Jesus regeer met ‘n kruis, nie met ‘n swaard nie. (Joh 18: 1 – 11)


JESUS REGEER MET ‘N KRUIS, NIE MET ‘N SWAARD NIE.

Ons leef in ‘n wêreld van superhelde.

1007265-popeyeNoem maar ‘n paar helde op, soos Tarzan, Superman, Batman, Rambo, Karate – kid en Pop -eye wat spinasie eet om hom sterk te maak.

Ons leef in ‘n “sterk wêreld”, waar daar nie plek is vir swakheid nie. In ons wêreld is daar nie plek vir sagmoedige Neelsies nie. Nee, op sagmoedige Neelsies word getrap, want hulle kan nie hulle man staan nie.

Nice guys come second” in die politiek, in die sakewêreld en sommer oral oor. Mussolini het een maal gesê: “As ek kon kies: eerder 1 dag ‘n leeu as ‘n duisend jaar ‘n lam.” Daarom is die Evangelie nie baie gewild vir die ander 6 dae van die week nie, want Nietzsche het gesê die Evangelie maak ‘n mens nie sterk nie, eerder swak.

thisHierdie wêreld is egter bekend vir sy magsvertoon, sy parades, sy politieke toesprake, vertoon van tegnologie en wapentuig, sy prestasies en rykdom. Die huidige toets van missiele deur Noord Korea is vir Amerika en die Chinese ‘n groot steen des aanstoot.

TS Eliot het nie verniet gesê: “Die meeste probleme in die wêreld word veroorsaak deur mense wat belangrik wil wees.”

Daarom wil die Romeinse soldate en die Jode in Joh 18, met magsvertoon en krag die Koninkryk van God stuit. Daarom kom hulle met ‘n hele afdeling soldate, gewapen met stokke, spiese en swaarde.

Agter die hele episode sit natuurlik die Fariseërs en die Saduseërs wat die meesterbrein agter alles is. Hulle kon niks teen hom vind nie, nou speel hulle vuil en misbruik hulle mag. As jy nie slim is nie, moet jy sterk wees. Dan lees ons van die verrraad. Die wolf in skaapklere is niemand anders as Judas Iskariot nie. Met geld kan jy enigiets reg kry.

Die groot gevaar is egter as die kerk ook deur krag en magsvertoon sy saak wil bevorder.

Dit is dan inderdaad wat Petrus doen, hy pluk sy swaard uit en kap Malgus se oor af. ‘n Mens wil as’t ware vir Petrus gelukwens, vir hom ‘n medalje gee vir sy flinke optrede. Petrus is ‘n ware ridder.

In die Middeleeue het die kerk ook verskeie kruistogte met die swaard onder Constantyn uitgevoer, om die wêreld vir Christus te wen. Dit het egter tragiese gevolge vir die kerk gehad. Dit was ‘n donker tyd in die kerk se geskiedenis. Maar wat sê Jesus vir Petrus: “Sit die swaard in sy skede terug. Moet ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie.” Inderdaad verander die Here die swaard in ‘n kruis.

cross-sword-tattoo-designdownload

(Daar is grafiese ooreenkomste tussen ‘n swaard en ‘n kruis.)

Toe Petrus se swaard weg is, toe word Petrus bang, hy hardloop weg, verloën die Here. Toe hy nie meer met die swaard kon regeer nie, val sy bravade weg. Eers later sou Petrus leer, dat selfverloëning en diens en die kruis die weg van God in hierdie wêreld is.

Eindelik, baie jare later sou Petrus aan ‘n kruis sterf vir sy geloof. Hy het daarop aangedring om onderste bo gekruisig te word, kop onder en voete bo. Hy het homself nie waardig geag om op dieselfde wyse as die Here te sterf nie.

Nie deur ‘n swaard -Evangelie nie, maar deur ‘n Kruis-Evangelie verander die Here dié wêreld.

In Romeine 13 het die Here vir die staat die swaardmag gegee om te heers met die swaard. Maar die kerk het ‘n ander styl, die kerk moet nie deur die swaard en deur mag heers nie, maar met die kruis dien.

As Christen moet ek in my huwelik, in my gesin, in my werksplek, in die samelewing met die kruis dien en nie met die swaard probeer regeer nie. Die swaard staan vir magsmisbruik, maar die kruis staan vir gedienstigheid. Die huwelik, gesin, werksplek en samelewing moet nie deur mag beheer word nie. Nee, ons moet mekaar in die huwelik, gesin, kerk en samelewing dien.

In Fil 2: 3 staan daar: “Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.”

Juis so kom die verandering in die wêreld. Juis so konfronteer God die werklikheid van die kwaad.

186913927

Teenoor die grootdoenerigheid van die wêreld – ‘n kruis.

Teenoor die mag en geweld van hierdie wêreld – ‘n kruis.

Teenoor die skynbaar onkeerbare triomf van die bose – ‘n kruis.

Ons het iets meer aanskoulik verwag, ‘n goue swaard, maar vind ‘n bloederige houtkruis.

God kom die geskiedenis van die wêreld nie ingery as ‘n ridder op ‘n perd met ‘n swaard om te regeer nie.

God kom die geskiedenis van die wêreld ingery as ‘n Nederige op ‘n donkie en Hy dien met ‘n kruis. Daardeur het die wêreld en u en my lewe verander!

Die kruis het ‘n keerpunt geword in die jaartelling, naamlik voor Christus en na – Christus. Die kruis het ‘n kruispunt geword in mense se lewens. Die kruis sny dieper as wat enige swaard ooit kan sny. Dit sny die kanker van sonde weg.

Die swaard kloof oop, maak seer en bring vyandskap.

Die kruis genees en bring heling en versoening.

Ons mense is lief om die swaard uit te haal en mekaar by te kom. Dit bring vervreemding van mekaar en die kanker van haat versprei.

downloadDaarom is die styl van die kerk nie die swaard nie, maar die kruis. Wat hanteer u en ek elke dag, die swaard of die kruis? Wat is u en my styl? Die swaard of die kruis?

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s