VYF TALE VAN DIE LIEFDE, WAT ‘N GEMEENTE LAAT GROEI.


VYF TALE VAN DIE LIEFDE, WAT ‘N GEMEENTE LAAT GROEI.

Dr. Gary Chapman se topverkoper “The Five Love Languages” is oorspronklik geskryf om getroude paartjies te help om mekaar se liefdestale te praat. In die Week van Gebed het ek probeer aantoon dat ons ook die vyf liefdestale kan toepas in ons gemeente en in ons christenwees elke dag. Wanneer die gemeente Adelaide onder mekaar die liefdestale sal praat, sal dit soos kunsmis wees wat die gemeente laat groei.

kleingroep
Gary Chapman onderskei die volgende 5 liefdestale:

  1. Opbouende woorde
  2. Geskenke
  3. Diensbaarheid
  4. Kwaliteit – tyd
  5. Fisieke aanraking
  1. Opbouende woorde as eerste taal van liefde vir gemeente groei.

Ons lewe in ‘n wêreld waar mense gebombardeer word met kritiek, afbrekende woorde, skinder en liefdelose taal. Tog blom elke mens as hy/sy van tyd tot tyd opbouende en waarderende woorde ontvang. Daarom moet ons probeer om ten minste een keer per dag vir ten minste een mens te bevestig met ‘n opbouende of ‘n waarderende woord. Mense voel ongeliefd en eensaam as hulle voel, hulle word nie waardeer nie.

Ons moet dit toepas in ons huwelike, teenoor ons kinders, ons ouers, ons mede gelowiges en selfs ook teenoor vreemdelinge. Die Here Jesus het sover Hy gegaan het, altyd mense opgebou en geliefd laat voel deur Sy woorde. Ons woorde kan soos genesende salf vir ander mense weer nuwe hoop en selfwaarde gee.

Natuurlik moet ons dit opreg bedoel, as ons ‘n waarderende woord uitspreek.

  1. Geskenke as tweede taal van liefde vir gemeente groei.

Almal van ons wil somtyds bederf word. Ek onthou toe ek in my vorige gemeente op Strydenburg was het ‘n bruinman een Sondagmiddag by die pastorie opgedaag met mooi klippe wat hy in die veld opgetel het. Toe hy dit opgetel het, het hy aan my gedink en wou hy graag sy waardering teenoor my uitspreek met die geskenk. Die klippe het geen geldelike waarde vir my nie, maar dit het sentimentele waarde. Vandag nog bêre ek die klippe in my kantoor by die Kerkkantoor.

So kan ons mekaar ook bederf in die gemeente met klein sigbare geskenke of ‘n SMS, ‘n kaartjie, ‘n blom of ‘n WhatsUpp – boodskap. Geskenke hoef nie duur te wees nie. Dit gaan eerder oor die gedagte agter die geskenk, as die geskenk self. Om jou mede gelowige te bederf met liefdesgeskenke, wys jy gee werklik om.

  1. Diensbaarheid as derde taal van liefde vir gemeente groei.

Wanneer mense mekaar help, onstaan daar ‘n wonderlike band van liefde. Dink aan die kere toe jy met ‘n stukkende voertuig of ‘n pap band langs die pad gestaan het. Dan kom iemand en help jou met die pap band of die stukkende voertuig. In ‘n huishouding waardeer jou lewensmaat dit wanneer jy hom of haar help met huishoudelike take. Diensbaarheid is die voorbeeld wat Jesus Christus vir ons kom stel het in Johannes 13, toe Hy die voete van sy dissipels gewas het.

Een van die unieke eienskappe van gemeentes wat groei, is dat die gelowiges diensbaar is in die gemeente, maar ook teenoor die gemeenskap waarbinne hulle bly. Daarom moet elkeen van ons ‘n skerp onderskeidingsvermoë hê om diensbaar te wees in ons gemeenskap.

Die lewe moet nie daaroor gaan, dat ek net eie voordeel soek nie. Ek moet myself kan offer vir die gemeenskap waarbinne ek leef. Die Here het mos gesê om te gee, maak jou baie meer gelukkig as om net te wil ontvang.

  1. Kwaliteit – tyd as vierde taal van liefde vir gemeente groei.

Mense wil deesdae God aanbid op die rusbank voor die TV – eredienste. Om fisies kerk toe te gaan, het te veel moeite geword. As ons vir die Here wil dien, moet ons ons beste tyd vir Hom gee, deur Hom in Sy woning te aanbid, saam met ander gelowigers. Wyksbyeenkomste is ook kwaliteit tyd, waar ek saam met my mede broers en susters in die geloof tyd saam deurbring in gemeenskap met God en mede gelowiges.

Ons kan nie maar tevrede wees om ons afskeeptyd vir God te gee nie. In die geloof moet ons moeite maak om God REG te aanbid, soos wat Hy wil hê Hy aanbid moet word. Daarom is godsdiens nooit ‘n privaat aangeleentheid nie. Nee, ek moet in die OPENBAAR God aanbid, sodat almal kan sien aan wie ek behoort.

Die duiwel se aanslag is altyd om die gelowige lui te maak om kerk toe te gaan. In God se Koninkryk is daar nie plek vir lui gelowiges wat God op hul eie voorwaardes en gerief wil dien nie. Aanbidding vra opoffering deur kwaliteit tyd deur te bring by God in Sy woning en saam met ander gelowiges.

  1. Fisieke aanraking as vyfde taal van liefde vir gemeente groei.

Wanneer mense saam bid aan tafel vir ‘n ete, hou hulle gewoonlik hande vas. Dit skep ‘n ervaring van samesyn en liefde. Om vir iemand in die gemeente wat swaarkry ‘n drukkie te gee, beteken meer as ‘n duisend woorde.

detail_of_je_millais_-_christ_in_the_house_of_his_parents_the_carpenters_shop_-_google_art_projectOns moet nie skaam wees om deur fisiese kontak mekaar in die gemeente te bemoedig nie. Dikwels is daar baie velhonger mense (soos bejaardes), wat dit so waardeer as jy vir hulle ‘n drukkie gee of hulle hande vashou as jy vir hulle bid.

Om iemand in ‘n hospitaalbed te bemoedig deur hul hand vas te hou, beteken dat jy empatie het met hulle swaarkry tyd van siekte. Wanner ‘n geliefde van iemand afsterf, kan ‘n drukkie, ‘n mooi manier wees om jou simpatie en deernis met die bedroefde mens te deel. Die Here Jesus het die kinders op sy skoot getel, om vir hulle te wys, dat Hy hulle aanvaar en vir hulle tyd maak.

Elkeen van bogenoemde vyf tale van die liefde kan ook in die gemeente ingeoefen word om die gemeente te laat groei. Kom ons beywer ons in 2017 om opnuut weer hierdie liefdestale te oefen op mekaar en in ons gemeenskap. Dan sal ons weer sout vir die aarde en lig vir die wêreld wees.Bogenoemde vyf tale is so eenvoudig, dat enigiemand dit kan beoefen. Die diepste behoefte van elke mens is om geliefd te voel. Kom ons laat mekaar geliefd voel, deur die vyf tale van die liefde te bemeester. AMEN

Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s