RESPEK EN SORG VIR GOD SE WONDERBARE SKEPPING
Johannes Calvyn het gesê dat die onsigbare God, homself sigbaar maak in baie gestaltes. Veral Sy skepping is ‘n vingerafdruk van God se teenwoordigheid. Calvyn het van God se skepping gepraat as die “Teatrum Gloria Dei”. God het die skepping gemaak as ‘n verhoogteater, waar God kan terugsit en waardeer wat Hy gemaak het. Psalm 8 is ‘n lofpsalm van Koning Dawid, waar hy ook die grootheid van God besing. Die “Message – vertaling” van Eugene Peterson vertaal vers 1 as volg: “GOD, brilliant Lord, yours is a household name.”
Psalm 8 het 10 verse. Vers 2 en vers 10 omarm as’t ware verse 3 tot 9. In beide verse word die refrein herhaal: “Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!” So begin en eindig hierdie lofpsalm van Koning Dawid. Die verdere indeling van die Psalm is as volg: Verse 3 – 4 vertel van die grootheid van die skepping en verse 5 – 9 verklaar die verantwoordelikheid van die mens teenoor die skepping. Die skopus van Psalm 8 sou ‘n mens kon opsom met die volgende: Respek en sorg vir God se wonderbare skepping.
Vers 3 tot 4 besing die grootsheid van God. Hulle wat met kinderlike oë na God se skepping kyk, kan nie anders as om Hom te besing nie. God se teëstaanders, hulle wat te groot vir hulle skoene geraak het, die ateïste staan stomgeslaan en kan nie God se skepping verklaar nie.
Inderdaad is God se werk te sien in die makro-kosmos, asook in die mikro-kosmos. Jy het ‘n teleskoop nodig om die oneindige dieptes van die heelal te verken en jou te verwonder aan die sterre en planete. God is nog steeeds skeppend besig om aan nuwe sterre en planete geboorte te gee.
Maar jy het ook ‘n mikroskoop nodig om die mikroskopiese wêreld en die geboorte van nuwe selle waar te neem. God is die God van sterre en mikroskopiese atome. Ons woon op ‘n wonderskone planeet met soveel verskeidenheid, dat natuurwetenskaplikes nog steeds nuwe ontdekkings maak. God is die God van wiskunde, fisika, chemie, elektronika en elke wetenskap wat aan universiteite nagevors word. God het geskep, ons kan maar net ontdek en in verwondering staan.
As jong seun het Dawid lang tye in die veld deurgebring om skape op te pas. Hy was dus in diepe verwondering as hy die hemelruim in die aand dop gehou het. As veldkind het hy homself ook verwonder aan die natuur rondom hom. Maar Dawid was diep bewus van sy kleinheid en sy afhanklikheid. Daarom was hy verwonderend gewees oor die feit dat God soveel verantwoordelikheid aan die mens gegee het.
Dit bring ons by verse 5 – 9, wat handel oor die verantwoordelikheid wat God aan die mens gegee het.
God het die mens gekroon as Sy verteenwoordiger, amper ‘n hemelwese.
Hierdie mens moet met verantwoordelikheid regeer oor alles wat God gemaak het. God wil hê ons moet sorgsaam wees met sy skepping. Dit is deur te sorg, dat jy ‘n mens is. Maar helaas vernietig ons die mooie skepping met ons selfsug en hebsug en gierigheid. Boere kla dikwels oor die bobbejane wat hulle vrugteboorde verwoes en oral skade maak. Hoe moet God nie voel, as die mens oral waar hy kom, skade maak in God se wonderskone skepping. Hoe meer die mens ontwikkel, hoe groter word die rommel wat hy weekliks weggooi. In die ou tyd was die rommel en asgate baie kleiner gewees, want mense het verbruiksartikels oor en oor gebruik. Ons lewe in ‘n era waarin alles netjies verpak word, om maar net die verpakkingsmateriaal weer weg te gooi. So gebruik ons die grondstowwe op, tot nadeel van opkomende geslagte. Ons besoedel die lug, die grond, die water en die see. Die osoonlaag beskadig ons, wat lei tot aardververwarming met katastrofiese gevolge vir die toekoms. Die hartseerste is dat die Amerikaanse president Donald Trump, Amerika wil onttrek uit die klimaatsakkoord wat Obama in Parys onderteken het. Trump wil Amerika weer groot en ryk maak, ten koste van die gevaar van klimaatsverandering.
Daarom gaan die Evangelie nie net oor die redding van siele nie. Die Evangelie gaan ook oor die redding van die skepping. Rom 8: 22 sê die volgende: “Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting.” God se reddingswerk is kosmologies en daarom moet ons inval om die skepping te red en te beskerm.
Een van die nadele van kolonialisme was dat lande soos Brittanje, Afrika se hulpbronne verslind het, ten einde skatryk te word. Die diamant en goudstormloop van ‘n eeu terug is die beste voorbeeld. Dikwels word Afrika uitgebuit deur ander lande, soos wat die Chinese tans met Suid-Afrika doen.
Die beoogde skaliebreking in die Karoo deur Shell is ook ‘n voorbeeld hoe die Karoo se grondwater besoedel kan word. Dit sal ook die skoonheid van die Karoo vernietig.
Kortstondige wins vir Shell, met permanente skade aan die natuur vir almal.
Christene is mense wat “recycle”, wat “groen” dink en wat spaarsamig met grondstowwe omgaan. Christene is ingestel op natuurbewaring. Christenboere oorbewei nie hulle veld nie. Christene mors nie hulle rommel in die strate nie. Christene bewaar die oseane vir die nageslag.
Alles kom neer op twee woorde RESPEK en SORG. Ons moet God se handewerk respekteer en daarvoor sorg. Daarom is ons na die beeld van God gemaak. Wie van die natuur steel, steel van God.
Vers 6b sê dat ons, ons outoriteit van God kry, want Hy het ons met aansien en eer gekroon. Sonder God is ons niks. Daarom moet ons, ons outoriteit oor die skepping met verantwoordelikheid beklee. Daarom moet ons nie net die Evangelie van verlossing aan mense bring nie, ons moet ook die Evangelie van verlossing aan die skepping bring, deur bome te plant en die skepping te genees van die wonde wat die mens dit toegedien het. Die skepping is gemaak, dat die mens en God dit moet geniet. Daarom moet ons die skepping met RESPEK en SORG waardeer en al die lof aan die Here bring. Ons eer die Here, as ons Sy skepping oppas. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)