SELFBEHEERSING IS DIE BESTE WAPEN (Spreuke 16: 32; 22: 24 en 29: 11

SELFBEHEERSING IS DIE BESTE WAPEN

Piet Naudé vertel die verhaal van die Middeleeuse Koning Genghis Kahn wat oor die magtige Mongoolse Ryk in Oos Europa geheers het (1162 – 1227).

www.wikipediaDie koning was lief gewees vir jag en hulle het valke gebruik om die prooi vir hul uit te wys. Wanneer die valk byvoorbeeld afpyl op ‘n haas het hulle geweet, waar om vir die prooi te jag.

(Foto krediet: http://www.wikipedia)

Aan die einde van een van sy middagjagtogte, het hy sy jaggeselskap huis toe gestuur om nog ‘n bietjie alleen in die woud te vertoef. Ook sy mak valk het hy huis toe gestuur, want dié valk het geweet waar die paleis is.

Dit was ‘n warm dag en die koning was moeg. Hy was baie dors en hy kon nêrens ‘n fonteintjie of poeletjie water vind om te drink nie. Uiteindelik sien hy water afdrup van ‘n krans en hy hou sy perd in.

httpwww.twilightatmorningside.comwp-contentuploads201112hawk-13.jpgHy haal sy silwer beker uit die saalsak en probeer om die druppende water op te vang met die beker. Dit gaan maar tydsaam. Net toe die koning die beker na sy mond toe neem, toe peil sy valk op hom af en stamp met sy vlerke die beker uit sy hand.

(Foto krediet: http://www.twilightatmorningside.com)

Die valk gaan sit toe op ‘n hoë rots en vir die koning kyk. Die koning is vies, maar dink dit was ‘n ongeluk. Hy tel toe maar weer die silwer beker op en hou dit onder die druppende water, wat teen die krans afdrup. Na ‘n lang gesukkel is die beker halfpad vol. Net toe hy dit weer na sy mond toe bring om te drink, swiep die valk weer oor sy kop en stamp die beker ‘n tweede keer uit sy hand. Nou is die koning kwaad en waarsku die valk, dat hy volgende keer die valk sal doodmaak as die valk dit weer doen. Weer na ‘n lang gesukkel kry hy die beker weer halfpad vol. Weer swiep die valk oor die koning en stamp die beker uit die hand van die koning. Dit rol tussen ‘n rotsgleuf in, onbereikbaar vir die koning. Die koning is so woedend, dat hy sy swaard rondswaai en die valk doodkap, sodat jy net vere en bloed sien. Sonder ‘n beker moet die koning nou opklim teen die krans om die water met sy hande op te vang. Toe hy aan die bokant van die krans kom, sien hy tot sy skok ‘n erg ontbinde dooie slang, van die heel giftigste slange in die Mongoolse Ryk. Sou hy van die water drink, sou hy sterf. Skielik besef hy, dat hy sy eie valk onskuldig doodgemaak het, wat hom wou red van ‘n gewisse dood. Sy humeur het sy kosbare vriend se lewe gekos. Daar word voorts vertel dat koning Genghis Kahn toe opdrag gegee het, dat ouers en onderwysers hul kinders moet leer om nooit uit woede oorhaastig op te tree nie.

pinterestHoe dikwels verloor ons nie ons humeur en tree uit suiwer woede op nie. Ons is op die pad humeurig met mekaar. Wanneer die staal en die glas van die motorkajuit ons toevou, verloor ons geduld met ander mense op die pad.       (Foto krediet: pinterest)

Padwoede is ‘n algemene probleem op die Suid Afrikaanse paaie. In die huwelik en gesin verloor mense hulle humeur met diegene wat die naaste aan hulle staan.

Ons is veral ook ongeduldig en humeurig met God. As ons bid, moet God ons dadelik antwoord en op ons voorwaardes. Ons het verleer om te wag op God. Ons kan so maklik vir God kwaad raak of dink God kom ons te na.

Mense is ongeduldig en humeurig met hulself. Mense kan hulself nie aanvaar nie. Mense is ongeduldig met hulle voorkoms en besittings. Humeurige mense is gefrustreerde en ongelukkige mense. Wanneer ons so ongeduldig is met mekaar, met God en met onsself is dit ‘n simptoon dat ons van die Heilige Gees vervreemd is.

Spreuke 22: 24 – 25 staan daar: “Moenie maats maak met ‘n opvlieënde mens nie, moenie saamgaan met een wat kort van draad is nie: dalk leer jy sy maniere aan en beland jy in lewensgevaar.”

Teenoor humeur staan geduld. Gregorius die Grote het nie geskroom om geduld “die wortel en bewaarder van al die deugde” te noem nie. Nilius praat van geduld as die “koningin van alle deugde”.

In Spreuke 16: 32 staan: “‘n Geduldige mens het meer waarde as ‘n bedrewe vegter, ‘n mens met selfbeheersing meer as iemand wat ‘n stad inneem.” Duidelik kan ‘n mens aflei dat Koning Salomo ‘n groot premie plaas op GEDULD en SELFBEHEERSING. Met die twee deugde kan jy ‘n stad inneem.

Daarmee ontken ons nie, dat daar so iets is soos woede nie. Inteendeel dit is ‘n menslike emosie. Ons kan dit nie ontken nie. Koning Dawid sê in Ps 30: 6 dat selfs “God se toorn net ‘n oomblik duur, maar sy goedheid lewenslank.”

Wanneer ‘n mens woede onderdruk of ontken is dit net so goed as wat jy ‘n klomp giftige afvalstowwe begrawe. Later skep dit oneindige probleme. Wanneer dit begin lek vergiftig dit stadig maar seker ons liggaam, ons gedagtes en ons verhoudinge. Wie woede opkrop, skep in homself ‘n oorlog. Passiewe aggressie ontplof later in ‘n onbeheerste woede uitbarsting.

‘n Mens moet kan erken as jy woedend is. Maar om daaroor uit te bars is nie konstruktief nie. Eerder moet ‘n mens gaan soek na die oorsaak van jou woede en dit beheersd aanspreek, soos om stoom geleidelik los te laat. Die Here sê mos dat as jy kwaad is, moet jy nie sondig nie.

Ons probleem is dat ons oor die verkeerde goed woedend word. Ons word woedend oor wat mense en omstandighede aan ons doen, in plaas daarvan om woedend te word oor die regte goed soos geregtigheid in die samelewing en wanneer mense verontreg word of as God bespot word. Daarom moet ons leer om oor die regte dinge woedend te word, soos wat Jesus woedend was oor hulle die tempel in Jerusalem verontreinig het met handelaars.

God se geduld staan voorop in die Bybel. Een van God se eienskappe is juis dat hy lankmoedig en vol geduld is. Juis in God se liefde vir sondaars lees ons van sy lankmoedigheid teenoor sondaars. Wanneer Hy sy enigste Seun, Jesus Christus stuur toon Hy aan ons juis sy eindelose geduld met ons. Stukkende goed gooi ons weg. Ons wil nie daarmee sukkel nie. Maar nee, God gooi nie stukkende mense en ‘n stukkende wêreld weg nie. Hy is juis die Pottebakker wat die klei wat ineengestort het op die pottebakkerswiel weer knie en oor begin om ‘n nuwe voorwerp te maak. God maak stukkende mense se lewens reg, omdat Hy geduldig is. Daarom moet ons met ander se foute geduld hê, want ons almal is “onder konstruksie”. God is nog nie klaar met ons lewe nie. As God soveel geduld met ons het, behoort ons ook geduld vir mekaar te hê. Ja, ons moet geduld vir mekaar se foute hê en mekaar nie sommer afkraak nie. Soos wat God my lewe elke dag verander om almeer na Sy beeld te lyk, moet ek God toelaat om ook ander mense se lewens te verander om almeer God se beeld te wees.

Daarom onthou: ons almal is ONDER KONSTRUKSIE.

Ek moet leer om geduldig te wees met my lewensmaat, met my kinders, met my ouers se foute, met my kollegas, met my naaste in die ander motorvoertuig en die straatboemelaar. Wanneer ons ongeduldig en humeurig raak met mekaar, kwets ons ander mense met ons woorde en ons lyftaal. Dit is die seerste seer wat ek ‘n ander mens kan aandoen.

Ons sal ook moet leer as samelewing om meer geduld te hê met bejaardes, kinders, gestremdes en armes.

Ons moet geduld hê met God as ons bid. God spring nie rond om elke dag onmiddelik al ons gebede en versoeke te beantwoord nie. God sien wyer en verder as ons. In die tyd beantwoord God alle gebede. Geduld is om in die swaar van elke dag, nog die baie goeie en mooi dinge raak te sien. Geduld is om God te loof vir sy goedheid elke dag aan ons betoon.

Ten slotte: Die deug van geduld word nie deur inoefening of deur selfbeheersing verwerf nie. Dit is ‘n gawe van die Gees. Daarom wie in die Gees van God wandel, sal ook hierdie deug as ‘n gawe ontvang uit die hand van God.

httpwww.twilightatmorningside.comwp-contentuploads201112hawk-13.jpgIemand wat woedend raak, iemand wat sy humeur verloor het klaar verloor, hy is soos die koning wat sy eie valk uit woede doodgemaak het. Jy bring net skade en skande oor jouself.

(Foto krediet: http://www.twilightatmorningside.com)

Soek eerder die oorsaak van jou woede en spreek dit aan. ‘n Kalm gees is soos genesende salf.

In Spreuke 29: 11 staan daar: “’n Dwaas gee vrye teuels aan sy woede; ‘n wyse mens kry die dwaas naderhand gekalmeer.” Wil jy wys of dwaas wees?                                  AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s