Die mens deel en God vermenigvuldig.

DIE MENS DEEL EN GOD VERMENIGVULDIG.

Ons almal ken van skaars tye. Dit is tye wanneer jou inkomste beperk is, wanneer dit droog is, wanneer jou gesondheid sukkel, wanneer jou lewenskrag wil ingee of wanneer hoop skaars is. Ons almal het al gehoor van die 1913 en 1933 se depressie en van die skaarste in die Anglo Boereoorlog. Ons voorgeslagte was meestal arm gewees en niks is weggegooi nie. Die Spoorweë was destyds vir baie arm gesinne, die oop deur na ‘n nuwe toekoms. Daar is met groot spaarsamigheid gewerk met alles. Niks is weggegooi nie. Sedert die 1960’s het dit begin beter gaan met die Afrikaners. Tans leef ons in ‘n era waar mense nog finansiële bekommernisse het, maar ons leef nie meer in skaarste nie. Van alles het ons oorvloed. Dit veroorsaak dat ons op ‘n eiland lewe en nie werklik tred hou met die armoede in ons land en wêreld nie. Armoede in die derde wêreld en ontwikkelende wêreld neem skrikwekkende afmetings aan. Armoede het baie oorsake. Sommige armoede bring mense oor hulself, maar dikwels is armoede die vergrype van een mens of volk oor ‘n ander mens of volk. Mense kan hulle so vergryp aan rykdom, dat hulle baie min vir die ander oorlaat om van te leef. Die Suid – Afrikaanse en wêreldgeskiedenis is vol voorbeelde hiervan. Die huidige staatskaping deur die Guptas en sommige ANC politieke leiers, veroorsaak dat die hele nasie swaarkry. Nepotisme, vermorsing en korrupsie veroorsaak ook dat ons land nie vooruit kan gaan nie. Politieke vergrype was nog altyd ‘n sekere oorsaak van armoede.

Behalwe finansiële armoede en broodsgebrek, kry ‘n mens ook emosionele armoede. Dit is wanneer jy velhonger is dat iemand jou moet aanraak of vir jou ‘n omhelsing moet gee. Armoede het dus verskeie gesigte.

BroodjiesIn ons gelese gedeelte lees ons van die eerste vermeerdering van die brood. Die eerste vermeerdering van die brood het onder die Jode plaas gevind, want ons lees dat hulle op groen gras gesit het en dat daar 12 mandjies kos opgetel is, wat ‘n simbool is van die 12 stamme van Israel. Die tweede vermeerdering van die brood was in ‘n woestyn gebied en daar is 7 mandjies kos opgetel, wat ‘n simbool is van die wêreld. Jesus het dus met die twee verhale van die vermeerdering van die brood en vis, vir beide die Jode en die heidense wêreld in die oog gehad.

In beide wonderverhale was daar ‘n tydelike skaarste van kos. Jesus was nie net begaan oor hulle geestelike armoede nie, maar ook oor hulle fisiese behoeftes. Daarom gee Hy die opdrag aan die dissipels (die kerk) om die groot skares mense te voed. Dit lyk na ‘n onbegonne taak. Hoe kan ‘n paar brode en ‘n paar vissies vir duisende mense kos gee. Tog gee die Here vir die dissipels (die kerk) die opdrag om in geloof die taak aan te pak. Daarom as ons oor die missionale taak van die kerk praat, bedoel ons dat die kerk geroep word om alle soorte armoede aan te spreek. Dit kan fisiese armoede, geestelike armoede, emosionele armoede of selfs net mense wees was velhonger is. Die kerk is geroep om op in alle soorte armoede ‘n verskil te maak. Dit help nie jy bring vir iemand die liefde van Jesus, maar jy laat hom of haar honger gaan slaap nie.

Die ontsettende omvang van armoede, veroorsaak dat ‘n mens somtyds apaties word en verlammend niks doen om ander te help nie. Natuurlik kan ons nie al die armoede en ellende in die wêreld aanspreek nie. Maar ons kan vir indiwidue hoop bring. Hulle vertel van die man wat elke oggend langs die seestrand gestap het en seesterre wat uitgespel het deur die nag, terug te gooi agter die branders. Maar daar het honderde seesterre op die strand gelê. ‘n Verbygander spot met die weldoener en sê vir hom of hy nou dink dat hy enige verskil kan maak. Die weldoener gooi weer ‘n seester agter die branders en sê: “Vir die een het dit ‘n verskil gemaak!”

So kan ‘n mens iemand in jou lewe aanneem in in daardie betrokke persoon of dier se lewe ‘n verskil te maak. Jy kan vir iemand wat swaar kry help. Jy kan vir ‘n eensame bejaarde versorg met jou kuiers en omgee. Jy kan jou oor die straathonde wat verhongerd rondloop ontferm. ‘n Mens word eers ‘n mens as jy kan versorg.

Daarom moet ons nooit dink, dat ons beskeie bydrae van geen waarde is nie. Die Here het met die eerste vermeerdering van die 5 brode en 2 vissies vir duisende kos gegee. Met die tweede vermeerdering van 7 brode en ‘n paar vissies is ook vir duisende kos gegee. Wat ons het, kan deur God vermeerder word. Ons moet God egter vertrou, dat God die bietjie wat ons offer ryklik sal seën om ‘n daadwerklike verskil te maak.

Dit is vir ons ook ‘n troos in ons lewe, om te weet as ons tye van skaarste beleef, dat God by magte is om uit die skaarste in al ons behoeftes ryklik te voorsien. Ek hoor dikwels hoe boere sê, ek weet nie hoe ek deur hierdie droogte gekom het nie. God het net voorsien. ‘n Boer van Strydenburg het eendag aan my bely, dat in die groot droogte van 1983, het hy 3 kinders op Universiteit gehad. As hy vandag sy sommetjies maak, het hy geen idee hoe hy deur daardie tyd van skaarste gekom het nie. Dit kan net God wees.

Daarom het mense in tye van skaarste, altyd ‘n ervaring van God se onvoorwaardelike sorg en getrouheid. Dit is ons troos as kinders van God, dat die hemelse Vader vir ons elke dag sal voorsien in alles wat ons nodig het.

In die gelese gedeelte lees ons dat die Here ‘n jammerte en ‘n deernis vir die mense gehad het. Ons kan dikwels so afgestomp word deur die ellende van die wêreld, dat ons ons hartseer vir mense verloor. Dan word ons apaties en veroordelend.

Ons lees in die Markus 6 – weergawe by die eerste vermeerdering van brood, dat die Here die mense in groepe van 50 en 100 laat sit het. So moet armoede sorg deur die kerk, altyd goed georganiseer word, sodat die hulp by die regte mense kan uitkom. God is God van orde. Leeglêers en luiaards kan nie ontvang van die liefdesgawes van die gelowiges nie. Daarom is barmhartigheid nooit ‘n blanko tjek aan mense wat te lui is om te werk nie. Die Bybel skryf ‘n hoë werksetiek baie hoog aan. Ons moet nie lui mense in hulle laksheid aanmoedig nie. Daarom het ons ‘n fyn onderskeidingsvermoë nodig, om te help daar waar dit regtig saakmaak.

Ons lees ook dat Jesus die kos geseën het. So moet ons ook vra dat God vir ons sal seën by die gebruik van Sy gawes. Die gebruiklike tafelgebed is een van ons mooiste gebruike in ons geestelike lewe. So moet ons Hom ook dank vir reën en elke goeie gawe wat Hy vir ons in die lewe skenk.

Daarom moet ons nooit moedeloos raak oor ons eie lewensnood of oor die wêreld se lewensnood nie. Wat ons het, kan deur God vermeerder word. Daarom kan ons getroos lewe en werk. God kan van min, baie maak. Onthou die wonderverhaal van die arm weduwee wie se olie nie opgeraak het nie. Sy kon al haar skuld betaal en weer die vryheid van die lewe geniet.

Daarom moet ons dit met God waag in ons lewensnood! Daarom moet ons dit met God waag as ons ander wil help. God ken van vermenigvuldig.

Die mens deel en God vermenigvuldig ! AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s