Wittebroodsliefde wat afgekoel het …..


Wittebroodsliefde wat afgekoel het …..

Die sewe briewe aan die sewe gemeentes in Klein Asië is ook vir ons ‘n herinnering en ‘n oproep om wakker te word en God met nuwe toewyding en oorgawe te dien. Die eerste van die sewe briewe is geskryf aan die gemeente Efese. Dit was in die eerste eeu vC die tweede grootste stad in die Romeinse Ryk en ook die tweede grootste stad in die wêreld met ‘n inwonerstal van 250 000 inwoners.

C7Yb4kUW4AEtqoO

Dit was ‘n bekende hawestad in die westelike deel van Klein Asië, waar die Kaisterrivier in die Egeïse See invloei. Daarom was die stad ook op drie belangrike handelsroetes van die antieke tyd gewees.

Efese was bekend gewees vir sy Tempel van Artemis, die Celsus biblioteek en die amfiteater wat 44 000 mense kon huisves. Efese het nie net op ekonomiese en administratiewe gebied uitgeblink nie, maar het ook godsdienstige gebied ‘n leidende rol gespeel.

temple_of_artemisDie tempel vir die vrugbaarheisgodin Artemis (Romeinse Diana) het duisende priesters, priesteresse en prostitute gehuisves. Afgodery en sedeloosheid het hoogty gevier.

Ook die keiserkultus het gedurende die bewind van Domitianus gefloreer en daar is selfs ‘n tempel vir Domitianus opgerig. Efese het ook ‘n belangstelling in toorkunste geopenbaar. Die Joodse bevolking was ook ‘n faktor gewees vir die Christene van Efese.

celsus_library_ephesus_turkeyDie bekende Celsus biblioteek was ook in die stad Efese gewees en het op ‘n stadium 12 000 perkamentrolle gehad. Dit is in 125 nC gebou met leeskamers wat na die ooste kyk, sodat die kamers die beste oggendlig gekry het.

Efese was in die 50′s nC ‘n belangrike sentrum vir die vroeë Christendom. Priscilla en Akwila het die gemeente gestig en Apollos het hulle gehelp. Vanaf 52 – 54 nC het Paulus in die stad gewoon en met die gemeente gewerk en sendingwerk gedoen. Aanvanklik het Paulus in die sinagoge gepreek, maar na drie maande het hy gefrusteerd geraak met die Joodse kunstenaars wat hul brood en botter verdien het deur beelde van Artemis te maak en dan in die godin se tempel verkoop het. Hy het toe na die saal van Tirannus verskuif. Tussen 53 en 57 nC het Paulus die brief 1 Korinthiërs vanaf Efese geskryf. Dit was moontlik in die Paulus toring, naby die hawe waar hy ‘n kort rukkie gevange gehou is. Later, terwyl hy in Rome in die tronk was het hy die brief aan die Efesiërs geskryf.

Die Evangelie van Johannes is moontlik in Efese deur Johannes geskryf omstreeks 90 – 100 nC. Efese was so prominent in Klein Asië, dat Efese een van die stede was wat deur Johannes in Openbaring aangespreek word.

800px-Tomb_of_Saint_John_the_ApostleDaar word ook beweer dat Johannes in Efese begrawe is, vandaar die Johannes basilika wat die die 6 de eeu in Efese gebou is.

Met dit as agtergrond het het Johannes sy eerste brief aan die gemeente in Efese geskryf. Hy begin sy brief met die volgende woorde: “Hy wat die sewe sterre in sy regterhand vashou en wat tussen die sewe goue lampe rondgaan.” Die sewe sterre beteken die sewe leraars en die sewe goue lampe beteken die 7 gemeentes aan wie die briewe gerig is. Sewe is hier die volmaakte getal en beteken dit al die gemeentes en leraars in Klein Asië, is in die beskermende hand van God self. Christus self is in beheer van sy gemeentes en daarom praat ons van Christologie. Nie wette of tradies bepaal of beheer nie, maar Christus self.

Dan verwys Johannes heel eerste na die positiewe in die gemeente van Efese. So is God altyd. Hy sien altyd heel eerste die goeie raak, voor Hy die slegte raaksien. Die gemeente van Efese het hule ingespan en volhardend die goeie gedoen en hulle nie laat mislei met die dwaalleringe wat in daardie tyd hoogty gevier het nie. Die slegte mense waarvan Johannes hier praat is die vals profete en die die Nikolaïete. Hulle het die waarheid dat Jesus die Messias en Verlosser is verdraai. Die Nikolaïete stam af van Nikolaus, een van die sewe diakens van Handelinge 6: 5. Nikolaus het gnosties geword, wat met ander woorde ontken het dat Jesus Christus mens geword het. Die Nikolaïete was soortgelyk aan die navolgers van Bileam en Isebel. Die wandade van Bileam en Isebel het gefokus op afgodery en onsedelikheid. So het hulle sinkristies aansluiting gevind by die heidense leefstyl en keiserkultus.

So moet ons ook die dwaalleer van ons tyd beveg en volhard in die goeie leer. Vandag is daar ook mense wat die maagdelike geboorte of opstanding van Jesus bevraagteken. Ons moet dit uitwys as dwaling en daarop konsentreer om vas en volhardend die gesonde leer te bevestig met ons woorde en dade.

In vers 4 skryf Johannes dat die gemeente van Efese die Here nie meer lief gehad het soos in die begin nie. Hulle het waarskynlik hulle eerste wittebroodsliefde vir die Here verloor en hulle liefde vir hulle naaste het plek gemaak vir ‘n na binne gerigtheid. Hulle was ywerig in die handhawing van die ware leer, maar die suiwer liefde vir God het ontbreek. Efese was missionaal strategies geleë op die belangrikste handelsroetes in Klein Asië. Maar die wittebroodspassie en wittebroodsliefde het ontbreek. Hulle het begin gewoond raak aan die Evangelie. Hulle het ywerig, maar passieloos die Here aanbid.

Daarom word hulle opgeroep om hulle te bekeer en weer die dinge te doen wat hulle eerste gedoen het toe die gemeente pas gestig was. Hulle moet met oorgawe en passie God liefhê. Goeie gewoontes is goed, maar gewoontes kan die passie doodmaak.

Die passie kan alleen terug kom, as die Gees van God weer sy plek in die gemeente kry. Smeulende kole word vinnig opgeflam as as die wind daaroor waai. Net so moet ons ook deur die wind van die Gees ontflam word om weer knetterend vir die Here te brand. Daarom sê vers 7, dat elkeen wat kan hoor moet luister na wat die Gees sê. ‘n Geesvervulde gemeente is ‘n passievolle gemeente wat met passie die Evangelie missionaal uitdra na die wêreld.

Anders word die gevolg van ‘n passielose volg van Christus uitgespel. Die gemeente sal as lamp verskuif en weg gevat word. Die taal was bekend gewees aan die inwoners van Efesieës want hulle stad is drie keer verskuif gewees, onder andere toe die hawe toegeslik en versand het.

Godsdiens uit gewoonte laat die passie verflou en laat jou godsdiens versand. As die passie eers verflou het, verloor ‘n gemeente sy energie en kan die lamp weg gevat word, sodat die gemeente nie meer die lig van God is nie. Volgens die geskrifte van die vroeë kerkvaders het die gemeente van Efese hulle egter reg geruk en weer ‘n inspirerende gemeente in die vroeë kerk geword.

Dan word die brief afgesluit met die wonderlike versekering dat elkeen wat die oorwinning behaal, sal God te ete gee van die “boom van die lewe” in die middel van die tuin, wat in die paradys van God is. Dit beteken die ewige en volmaakte saamwees met God. Die paradys is ‘n Persiese woord wat “omheinde tuin” aandui en wat beteken om deel te wees van God se nuwe Jerusalem as die ewige bestemming.

colossae-patmos-islandDie sentrale boodskap van die brief aan Efese is dus dat ‘n mens korrek en uit gewoonte en met leersuiwerheid die Christelike godsdiens kan lewe. Dit beteken egter nie dat ‘n mens passievol is nie. Goeie gewoontes kan die passie doodmaak. Dan is godsdiens net kopkennis en nie hartservaring nie.

Alleen as ‘n mens weer na die Gees van God luister, sal die passie en die hartservaring terugkeer, sodat God se gemeente oorwinnend kan lewe. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s