SWAK, MAAR GEESTELIK STERK
Die sesde brief wat die apostel Johannes geskryf het van die eiland Patmos, was aan die gemeente Filadelfia geskryf. Die argitekte van Klein – Asië het ‘n moeilike taak gehad. Hulle moes in al hul berekeninge voorsiening maak vir die moontlikheid van aardbewings. Dit het algemeen in Klein – Asië voorgekom. In die jaar 17 nC is elf stede van Klein – Asië, ingeslote Filadelfia deur ‘n aarbewing vernietig. Filadelfia is deur Keiser Tiberius vir 5 jaar van enige belasting vrygestel. Daarom het die inwoners die naam Neosesarea as deel van hulle naam bygevoeg.
Daarom spreek vers 12 so bemoedigend: “Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek ‘n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal vir altyd daar bly ….” Geen aardbewing kan die geestelike pilare in God se tempel beskadig nie.
God borg stabiliteit vir elkeen wat volhard in God. As jy ‘n geestelike pilaar is in die tempel en teenwoordigheid van God, sal God se naam op jou geskryf staan. Dit verwys na die heidense gebruik, waar uitsonderlike mense wat ‘n groot bydrae gemaak het aan die Griekse samelewing se name gegraveer is op die pilare wat spesifiek vir hulle gebou is in die Griekse tempel. So sal elke Christen ‘n ewige pilaar wees in die tempel van God. Daar sal met ander woorde ‘n naamsverandering kom. Die naam van Christus sal nou op die gelowiges as pilare van God se tempel geskryf staan.
Die stad Filadelfia wat “liefde vir die broer” beteken was op die hoofroete tussen Europa en die Ooste gewees. Filadelfia het duisende besoekers gelok na sy warmwaterbronne en mediese klinieke omdat die stad op die rand van ‘n vulkaniese formasie geleë was. Daar was altyd ‘n stuk spanning in Filadelfia, wanneer kom die volgende aardbewing. Die Griekse wyngod Dionusios is dan ook in die stad vereer.
In 92 nC onder bewind van keiser Domitianus is ‘n wet uitgevaardig dat die wingerde van Filadefia vervang moet word met graanlande om kos vir die weermag te voorsien.
Dit was eerder om Italië se wynbedryf te bevorder, ten koste van Klein – Asië. Dit was ‘n ernstige ekonomiese terugslag vir die brose Filadelfia.
Filadelfia se Christelike gemeente was klein, swak en het nie groot aansien geniet nie. Diep onder die besef van hulle kwesbaarheid, was hulle egter onberispelik in hulle Christelike lewenswandel. Saam met Smirna, was dit die eniste twee gemeentes wat nie gewaarsku of tereg gewys is nie. Hoe sê Paulus: “As jy swak is, is jy sterk.” Daarom het hierdie gemeente geestelik uitgeblink as ‘n getroue gemeente wat volhard het in die Christelike geloof en hoop. Waarskynlik was die meewerkers van Paulus verantwoordelik vir die stigting van die gemeente. Hierdie gemeente het hulle nie van stryk laat bring deur die Jode, Romeine of oorheersende heidense kultuur nie. Heelwat later toe die Islam in Klein – Asië begin floreer het, het hierdie gemeente nog kragtig voortbestaan.
Tog het hierdie gemeente dit nie maklik gehad nie. Probleme met die Jode was ‘n daaglikse probleem. Veral die Joodse gemeenskap het die Christene uit die sinagoges verdryf en hulle as ketters gebrandmerk, omdat hulle in Christus geglo het. Dit het daartoe gelei dat die Jode die Christene beskinder en beswadder het by die Romeinse owerhede, wat op hulle beurt weer saam met die Jode, die Christene mateloos vervolg het.
Daarom het die apostel Johannes, onder leiding van die Gees geskryf dat God vir die Christene ‘n ewige deur na Sy Koningkryk oopsluit. God self het die sleutel en is daarom die Sleuteldraer.
Die deure wat deur die Jode toegesluit word, sal vervang word met ‘n oop deur na Christus se Koninkryk. Christus, wat die Seun van Dawid is sal self hierdie deur vir die Christene oopsluit en niemand sal dit kan toesluit nie.
Nog ‘n belofte wat aan die gemeente gemaak is, is dat God aan hulle die oorwinnaarskroon sal gee, as hulle aanhou om te volhard op die goeie pad wat hulle reeds is. Hierdie beeld kom uit die atletiekwêreld, waar die wenner ‘n oorwinnarskroon ontvang het.
Hierdie brief aan die gemeente Filadelfia het vir elke gemeente wat nie groot of sterk is nie, die wonderlike vertroosting dat God nie oordeel op grond van die lidmaat getalle of finansiële state nie. God kyk na die geestelike rypheid en volharding van ‘n gemeente. Daarom kan God ‘n klein gemeente net so kragtig gebruik, as wat Hy ‘n makro gemeente gebruik. Dikwels vind ‘n mens in ‘n klein gemeente, ‘n groter betrokkenheid as in ‘n groot gemeente. ‘n Gemeente of lidmaat wat swak voel, is eintlik sterk, as daar na die Gees geluister word. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)