VOORWAARTS CHRISTENSTRYDERS
Dikwels kan ‘n mens in kunsgalerye, skilderye vind van ossewaens wat oor die kontinent van Amerika, die wilde Weste in getrek het. As hulle elke dag tyd afgestaan het om te bereken hoeveel hulle gereis het en hoeveel hulle nog moes reis, sou hulle nooit hulle bestemming bereik het nie.
Dag na dag het die osse geduldig aangestap en in die aand het die waens stilgehou, is die vee kos gegee en die vure aangesteek. So is vir weke en baie maande aangehou, oor vlaktes en bergpasse, tot hulle uiteindelik die weskus aan die Stille oseaan bereik het. Dit het eindelose deursettingsvermoë gevat. Neem die destyse lang seereise van Portugal na Indië of die ontdekking van Antartika. Die leraars van die ou dae het gepraat van “eerbaarheid deur volharding’. Alles wat die moeite werd is in die lewe kom met gewag, deursettingsvermoë en volharding mee.
Mat 25: 1 – 13 roep ons juis op om in die geestelike lewe te volhard en nie tou op te gooi langs die pad nie. So dikwels sien ‘n mens in gelowiges se lewe dat hulle die Here met groot ywer dien, om net later uit te sak en ophou om die Here te dien. Dit is soos ‘n alteet wat te vinnig wegspring en later in die wedloop heeltemal uitsak en die baan verlaat nog voordat hy of sy die wedloop voltooi het. Dikwels sien ‘n mens hoe iemand vir ‘n tyd lank gereeld kerk toe gaan. Dan minder en later kom die persoon glad nie meer kerk toe nie. Daarom praat ons in die geestelike lewe van volharding en dit is een van die elemente van die heilsorde. Dit beteken om aanhoudend en konstant die Here te dien tot die einde van jou lewe.
In Mat 25: 1 – 13 lees ons van 10 maagde, wat wag op die bruidegom. Die 10 maagde is simbool van die volmaakte en wagtende kerk van die Here Jesus Christus. Die bruidegom is natuurlik die Here Jesus Christus wat gaan kom om met Sy kerk verenig te wees. Van die 10 maagde lees ons dat 5 verstandig was en 5 was onverstandig.
The Message van Eugene Peterson vertaal dit met: Mat 25:2 “Five were silly and five were smart.” Die vyf verstandiges het ekstra olie saamgeneem, maar die onverstandiges het slegs die olie in hulle lampe gehad. Die vyf verstandiges was dus voorbereid om dalk lank te wag op die bruidegom. Die onverstandiges het nie met die lang wag tydperk rekening gehou nie.
Om te wag is moeite, maar dit is die moeite werd. Daarom sal Jesus se koms wees op die mees onvoorspelbare tyd, wanneer mense dit die minste verwag. Ons lees al tien maagde het al aan die slaap geval. Dan in die middel van die nag, kom die uitroep: ”Hier kom die bruidegom. Gaan hom tegemoet.” Die vyf onverstandige meisies se olie het opgebrand deur die nag. Hulle moes ‘n winkel gaan soek om te koop. Waar kry jy in die middel van die nag ‘n winkel oop. Die vyf verstandiges het net hulle lampe aangevul met die ekstra olie wat hulle saamgedra het.
Die olie is ‘n simbool van gereedheid. Dit beteken om Jesus se onderrig ernstig te neem. Dit beteken om te volhard in die doen van die goeie. Daarom kan die wyse meisies nie vir die onverstandiges van hulle olie gee nie. Jy kan nie besluit om vir iemand anders gehoorsaam te wees nie. Gehoorsaamheid is ‘n persoonlike keuse en is nie oordraagbaar nie.
Daarom beteken die ekstra olie, om vir “Jesus ernstig op te neem”. Wie Jesus nie ernstig opneem nie, sal uit olie loop.
Ekstra olie beteken om volhardend aan te hou om die goeie te doen. Dit beteken om volhardend vir Jesus ernstig op te neem en te leef volgens sy voorskrifte. Dit is mense wat ekstra energie met hulle saamneem, om te kan volhard tot die einde. Hulle hardloop nie uit energie vir Jesus nie. Hulle volhard tot die einde. Hulle bou vir hulself geestelike spaarenergie op, vir die dae wat hulle dit nodig kan hê. Juis daarom moet ons geestelike reserwe energie opbou om volhardend die Here te kan dien.
Somtyds raak ‘n mens ontmoedig, omdat jy nie die doel in jou roeping bereik nie. Dan moet jy gaan kyk na ‘n beeldhouer. ‘n Beeldhouer sal die blok graniet omtrent 100 keer met sy hamer en beitel bykom voordat die eerste krakie verskyn. Dan moet ek onthou dit was nie daardie een spesifieke hou wat die deurbraak gegee het nie, maar ook elke hou wat dit vooruit gegaan het.
Volharding en deursettingsvermoë is ‘n van die mooiste eienskappe wat ‘n mens in iemand se lewe kan teëkom. Dit geld nie net vir die geestelike en spirituele lewe nie. Dit is ook van toepassing op jou beroep, jou studies, jou sport, jou huwelik en verhoudings en om elke keer na ‘n teleurstelling weer op te staan en aan te gaan. Daarom moet ons, ons nie deur teenslae laat onderkry nie. Staan op en gaan volhardend aan met jou reis. Treë vir treë kom jy by jou bestemming uit.
Die teenpool is natuurlik om te volhard in die sonde. Dit is maklik, want dit vra nie inspanning nie. Om die duiwel te volg vra geen inspanning nie. Om Jesus Christus egter te volg vra die uiterste inspanning. Daarom is die pad van die kruis die moeisame pad. Dit is die smal kronkelende pad opdraend na die kruis. Volharding vra dapperheid.
Die VG Kerk het ‘n pragtige lied: “Voorwaarts Christenstryders” in hulle Sionsgesange boek. Op die maat van marsmusiek sing hulle die pragtige lied. Die lied roep jou op om te volhard in die Christelike lewe.
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)