Toe ek ‘n kind was, het ek altyd op my rug op die gras gelê en gekyk na die wolke. Dan het ek gekyk na watter figuur ek in die wolk kan raaksien.
Somtyds sien jy ‘n perd, ‘n hasie, ‘n besem, ‘n ou man of ‘n kabouter raak. Wolke het positiewe konnektasies by my. Wolke bring reën. Wolke bring altyd die hoop dat die droogte binnekort gebreek kan word. ‘n Bewolkte dag is gewoonlik koel. Wolkformasies is mooi en aanskoulik. Elke dag lyk die wolke anders. Wolke kan ook onheilspellend lyk. Somtyds maak wolke jou bang, veral as daar hael in die wolke is. Dan soek jy gou parkering om jou voertuig teen moontlike haelskade te beskerm. Die mooiste is as die sonstrale sulke strepe deur die wolke maak, dan lyk dit kompleet of God met ons praat.
In die Bybelse tyd was wolke ook simbole gewees van die vaartuie, waarop God se boodskappers vervoer is.
In Handelinge 1: 9 – 11 het wolke beide ‘n negatiewe en ‘n positiewe assosiasie. Die wolk neem Jesus van ons af weg, maar die belofte word ook gemaak dat Jesus weer op die wolke gaan kom. Daarom lewe ons as’t ware tussen die wolke. Ons lewe tussen Jesus se hemelvaartswolk en sy wederkomswolk.
Maar dit is verkeerd om die wolk met hemelvaat net as ‘n negatiewe assosiasie te sien. Jesus se hemelvaart het vir ons net voordeel, geen verlies gebring nie. Deur Jesus se hemelvaart het die Heilige Gees gekom om in persoon by ons almal tegelyk te wees. Daarom leef ons in die kragveld van die Heilige Gees. Jesus Christus is ook in ‘n regeringsposisie aan die regterhand van die Vader geplaas, waar Hy saam met die Vader oor Sy skepping en Sy kinders regeer. Christus het ook opgevaar om vir ons plek in die hemel voor te berei. Christus is ook ons Voorspraak (ons Advokaat) aan die regterhand van die Vader, waar Hy vir ons pleit en ons saak voor God stel. Christus leef ook IN ons, deur Sy Gees.
Daarom is ons nie as weeskinders alleen agter gelaat nie. Nee, God het vir ons Sy Gees gegee om by ons te wees. Ons leef tussen die hemelvaartswolk en die wederkomswolk. Hierdie tussen-tydperk is Gees -vervulde tyd. Daarom word die hemelvaart opgevolg met die Pinkstertyd en met Pinkster Sondag. Die dissipels was tydens die tien dae van Pinkster eendragtig bymekaar gewees in volhardende gebed. Daarom gaan Heilige Gees en gebed altyd saam.
Wie bid, ontvang die Heilige Gees. Wie die Heilige Gees ontvang het, bid volhardend. Die gebedslewe en die werking van die Heilige Gees gaan saam. Die Heilige Gees leer ons om te bid.
In hierdie tussen -tydperk tussen die twee ankers, die hemelvaart en die wederkoms, is die twee kenmerke van die kerk tussen die wolke:
-
Geesvervuld
-
Biddend
Daarom moet ons Geesvervuld en biddende die wederkomswolk afwag. Ons moet met reikhalsende verlange op die wederkoms van die Here wag.
Richard Bohren, vertel as teoloog hoe hy en sy vrou een middag gaan stap het in die woud. Terwyl hulle gestap het, was die lug oopgetrek sonder enige wolke. Hulle het ver gestap. Hulle het meer gedrentel as gestap, want niks het hulle aangejaag nie. By die omdraaipunt het die weer skielik verander. Die wolke is deur die wind aangedryf en was vol water. Hoe meer die wolke saamgepak het, hoe vinniger en haastiger het hulle gestap. Toe die eerste druppels dreigend neerplons, het hulle begin hardloop om betyds in die huis te kom. So sê hy is dit ook met die gelowige. Hoe groter jou bewustheid van die wederkomswolk wat kom, hoe haastiger lewe jy om die wil van God te doen.
Netso, moet ons wat die wederkomswolk verwag, ons haas om in God se teenwoordigheid te kom. Vir die gelowige is die wederkomswolk soos reënwolke, gevul met God se seëninge en uitkoms.
Maar vir die ongelowige is die wederkoms wolk egter soos haelwolke vol van Goddelike oordeel en bedreiging.
Wie op die wederkomswolk wag, is soos ‘n bruid wat haarself gereed maak en mooi maak om haar bruidegom by die bruilof te ontmoet. Sy klee haarself metskoonheid. Daarom is die kerk van die Here, die bruid van Christus. Op die wederkomswolk, kom haal Christus Sy kerk om vir altyd met hom verenig te wees.
Daarom leef ons in die tussen-tydperk tussen die wolke. Daarom moet ons Geesvervuld tussen die wolke leef. Biddend moet ons wag op die wederkomswolk wat ons meeneem op Christus se triomftog. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)