TUSSEN ANGS EN SEKERHEID
Lewensangs is deel van elke mens se lewe. In ons gelese gedeelte is die dissipels vasgevang tussen ‘n storm op see en ‘n spook wat op die water loop. As’t ware het hulle ‘n dubbele lewensangs. Daarom gaan vanoggend se preek oor lewensangs.
Die skopus is: Tussen angs en sekerheid.
Die preek kan in drie dele verdeel word:
Pars 1: Lewensangs vra wonderwerke
Pars 2: Geloof vra dapperheid.
Pars 3: Vaste sekerheid vra fokus.
Kom ons kom by die eerste deel:
Pars 1: Lewensangs vra wonderwerke
Daar is ‘n spreekwoord wat sê: Nood leer bid. Hoe waar is dit nie. Die meeste gebede wat God bereik is verseker noodgebede. Wanneer dit goed gaan, is gebed vir die meeste mense net ‘n inspanning. Maar wanneer die nood op sy hoogste is, bid selfs die ateïs. Lewensangs kan verskillende vorms aanneem, dit kan finansiële nood wees of siektenood of wanneer jou lewensbestaan bedreig word. Jy het angs oor jou kind wat op pad is per voertuig en of jou kind gelukkig is en of daar genoeg fondse sal wees om jou kind te laat leer. Jy kan angs hê oor jou huwelik wat deur diep waters gaan. Jy kan angs hê oor werksekerheid of oor jou aansoek om nuwe werk. Jy kan angs hê of daar genoeg geld sal wees as jy aftree. Ons leef dikwels van angsmoment na die volgende angsmoment. In die wonderverhaal van die storm op die see, was dit nie anders nie.
Die dissipels was ‘n hele paar kilometer van die kus, toe die storm losbars en die boot gevaar staan om te sink. Jesus was nie in die boot nie. ‘n Mens kan jou net indink in die angs wat die dissipels ervaar het. Toe sien hulle ‘n mens aangeloop kom op die water. Dit is natuurlik onmoontlik en onmiddelik dink hulle dit is ‘n spook. Hulle angsvlakke het nou hemelhoog gestyg.
Wanneer Jesus hulle gerus stel en sê dat hulle nie moet bang wees nie, vra Petrus ‘n wonderwerk. Hy wil op die water na Jesus loop om seker te maak dit is Jesus. Jesus sê vir hom “Kom”. Petrus kry dit toe reg om op die water te loop. Maar toe hy sien hoe sterk die wind is, het hy begin sink. Dan hoor ons sy noodgebed: “ Here, red my!” Lewensangs vra altyd ‘n wonderwerk. Dit is net menslik. Nood leer bid.
Dit bring ons by die tweede gedeelte van die preek:
Pars 2: Geloof vra dapperheid.
Geloof is altyd ‘n sprong in die donkerte. Geloof is altyd ‘n waagstuk. Geloof vra dapperheid en geloofsvertroue. Toe Petrus die boot verlaat het, het hy homself roekeloos op die Here verlaat. Die Kategismis sê: Geloof = Kennis + vertroue. Petrus het ‘n sekere kennis en ervaring van die Here gehad en daarom kon hy roekeloos en dapper Jesus volg en op die water loop na Jesus.
Abraham, Isak en Jakop word nie verniet as geloofshelde voorgehou nie. Hulle het ook roekeloos, sonder om die uitkoms te sien, hulle op die Here verlaat. Abraham het uit Ur van die Galdeërs getrek op pad na ‘n beloofde land, wat hy nie eers in sy lewe kon ervaar het nie. Hy het blindelings en dapper die opdrag van die Here gehoorsaam. Abraham het roekeloos bereid gewees om sy enigste seun Isak te offer op ‘n berg in Moria. Op die laaste nippertjie het die Here ‘n offerdier voorsien, In Hebreërs 11 word ‘n lang lys van geloofshelde genoem wat in dapperheid dit met God gewaag het ‘n onsekere toekoms in. Dink aan Noag, Moses, Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid, Samuel en die profete.
Alle onsekerheid bring angs en daarom vra alle onsekerheid, ‘n dapper geloof. Daarom roep die Here vir ons ook op om dapper die Here te volg, wanneer ons geen kaart en transportakte van die toekoms het nie. Geloof is om vas te hou aan die dinge wat ons nie kan sien nie. (Heb11:1)
In een van die museums in London is ‘n baie interessante maritieme kaart, met die datering van 1525. Die kaart is ‘n primitiewe voorstelling van die Nood-Amerikaanse Kuslyn met die aangrensende kuslyn. Die kartograaf of iemand na hom het dit goedgedink om op bepaalde plekke op die kaart waar daar nog nie ontdekkingsreisigers was nie, waarskuwings te skryf soos: “Hier is reuse” of “Hier is vurige skerpioene” of “ Hier is drake.” Wat die kaart egter merkwaardig maak is die feit dat die Britse ontdekkingsreisiger Sir John Franklin dit in die vroeë 1800’s gebruik het of ten minste onder oë gehad het. Hy het die waarskuwings van sy voorganger met dik hale doodgetrek en met groot letters dwars oor die hele kaart geskryf: “Hier is God.”
Die toekoms is onbekend, onseker, ongekarteer, somtyds stormagtig en dit wil ons lewensbootjie dikwels omgooi. Maar dan is Jesus se uitnodiging: “Kom. Ek is hier.” Daarom kan ons dapper die ongekarteerde toekoms van ons lewe aandurf, met die uitroep: “God is hier!”
Dit bring ons by die derde deel van die preek.
Pars 3: Vaste sekerheid vra fokus.
Toe Petrus na die sterk wind kyk en sy oë van die Here Jesus afgehaal het, het hy begin sink. Sy fokus het verskuif van Jesus na die omstandighede en hy het gesink. Daarom wil die gelese gedeelte ons aanmoedig om altyd ons oë op Jesus te hou. Daarom sê Heb 12: 2 die volgende in verband met geloofshelde, se fokus “….. die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof ….”
Wanneer ‘n atleet aan ‘n wedloop deelneem is al sy fokus op die wenstreep. Hy mag nie omkyk of rondkyk of kyk waar sy teenstaanders is nie. Sy enigste fokus is die wenstreep. Petrus het sy fokus verloor en daarom het hy gesink. Daarom moet ons in ons lewensangste ook nie rondkyk na die grote van ons probleem nie, maar altyd Jesus in die oog hou. Hy is die Voleinder van ons geloof.
Toe ek ‘n jong seun was het ek aan my heel eerste atletiekwedstyd deelgeneem. Ek het goed gevaar en was in die eerste drie posisies. Toe waai my hoedjie af. In my spore draai ek toe om, om my hoedjie te gaan haal. Nodeloos om te sê ek het erg laaste gekom. My fout was gewees ek het my fokus van die wenpaal verskuif na my hoed. Daarom het ek verloor.
Daar word vertel dat kunstenaars wat op ‘n styfgespande tou loop, dikwels ‘n rooi lap of iets soortgelyks aan die einde van die tou vasmaak. Dan konsentreer hulle op die rooi lap en nie op die dieptes onder hulle nie. Met gefokuste aandag kan hulle dit dan regkry om oor die tou te loop.
Daarom roep Jakobus ons ook in Jakobus 1: 6 – 8 op om nie te twyfel as ons bid nie. Die fokus van ons gebed moet wees Jesus Christus en nie twyfel nie. Wie twyfel, kan nie iets van God ontvang nie.
Lewensangste sal altyd met ons wees. Ons lewe as’t ware tussen angs en sekerheid. Maar as gelowiges kan ons die sekerheid van Jesus Christus omhels en weet dat Hy ‘n reddder is uit elke lewensangs. Dan sal ons nie sink nie, maar veilig wees in die hande van onse Here Jesus Christus. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)