DIE HERE IS DIE GOEIE HERDER, WAT ONS BESKERM.
Die afgelope dekades het ons weer geleer wat weerloosheid beteken. Politieke onsekerheid, misdaad, plaasmoorde, die rommelstatus van die Rand, regstellende aksie, politieke staatskaping, werkloosheid ensovoorts het ons weer weerloos gemaak. In die sewentigs en die tagtigs het die Afrikaner op die kruin van selfverwesenliking en mag gery. Nou het alles verander, ons besef deesdae ons eie weerloosheid. Ons wat eers sterk was, het nou swak, regtig swak geword. Ons het weerloos geword.
In Esegiël 34 lees ons ook van die volk Israel wat weerloos geword het, toe hulle verstrooid in ballingskap beland het. Al hulle ou sekerhede was weg. Hulle was uitgelewer aan die politiek van hulle tyd. Die vyand het dit vir hulle swaar gemaak. Die ergste was egter dat hulle eie leiers en die mense van invloed; hulle eie volksgenote hulle uitgebuit het.
Weerloosheid laat mense verskillend optree. Sommiges kry horings. Hulle baklei vir hulself. Ander bly weerloos, sonder horings en word slagoffers van die mense met horings. Ons lees van die vet en sterk skape wat die maeres en die sieklikes verstoot om eerste by die gras en water uit te kom. Hulle trap as’t ware die gras plat en vertroebel die water.
Ja, in tye van weerloosheid gebeur dit so maklik dat elkeen net vir homself leef en die ander, die swakkes met hulle lywe en skouers wegstoot.
Ekonomiese uitbuiting en ekonomiese globalisering laat die rykes nog ryker word en die armes nog armer. Die Arabiere hou hulle olie terug, sodat die olieprys per vat styg en ons ten duurste vir petrol moet betaal en dit vergroot net die armoede van die derde wêreld.
In tye van swaarte en skaarste kry mense horings en ons word aggressief met mekaar. Ons bestuur aggressief, ons rand mekaar verbaal aan, ons beskinder mekaar, ons word suinig, ons buit mekaar uit en so meer. Ons gun mekaar nie ‘n plekkie in die son nie. Ons beveg mekaar.
Ons kry horings, die wet van die oerwoud geld, die sterkes sal wen. Ons werk nie meer koöperatief saam nie. Nee, elkeen doen sy eie ding. (In die outyd het mense saamgewerk en hulle goed met mekaar gedeel. Hulle was nie in kompetisie met mekaar nie,)
Vandag is almal met almal in kompetisie. Die sterkes, die mense met horings seëvier oor die swakkes. Ons sê die swakkes het dit nie gemaak in die lewe nie.
Wie sal tog vir die swakkes, die siekes en die moedverlorenes omgee? Wie sal tog die lammes en die kreupel skape optel? Wie sal na dié omsien, wat geen horings het om hulleself mee te verdedig nie?
Somtyds verlang ons ook om horings te hê, om net ontslae te raak van hierdie gevoel van weerloosheid.
Maar dan lees ons in Esegiël 34 van ‘n Herder wat juis gekom het vir die weerloses, die swakkes, die kreupeles, hulle wat geen horings het om hulle te verdedig nie.
Ons lees die volgende:
“Ek sal self my kleinvee soek …. “ (vers 11)
“ …. so sal Ek omsien na my kleinvee …..” (vers 12)
“ Ek sal hulle tussen die ander volke uitbring …. Ek sal hulle versorg op die berge …. (vers 13)
“ Ek sal vir hulle sorg vir goeie weiding ….” (vers 14)
Ek sal self my kleinvee se Herder wees …..” (vers 15)
“Ek sal die soek wat weggeraak het …..” (vers 16)
Dit klink so al na Psalm 23, na die goeie Herder wat vir sy skape omgee.
Duidelik hoor ‘n mens in Esegiël 34 van die toewyding waarmee die Herder na sy skape omsien en self vir sy kudde sorg. Hy red sy kudde nie net van uitbuiting nie, maar ook van tuisteloosheid en ongeborgenheid.
Hy is die Herder wat saam met sy skape loop in die nag en in die dag, in die koue en in die reën. Hy tel die swak en sieklike lammetjies op sy skouers en dra hulle na veiligheid. In sy hand het Hy ‘n staf om die wilde diere weg te keer en die wat afgedwaal het terug te bring. In die nag slaap hy voor die hek van die klipkraal om sy skape op te pas. Die Here sê mos dat hy die Weg en die Waarheid en die Lewe is.
Wat so wonderlik is dat die Herder die skape soek en nie omgekeerd nie. Ons is te verdwaal om die Here te soek. Ons is te swak om agter die Here aan te loop. Nee, dit is die goeie Herder wat ons soek en wat agter ons aan loop.
Daarom het Hy met Advent agter ons aangeloop, afgekom na die aarde en onder ons kom woon. Hy het ons kom soek en agter ons aan geloop.
Toe hulle hom op die Heilige Donderdagaand gearresteer het, het hy nie horings gekry nie. Hy het Petrus opdrag gegee om sy swaard in sy skede te bêre. Toe Hy weerloos voor Pilatus en Herodus gestaan het, het hy nie horings gekry nie. Toe hy weerloos aan die kruis gehang het, het hy nie horings gekry nie. Nee, hy het gesmeek: “Vader, vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.”Hy was weerloos aan die kruis. Die Herder het soos een van sy skape geword. Hy het die Lam van God geword wat die sonde van die wêreld weggeneem het.
Die duiwel word in sketse voorgestel as die een met horings, want hy is die bakleier, die veglustige, wat vir homself baklei. Hy verlei ons om ook horings te kry, te baklei, aggresief te bestuur, op ander te trap, mekaar te beskinder en af te breek.
Maar kyk na die goeie Herder wat geword het soos ‘n lam sonder horings. Hy het sy liggaam gebreek en sy bloed laat vloei, sodat ons kan leef.
Sonder horings en ‘n swaard het hy oorwin en ons na veiligheid gelei. Julle moet as gelowiges ook sonder horings onder mekaar lewe. Julle moet mekaar nie wegstoot met julle lywe of elkeen vir homself die beste gras afvreet en die water vertroebel nie. Nee, leef in vrede met mekaar saam en gee vir ander ook ruimte in jou lewe.
Ons het nie horings nodig nie. Nee, ons het ‘n Herder wat vir ons sorg, bewaar en beskerm. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)
Môre
Ek het vanoggend op die boodskap afgekom terwyl ek die vers oor troebel waters gesoek het in Eseg. Dit is voorwaar ‘n kosbare woord en my hart stem saam daarmee … ons moet nie horings kry nie!!!
Ek voel skoon opgewonde en bemoedig na ek die boodskap gelees het … dat ander ook soos ek voel en dit daar uit Adelaide!!!
Seënwense
Alta Grové
Pretoria
LikeLiked by 1 person