DUBBELE AUSCHWITZ IN DIE BYBEL
In die Tweede Wêreldoorlog (1939 – 1945) was die Joodse volksmoord sekere een van die donkerste historiese gebeurtenisse in die wêreldgeskiedenis.
Adolf Hitler het bedreig gevoel deur die Duitse Jode se ekonomiese welvaart en hulle gesien as ‘n bedreiging van die Duitse ekonomie. Daarom het hy besluit op die stelselmatige uitwissing van die Jode, deur hulle in konsentrasie kampe te stop en hulle te dood, onder andere deur middel van dodelike gaskamers. Auschwitz staan seker uit as een van grusaamste konsentrasiekampe.
Maar dit was nie die eerste Joodse volksmoord nie. Ons lees in die Bybel van ten minste twee ander Joodse volksmoorde. Telkens was dit omdat iemand bedreig gevoel het.
Die eerste Joodse volksmoord was die dood van alle Joodse seuntjies met geboorte in Eksodus 1 en 2. Ons lees dat na die dood van Josef, het daar ‘n nuwe Farao oor Egipte begin heers. Hy het niks van Josef geweet nie en hy het bedreig gevoel deur die hoë bevolkingsaanwas van die Jode. Hy het dit as ‘n bedreiging vir Egipte gesien, Daarom het hy die Jode harde handearbeid laat doen, deur stene te maak en die Egiptiese voorraadstede, Pitom en Rameses te bou. Hy het twee Joodse vloedvroue, met die naam van Sifra en Pua opdrag gegee om met geboorte van alle Joodse babatjies, die seuntjies dood te maak en die dogtertjies te laat lewe. Die Hebreeuse vloedvroue was egter ongehoorsaam aan die Farao en het as verskoning gebruik dat die Hebreeuse vroue baie sterk was en voor hulle nog by die vroue kom het hulle al klaar gekraam. Die getalle van die Jode en net almeer geword en die Farao het besluit op ‘n alternatiewe voorbehoedingsplan, deur te beveel dat die Egiptenare elke pasgebore Joodse seuntjie in die Nyl gooi om te verdrink.
Dan lees ons in Eks 2, van ‘n man uit die stam Levi, wat met ‘n Levitiese meisie getrou het. Sy het ‘n seuntjie in die wêreld gebring en hom vir 3 maande versteek. Toe sy hom nie langer kon versteek nie, het sy ‘n biesiemandjie gekry en dit met pik waterdig gemaak. Sy het hom in die mandjie tussen die riete van die Nyl weggesteek, terwyl sy suster ‘n oog gehou het. Dan lees ons hoedat een van die dogters van Farao afgegaan het om te swem in die Nyl. Sy het die mandjie tussen die riete gesien en haar slavinne gestuur om te gaan kyk. Toe die Egiptiese prinses sien dit is ‘n Joodse seuntjie, het sy hom jammer gekry en besluit om hom aan te neem as haar eie seun. Die seuntjie se suster gaan toe af na die dogter van die Farao en vra haar of sy ‘n Hebreeuse moeder kan roep om die kind te kan laat drink, totdat hy gespeen is. Die dogter van Farao stem toe in en is bereid om selds daarvoor te betaal. Toe die seuntjie oud genoeg was het sy moeder hom na die dogter van Farao geneem. Wat hom aangeneem het as haar eie seun. Sy het hom “Moses” genoem, “want ek het hom uit die water gehaal.” So het Moses grootgeword in die Egiptiese paleis en alles geleer oor leierskap. Baie jare later sou Moses, sy volk uit Egipte lei na die beloofte land. Hy sou die redder en verlosser van die Joodse volk geword het, wat hulle van slaverny verlos het, om vir hulle ‘n nuwe toekoms te gee in die beloofte land Kanaän.
Dan lees ons van ‘n ander kindermoord, wat sterk ooreenkomste toon met Moses se verhaal. Ons lees dat met die geboorte van Jesus Christus het die sterrrekykers van die Ooste gekom om aan die Jesus Christus te kom hulde bring, want hulle het geweet dat Hy ‘n Koning sou word. Die eerste plek om ‘n Koning te soek, was natuurlik die paleis van Herodus. Herodus was so ontsteld dat ‘n Koning gebore is, dat hy wou voorkom dat sy eie posisie in gedrang kom. Hy het die sterrekykers gemaak vriendelik gevra, om as hulle die Koning gevind het, verby sy paleis terug te kom, sodat hy ook geskenke vir die Koning kan bring. Natuurlik wou hy die Jesus – Kind doodmaak. Die sterrekykers het toe ook die Jesus – Kind gevind en vir Hom geskenke gegee. God het die sterrekykers in ‘n droom gewaarsku om nie na Herodus terug te gaan nie en hulle het ‘n ander pad terug geneem na hulle land. Daar het toe ‘n engel van die Here aan Josef verskyn en hom gewaarsku om Maria en die Kindjie te neem en na Egipte te vlug, omdat Herodus van plan was die Kindjie te vind en dood te maak. Toe Herodus agterkom dat die sterrekykers hom in die steek gelaat het, het hy woedend geword. Hy stuur toe soldate na Betlehem en die omgewing om alle seuntjies van twee jaar en jonger dood te maak. Dit het tot ‘n kindermoord op baie seuntjies gely. Daarom word daar gepraat van ‘n gekerm op Rama en dat Ragel treur oor haar kinders en dat sy nie vertroos wil word nie. Na die dood van Herodus het daar ‘n engel in ‘n droom aan Josef verskyn en vir hom opdrag gegee om terug te keer na Israel. Josef, Maria en die Jesus Kind het toe in die dorpie Nasaret gaan bly, waar Jesus groot geword het.
Baie jare later, sou die Jesus – Kind wat gered is, later Sy lewe gee om die hele wêreld te verlos van die slawerny van sonde. Hy sou die Messias word wat verlossing gee uit sondenood en uit die ewige dood.
Daarom is daar merkbare ooreenkomste tussen die verhaal van Moses en Jesus. Albei se lewe is as jong babas bedreig. Albei is gered van ‘n slagting onder jong seuntjies. Beide is gebore onder twee diktators wat bedreig gevoel het oor hulle posisies, naamlik Farao en Herodus. Beide was verlossers gewees. Moses het die volk Israel gered vanuit Egipte, die plek van slawerny. Jesus Christus het weer as Verlosser die wêreld gered van die slawerny van die sondenood en die ewige dood.
Daarom is die Kersverhaal nie heeltemal so romanties nie. Ons vergeet van die kindermoord en die baie moeders wat hulle seuntjies onder twee jaar oud verloor het. Daar was ‘n gekerm en ‘n gehuil met die geboorte van Christus. Ons almal verlang na ‘n perfekte Kersfees. Maar daar sal nooit ‘n perfekte Kersfees wees nie. Christus is juis gebore vir die onperfektheid van die wêreld. Christus Jesus se geboorte was onder trane en droefheid, sodat daar hoop kan wees vir ons droefheid en trane en onperfekte lewens. Die eerste Kersfees was onperfek, sodat daar hoop kan wees vir ons wrede en stukkende wêreld. Die geboorte van Christus Jesus was die begin die begin van Christus se “Auschwitz”. Daarom wanneer ons ook somtyds deur ons eie “Auschwitz” moet stap, weet ons, dat ons nie alleen is nie. Christus was alreeds daar gewees.
Die enigste stukkie perfektheid in die Kersverhaal is die liefde van God vir sondaarmense in hulle gebrokenheid. Ware liefde is altyd perfek. Daarom moet ons in hierdie Kersfeestyd en dwarsdeur 2018 altyd streef na die een perfektheid, naamlik die LIEFDE. Daarom sê Paulus ook dat die grootste van alles, die LIEFDE is. Al wat perfek was met die eerste Kersfees, was God se onvoorwaardelike liefde. Wil jy hierin deel? AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)