God neem die inisiatief om ‘n naelstring met die dopeling te bind. (Gen 15: 5 – 21)


GOD NEEM DIE INISIATIEF OM ‘N NAELSTRING MET DIE DOPELING TE BIND.

Wanneer ons vandag ‘n ooreenkoms of ‘n kontrak tussen twee partye sluit, gaan die partye gewoonlik na ‘n prokureur en in die prokureur se teenwoordigheid word die kontrak tussen die partye gesluit met die handtekening van die partye en getuies. In die Bybelse tyd het dit anders gewerk. Diere is geslag deur hulle middeldeur te sny en die twee dele vleis teenoor mekaar te sit, met ‘n paadjie tussen in. Party A en Part B het dan saam tussen die twee hompe vleis gestap en daardeur ‘n kontrak gesluit. Die een wat sy deel van die kontrak breek, sal ook middeldeur gesny word soos die slagdiere.

In Gen 15 belowe die Here vir Abram ‘n groot nageslag en grondgebied. Maar Abram wou ‘n versekering hê, dat God se beloftes waar sal word. Daarom het die Here met Abram ‘n ooreenkoms, ‘n kontrak of dan ‘n verbond gesluit.

Abram het opdrag gekry om ‘n vers, ‘n bok en ‘n skaapram te bring, almal drie jaar oud, en ‘n tortelduif en ‘n jong duif. Abram het dit alles vir die Here gebring en dit middeldeur gesny en elke helfte teenoor die ander helfte neergesit.

Die voëls het hy nie verdeel nie. Intussen het Abram op die Here gewag. Die roofvoëls het op die karkasse toegesak, maar Abram het hulle weg gejaag.

genesis-15Book_of_Genesis_Chapter_28-2_(Bible_Illustrations_by_Sweet_Media)

Dan lees ons in vers 12 hoedat ‘n diep slaap oor Abram gekom het. In vers 17 lees ons hoedat die Here toe die son ondergegaan het en dit donker was, ALLEEN tussen die stukke vleis deurbeweeg as ‘n oond wat rook en ‘n fakkel wat brand. Vuur is in die Bybel altyd ‘n simbool van die Here se teenwoordigheid. Abram slaap, maar die Here beweeg ALLEEN tussen die stukke vleis deur. Hy onderteken alleen die kontrak, want Hy weet Abram sal nie sy deel van die kontrak kan nakom nie. God is AKTIEF en Abram is PASSIEF.

Dit is ook die wonder van die kinderdoop. God is ALLEEN aktief, terwyl die dopelinge nie eers bewus is, wat nou met hulle gebeur nie.

DopenDaarom neem God die iniasitief met die kinderdoop. Hy kom stel homself bekend aan kindertjies wat nog niks verstaan nie. God gee die eerste tree in die verbond. Daarom noem ons dit die genadeverbond.

Soos wat ‘n man vir ‘n meisie die hof maak en die iniasitief neem in die verhouding, is God ook die God wat die iniasitief neem in die doop. Later sal die kind bewus word van God se liefde vir haar of hom en God se liefde terug beantwoord.

7d4e66c284a0407bbabd7658c54c7d50Soos wat die naelstring afgebind word by die geboorte en daar ‘n biologiese skeiding plaasvind tussen moeder en baba, word daar met die doop ‘n NUWE NAELSTRING gevorm.

Dit is ‘n geestelike naelstring, waardeur die kind ingelyf word in die kerk van Jesus Christus.

Daarom maak die doop jou ‘n lidmaat van die kerk en nie belydenisaflegging nie. By belydenisaflegging aanvaar die jongmens net die verantwoordelikheid van sy lidmaatskap wat hy met die doop ontvang het.

In die Anglikaanse kerk is die doopvont gewoonlik by die ingangsportaal van die kerk. Wanneer die doopplegtigheid plaasvind, gaan die priester na die doopvont by ingangsportaal en doop die kindjie. Die priester dra dan die kindjie van die ingangsportaal vorentoe en stel hom of haar bekend aan die hele gemeente as nuwe lidmaat.

Maar die doopbelofte vra ook ‘n stuk verantwoordelikheid van die doopouers. Die doopouers beloof om God se kindjie groot te maak in die vrese van die Here. Daar is navorsing gedoen, wat bevestig dat meer as 82 % van die geloofsoordrag plaasvind deur die ouers se opvoeding. Daarna kom vriende se invloed en dan eers die kerk. Daarom is ouers van sleutelbelang as dit kom by geloofsvorming en geloofskweking van dopelinge. Dit kos net een geslag wat afvallig word van die Here, om ‘n ongelowige te kweek. Daarom is die doopbelofte wat die ouers aflê baie belangrik. In 1 Timotheus 1: 5 maak Paulus daarvan melding dat Timotheus se geloof bewerk is deur God, wat sy ma Eunice en sy ouma Loïs gebruik het om die geloofsoordrag te laat plaasvind.

My eerste ervaring van geloofsoordrag het plaasgevind toe ek ‘n klein seuntjie was en my moeder vir my elke aand uit die Kinderbybel geleer het en my geleer het om ‘n eenvoudige kindergebed op te sê. Daarom moet geloofsopvoeding so vroeg as moontlik begin.

KWEEKHUISDie huis is die kwekery waar geloofsoordrag plaasvind en waar integriteit gekweek word by kinders. In ‘n kwekery word bome gesnoei om ‘n mooi vorm aan te neem.

Dink aan Bonsai-boompies wat met groot sorg gekweek, gesnoei en versorg word. Die uiteinde is ‘n kunswerk.

Johannes Calvyn het gesê, kinders het behoefte aan GEBORGENHEID en SEKURITEIT. Om geborgenheid te verseker moet jy baie LIEFDE gee.

Om sekuriteit te gee, moet jy STRENG wees. ‘n Kind moet weet dat daar grense is. Binne hierdie grense is hy of sy veilig. Daarom moet ons ook die dopelinge kweek in God se geborgenheid en sekuriteit. Die dopeling moet die liefde van God ervaar, om geborgenheid te ervaar. Die dopeling moet ook God se sekuriteit kan ervaar, deur streng binne God se wil te leef. As God deur die doop ‘n naelstring met die dopeling bind, dan is die gemeente die baarmoeder waarbinne die dopeling moet groei. Daarom moet die hele gemeente verantwoordelikheid neem om so te leef dat ons dit vir die dopeling maklik maak om te glo. Daarom moet die doopouers ook hulle kind in die kerk en in die erediens grootmaak, want dit is God se baarmoeder. Hulle moet ‘n liefde vir die kerk ontwikkel, sodat hulle eendag aktiewe lidmate van die Here se kerk sal wees.

Daarom moet dopelinge al van kleins af groot gemaak word, met die gebruik dat Sondagoggende is dit die Here se erediens en die Here het met ons ‘n afspraak.

Ons kinders en kleinkinders is vir ons ‘n sieraad. Daarom kan ons getroos wees dat ons kinders deur die doop met ‘n ewige naelstring aan God verbind is. Daarom moet ons, ons huise en die kerk gebruik as die kweekhuis, waar ons ons kinders kan opvoed om eendag jongmanne en jongmeisies te wees wat God ken. Wie sy doopbelofte nakom, sal nie eendag wakker lê van bekommernis of my kind op die regte pad is nie. Mag die Here die doopouers en grootouers gebruik as ‘n kweekhuis vir hierdie boompies wat nog gevorm moet word met GEBORGENHEID en SEKURITEIT.                                       AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s