sy doop word waterkruisies geverf op ons voorkoppe en op die voorkoppe van ons kinders. ‘n Teken en seël dat ons deel het aan hierdie ewige HOOP. Deur Sy nagmaal is die brood en wyn tekens van HOOP, tekens van versterking, tekens van die Here se nabyheid. Ook die kerklike tug beteken om bemoeienis te maak, ‘n nuwe HOOP te bring vir hulle wat onverskillig leef.

Ja die Here het aan ons Sy kerk gegee, sodat kerke oraloor, eilande van HOOP kan word. Dat gelowiges in die kerk, sin en betekenis aan mense se lewens kan bring.

In plakkerskampe sien ek mense blomme en groente plant. Op New York se ashope bou die Negers vir hulle woonbuurtes. Ja, soos die volk Israel die nuwe Jerusalem op die ruïnes van die ou Jerusalem gebou het.

Ons leef in die HOOP, want Christus het aan ons die ewige HOOP gebring. Daarom moet ons dwarsdeur die kerklike jaar, elke dag tekens van hoop bring in die lewens van mense.

maxresdefaultOns moet begin bou en herbou aan ons huwelike, gesinne, gemeenskap, dorp en land. Ons moet adventskerse aansteek in die Advent, kruise oprig in Lydenstyd, leë paaseiers uitdeel in die Pase, wit duiwe loslaat in Pinkstertyd en krone maak vir die Koninkrykstyd.

Ons lewe in HOOP, want Christus het lewe en HOOP gebring. Gaan deel die HOOP uit, met almal op jou lewenspad, want jy het reeds die ewige HOOP. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Lewer kommentaar