Veredelde geloof uit lyding.


Veredelde geloof uit lyding.

Die hawestad Smirna (die huidige Ismir) was 56 kilometer van Efese geleë. Die bynaam van die stad was “Die eerste in Asië” en het 100 000 inwoners gehad. Tempels vir die godin Roma, die god Asklepius, keiser Augustus, en die keiser Tiberias, en Zeus het die stad versier. Dit was die hoofsentrum van die keiserkultus, waar die keisers as gode verklaar en vereer is.

800px-Izmir023

Tydens die Romeinse tydvak was Smirna ‘n sentrum van goeie wyn, wetenskapbeoefening en die mediese wetenskap.

Smirna het ‘n groot Joodse bevolking gehad. Hierdie Jode was die Christene nie goedgesind nie en het gereeld die Christene by die Romeinse owerheid verkla. Dit het daartoe gely dat die Christene gereeld vir hulle geloof vervolg is. Die Christene is ook deur die Jode as ketters gebrandmerk en uit die Sinagoges verban.

Die Christene van Smirna moes oorleef in tye van swaar vervolging. Die gemeente in Smirna is gestig deur Joodse pinkstergangers wat terug gekeer het van Jerusalem en bekeerlinge tydens Paulus se derde sendingreis.

Die brief begin in vers 8 met Christus wat voorgestel word as die Eerste en die Laaste, wat dood was en weer lewend geword het. Teenoor Smirna wat bekend was as “Die eerste in Asië”, word Christus bekend gestel as die EERSTE. Slegs Christus kan die Eerste wees.

Die Christene van Smirna het geweet wat dit beteken om te sterf en weer lewendig gemaak te word, want die stad is drie keer herbou, nadat dit elke keer totaal vernietig was. Netso het Christus letterlik gesterf en het Hy letterlik uit die dood opgestaan. Hy was die tempel wat in een dag afgebreek is en in drie dae weer opgebou is.

Die sogenaamde Romeinse vrede of “pax romana” het die inwoners van Smirna skatryk laat word. Die Jode het in hierdie weelde gedeel en het belangrike posisies in die samelewing beklee. In Smirna was daar vir die verskillende ambagte gildes gewees. Jy moet tot die gilde behoort om jou ambag te kon bedryf. Daarteenoor het die Christene verarm, want hulle is nie toegelaat om deel van die gildes (vakbonde) te word nie. Die Christene was die randfigure van Smirna en het baie swaar gekry. Smirna se Christene was gekenmerk deur drie eienskappe, naamlik verdrukking, armoede en kwaadstokery.

Tog het die lyding van die Christene en hulle armoede veroorsaak dat hulle in solidariteit met Christus geleef het. Daarom staan daar dat hoewel die Christene ekonomies en fisies arm was, hulle tog geestelik ryk was. Dit staan teenoor die brief aan Laodisea, waar die Christene ekonomies ryk en geestelik arm was.

God was aan die kant van die vervolgde Christene en het die Joodse sinagoges ontbloot as die sinagoge van die Satan. Hulle is Satanskinders genoem omdat die Jode teenstaanders van Christus was. Eintlik was die Jode net so erg as die Romeine met hul keiserverering. Beide die Jode en die Romeine het die Christene van Smirna vervolg.

Polycarp burningDie Christene van Smirna word daarop voorberei dat die vervolging nog erger sal raak en dat hulle in tronk gegooi sal word en vir 10 dae baie sal ly. Die tien dae was ‘n afgemete tyd, bedoelende die lyding sal ook verby gaan. Inderdaad het die lyding van Smirna se Christene toegeneem. Die bekendste verhaal was Polikarpus, wat as biskop van Smirna vir sy geloof vervolg is en in die tronk gegooi is. In 155 nC is hy doodgemaak deur hom lewend te verbrand op ‘n brandstapel. Hy het geweier om vir Jesus te verloën. Die Jode het op die Sabbat gehelp om vuurmaakhout bymekaar te maak om die Romeinse owerheid te help om Polikarpus te verbrand.

Daarom roep die brief vir die Christene van Smirna op om getrou te bly tot die dood toe. As beloning sal die Christene nie die tweede dood sterf nie, maar vir altyd saam met Christus lewe.

Lyding kom nie uit die hand van God nie, maar God kan lyding gebruik tot ons voordeel. So het die lyding van Smirna die gelowiges se geloof veredel. Soos wat goud uit ystererts ontgin word deur dit aan buitengewone hoë temperature bloot te stel, so is die geloof van Smirna se gelowiges veredel. Hulle geloof was so suiwer, dat niks negatief gesê kan word van die gemeente in Smirna nie.

polycarpusDaarom kan die skopus van die brief aan Smirna as volg saamgevat word: Veredelde geloof uit lyding.

Wanneer ‘n vrugteboom of ‘n wingerd aan stres blootgestel word deur dit byvoorbeeld te snoei, dra dit meer vrug. Daarom het Jesus ook die beeld van die wingerd wat gesnoei word gebruik, om aan ons te toon dat lyding en stres, die beste in ons kan voortbring.

Christene wat lyding verduur se geloof word getoets. Soos Eugene Peterson dit stel, “to come at the end of your robe”, beteken dat niks anders oorbly as om in AFHANKLIKHEID van God te leef.

Die Christelike kerk het in die eerste eeue dramaties gegroei. Vervolging het die kerk net sterker gemaak. Daar word tereg verwys na die bloed van die martelare, as die saad van die Evangelie. Toe Konstantyn die Christelike geloof tot staatsgodsdiens verklaar het, het die Christene se geloof begin verflou. ‘n Wêreldse gees het begin insluip in die Christendom, wat baie meer skade gebring het aan die kerk as toe die kerk in martelaarskap was.

Daar word baie gesê oor die Christelike geloof wat uit skole gehaal word. Dit is nie noodwendig ‘n slegte ding nie. Die Christelike geloof het dit nie nodig om deur wetgewing beskerm te word nie. Die Christelike geloof word juis verdiep wanneer dit nie in watte toegedraai word nie. Voorspoed was nog nooit goed vir die kerk gewees nie. Voorspoed bring verwatering van geloof mee. Voorspoed kweek naam-Christene en nie ware dissipels nie.

Smirna was as gemeente vlekkeloos gewees voor God. Hulle geloof was veredel gewees deur hul lyding. Dit bring vir ons troos as ons ook soms moet ly vir Christus. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s