Geduld of ongeduld ?

GEDULD OF ONGEDULD?

Dieter, is ‘n middelklas besigheidsman wat gereeld per trein reis vir besigheid tussen Rotterdam en Amsterdam in Nederland. So was dit weer die Maandagoggend sy weeklikse treinrit. Dié week was dit egter anders. Op een van die stasies nog voor hulle uit Rotterdam weg is klim ‘n “weird” persoon op die trein en sit op die bank regoor Dieter.

Glasgow_UndergroundDaar is nie ‘n ander woord om die man te beskryf nie. Dit lyk en ruik of hy dae laas gebad, geskeer en skoon aangetrek het. Hy het ‘n oorring aan, sowel ‘n ring deur sy neus en tong. Verseker gebruik die man dwelms, dink Dieter. Dat hy nou langs een van die rotte van Rotterdam moes beland. Rotterdam is juis so vol van “junkies”. Hy soek ‘n ander plek op die oorvol trein, want die trein het sekuriteitskameras en hy wil tog nie op ‘n foto regoor die man afgeneem word nie. Maar daar is nie oop plekke op die trein nie. Hy bly maar sit, maar wroeg elke oomlik dat die man so voorbarig kon wees om langs hom te kom sit. Kon hy nie maar van ander vervoer gebruik gemaak het nie. Een vir een kom en gaan die stasies verby. Elke keer as die trein stop wens Dieter, die man wil liewer nou afklim, sodat hy salig verder kan ry. Meer nee, die man bly sit. “Ek hoop nie hy ry tot in Amsterdam saam met my nie”, dink hy. Later vra die “weird” man, vir Dieter ‘n vraag wat die volgende stasie se naam is. Dieter antwoord hom nie eers terug nie. Hy wil nie met die vreemdeling ‘n gesprek begin nie, want hulle is nie van dieselfde klas nie. Plaas hy het liewers besigheidsklas gereis, dan was hy nie nou in die nare posisie om regoor die man te sit nie. Dit sal hom leer om nie so suinig te wees nie.

Dan kom Amsterdam nader. Stadig beweeg die trein die besige Amterdam stasie binne. Die trein stop en die deure suis oop. Dieter gee die “weird” man eerste kans om te loop, want hy is te bang die man vat of skuur per ongeluk teen hom. Uiteindelik is die nare reis op ‘n einde. Of so het hy gedink?

Toe gebeur ‘n volgende nare ondervinding. Op die treinperon reg voor hom sak ‘n meisie flou op die grond. Dadelik loop daar bloed by haar mondhoeke en neus uit. Dieter se gedagtes loop wye draaie. Het sy nie miskien “Kongo – koors” of een of ander tropiese siekte nie. Sê nou maar sy het Vigs. Onmiddelik loop hy ‘n wye draai om haar en staan op ‘n veilige afstand nuuskierig en kyk wat met haar gebeur.

Toe gebeur iets wat hy in sy wildste drome nie kon voorsien het nie. Die vreemdeling wat saam met hom gereis het, wat hy as ‘n rot beskou het, snel sonder om te aarsel die meisie te hulp en vou haar met liefde om met sy arms. Hy dink nie eers twee keer aan die bloedspatsels op sy klere en gesig nie. Hy praat rustig en vertroostend met haar en haal ‘n half bottel warm Coke uit sy verslete sak en laat haar daarvan drink om haar bloedsuiker op te jaag. Hy kalmeer haar deur haar voorkop met liefde te streel. Toe sy klaar gedrink het, tel hy haar op en dra haar na die noodhulpkamer van die ondergrondse molstasie. So iets het Dieter nog nooit beleef nie. Die rot was beter as wat hy is. Die rot was eintlik ‘n verskuilde engel. Hy kry skaam oor sy afkeurende houding teenoor die man. En dan was hy gister nog in die kerk. Toe skielik onthou hy gister se preek van die dominee. Daar is gepreek oor die onkruid en die koring. Hy wou nou die onkruid uittrek en het hom lelik misgus. Die rot was nie onkruid nie, maar lewende koring wat voluit soos Christus gegroei het.

imagesIn Mat 13: 24 – 30, 36 – 43 vind ons een van die 8 Koninkryksgelykenisse van Mat 13. In die gelykenis van die onkruid en die koring word gepraat van “die koninkryk van die hemel”, in plaas van die Koninkryk van God. Mattheus het verkies om te praat van die “Koninkryk van die hemel”, om die onnodige gebruik van die woord “God” uit te skakel. Dit is gedoen uit die nodige respek vir die derde gebod en dit is so verstaan. As jy die totale gebruik van die naam van God kan beperk, is die kanse op misbruik baie minder.

images (1)Die gelykenis gaan oor ‘n man wat koring gesaai het op die land en toe kom ‘n vyand in die nag en saai onkruid (Grieks: zizania) tussen die koring. Die tipe onkruid kom nie in Suid – Afrika voor nie, maar is algemeen bekend in die Midde – Ooste as “drabok” of die engelse naam is “darnell grass”. Die biologiese naam is “Lolium temulentum”. In die vroeë stadium van ontwikkeling lyk drabok net soos koring.

Drabok se saad is matig giftig. Dit het dikwels gebeur in die antieke tyd dat vyande mekaar beveg het deur drabok in mekaar se koringlande te saai.

Daar was selfs ‘n Romeinse wet wat die saai van onkruid in jou vyand se land as ‘n misdaad geklasifiseer het en daarom ook strafbaar deur die Romeinse reg.

Die punt van die gelykenis is dat die Seun goeie saad saai, mense van die Koninkryk saai. Die Bose kom egter en saai onkruid, die aanhangers van die Bose. In die begin is dit baie verwarrend. Wat is goeie en wat is slegte mense? Wat is goed en wat is boos? Dikwels raak ons ongeduldig en wil sommer dadelik dat God die onkruid moet uitskoffel. Die slawe in die gelykenis wou ook sommer dadelik die skoffel inlê.

Waarom kan God nie sommer dadelik van al die slegte en bose mense en sommer van al die boosheid van die wêreld ontslae raak nie. Waarom talm God so lank om te kom. Waarom is God so geduldig met die bose. Skoffel uit! Natuurlik is die ander altyd die “bose” en ek altyd die een wat veilig “bewaar en vergewe moet word.

Daarom staan God se geduld hier regoor die mens se ongeduld.

Die Here kan die drabok nog verander in koring. Die Here is ‘n genadige God wat genadetyd gee vir mense om tot bekering te kom van die bose. In 2 Petrus 3: 9 staan daar:” Die Here stel nie die vervulling van Sy beloftes uit nie, al dink party mense so. Nee, hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore moet gaan nie.” Die Here wil die drabok verander in koring. Ons vergeet dikwels dat ons ook drabok was, wat deur die Here in koring verander is.

Ons kan ons ook so maklik vergis met mense. Volgens ons waardeoordeel en subjektiewe maatstawwe kan ons mense verkeerd opsom. Hoe dikwels maak ons nie foute met mense nie. Ons beoordeel mense opgrond van die uiterlike en nie die innerlike nie. Somtyds verras mense ons deur hulle christelike optrede wat baie meer eg is as ons eie optredes. Dit is nie vir ons om die skoffel in te lê nie.

Jesus het in Sy eie lewe baie geduld en empatie gehad met die drabokmense van Sy tyd. Hy het gemeng met sondaars, tollenaars, prostitute en randfigure. Eerder as om hulle uit te ruk het hy eerder hulle opgeroep om deel van Sy Koninkryk te word. Jesus het hoop gehad vir die mense vir wie ons geen hoop het nie.

downloadDie fout wat ons ook dikwels maak is dat ons vergeet dat die skeiding tussen koring en drabok dikwels deur ons eie hart loop. Die Russiese Nobelpryswenner Aleksander Solzhenitsyn skryf aangrypend hieroor. Hy skryf aangrypend in sy boek: The Gulag Archipelago die volgende woorde: “ If only there were evil people somewhere insidiously committing evil deeds, and it were necessary only to separate them from the rest of us and destroy them. But the line dividing good and evil cuts through the heart of every human being. And who is willing to destroy a piece of his own heart?

Die diepste moeilikheid is nie die boosheid van ander mense nie, maar die boosheid in my eie hart. En as ek dit gesnap het kry ek meer begrip vir God se eindelose geduld met die drabok in hierdie wêreld.

Maar die gelykenis is ook duidelik dat genadetyd nie vir altyd is nie. Daar kom ‘n stadium in die groeiproses, wanneer die drabok begin verskillend lyk van die koring. Jy sien dit veral in die saadontwikkeling. Die goeie en die bose dra immers nie dieselfde saad nie. Die werke van die goeie en die bose verskil hemelsbreed.

Dan sê Jesus sal die engele kom en kom oordeel tussen die goeie en die bose. Daarom eindig die gelykenis met die duidelike oproep: “Wie ore het, moet luister.” Daar kom wel ‘n oordeel, en dit sal ons loon om nie God se goeie geduld, sy duur genade en sy vriendelike liefde te minag en onverstoord op ons onkruidpaaie aan te karing nie.

Juis daarom moet ons nie goedkoop omgaan met ons eie harte nie, maar dit gedurig ondersoek vir drabok. Ek moet meer begaan wees oor die drabok in my eie lewe as die drabokmense wat my grensloos frustreer en waarvan ek ontslae wil raak.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s