Jesus is emosioneel geknak, sodat ons nie apaties moet leef en mekaar boelie nie.
Om apaties te wees en om ander te boelie is deel van die skaduwee van die menslike ras. Dit kom voor in alle tye van die menslike geskiedenis en dit begin waar voorskoolse kleuters mekaar boelie tot bejaardes wat mekaar boelie. Dit kan growwe vorms van boelie insluit tot die mees verfynde vorms van boelie tussen welopgevoede dames. Dit vind plaas in oorlogsones en op speelgronde van kinders. Dit speel ook af in ons gelese gedeelte in die Tuin van Getsamené.
Apatie beteken om onbetrokke te wees in die lyding of swaarkry van ander. Dit is om weg te kyk of soos in ons gelese gedeelte waar die dissipels aan die slaap val as Jesus ly.
Wanneer Jesus in die nag voor sy kruisiging diepe aanvegtinge verduur en emosioneel ly, vind ons dat die dissipels drie keer uitgevang word dat hulle in droomland is, terwyl Jesus in ‘n lewende nagmerrie leef. Hulle is totaal onbewus van Jesus se intense lyding wat op Hom wag. Hulle sien niks, hoor niks en praat niks nie.
Hulle harte voel geen emosies nie. Dit is so goed as afgestomp. Hulle emosies is dood. Waar Jesus vir hulle geleer het van die gemeenskap van gelowiges is hulle heeltemal onbetrokke en apaties. Later die nag sou Petrus die Here verloën, die dissipels weghardloop, die vroue op ‘n afstand staan en Judas die Here verraai. Jesus staan emosioneel alleen. Hy is in ‘n emosionele woestyn sonder enigeen wat vir Hom omgee. Hy is as’t ware van mense verlaat. Later sou Hy ook voel dat God Hom verlaat het. Daarom het Hy aan die kruis uitgeroep: “My God, my God, waarom het u my verlaat? Sonder die hulp van God of mens was Hy sielsalleen en het Hy gehang aan ‘n kruis. Sy kop en voete was tussen die hemel en die aarde. Nie die hemel of die aarde wou Hom gehad het nie. Alle “koinonia” (gemeenskap van gelowiges en met God) het verdwyn. Jesus was ALLEEN.
Daarom is die Mattheus Evangelie meer ingestel op Jesus se emosionele lyding as Sy fisiese lyding. Ons almal weet dat emosionele lyding baie erger is as fisiese lyding. In fisiese lyding kan jy jou wonde wys, maar in emosionele lyding kan jy nie die tekens van jou lyding vir iemand fisies wys nie. (Daarom sny mense dikwels hulle liggame om uitdrukking te gee aan hulle emosionele pyn.)
Die verhaal van Jesus Christus, is ook ‘n verhaal van baie boelies. Reg aan Sy geboorte was dit Koning Herodus wat alle seuntjies van jonger as 3 jaar gebore is dood gemaak het. Die Farisieërs het gedurig vir Jesus geboelie met strikvrae. Sy eie geboortedorp het Hom verwerp en wou Hom by geleentheid van die afgrond afstoot. Met sy lydingstyd het die spotters en boelies net meer geword.
Spotters en boelies kom meestal in “mobs” voor. Daarom lees ons van die hele Joodse Raad en van ‘n garnisoen soldate en van massas wat skreeu: “Kruisig Hom, Kruisig Hom!”
Die emosionele lyding van Jesus word in ons gelese gedeelte en in die daarop volgende gedeeltes tot die uiterste toe beskryf. Jesus onderwerp Homself aan die spot, beledigings, onwaarhede, teenkanting, verraad en verloëning. Hy is bereid om ALLEEN te staan.
Jesus se unieke Koningskap het daaroor gegaan dat Hy nie toegegee het aan groepsdruk, openbare opinies of normale gangbare praktyke nie. Hy was altyd ANDERS en VREEMD en TEEN DIE STROOM OP. Daarom het die Farisieërs en die Joodse Raad teen Hom gewees. Hy was teen die “status quo”. Want sien Christus het sy Vader se wil geleef en het nêrens toegegee aan openbare aanvaarding nie.
Ons lewe vandag in ‘n wêreld waar dit mode is om “in te wees”. Jy moet slaafs die modegier volg en die openbare opinie respekteer om deel te wees van die groep.
Jesus was bereid gewees om ALLEEN te wees. As jy somtyds ALLEEN is, kry jy ander vriende. Nie Simon Petrus dra Jesus se kruis nie, maar Simon van Cirene dra Sy kruis. Die dissipels het baklei om aan die linkerkant en aan die regterkant van Jesus te sit. Uiteindelik is twee rowwe geweldsmisdadigers aan sy linkerkant en regterkant.
Om Jesus enduit te volg is dit nodig om somtyds alleen te staan en spot te verduur. Jesus se navolging impliseer dat jy altyd iets sal ervaar wat Jesus ook in die Tuin van Getsané en die daarop volgende ure ervaar het. Dit is moeilik om alleen te staan, teen die openbare opinie.
Om te alle tye die wil van die Vader te doen, gaan vir jou in die moeilikheid laat beland. Daarom het Dietrich Bonhoëffer die bekende boek geskryf: “The cost of discipleship”.
Daarom het Jesus vir ons geleer om eers die koste van navolging te bereken, soos wat ‘n mens die koste bereken om ‘n huis te bou.
Prof Benno Muller-Hill, aan die Universiteit van Köln se genetika departement vertel van ‘n insident toe hy aan die hoërskool was. Die fisika onderwyser het ‘n teleskoop opgestel, sodat die kinders wat in ‘n lang ry gestaan het deur die teleskoop kan kyk na ‘n planeet en sy mane. Die eerste kind sê vir die onderwyser maar hy sien niks nie. Die onderwyser wys hom hoe om die fokus van die lens te verstel, sodat hy kan sien. Hy verklaar dat hy kan sien. Een na die ander kom die kinders verby, kyk in die teleskoop en sê dat hulle die planeet gesien het. Toe is dit Benno se beurt. Hy kan niks sien nie. Alles is vir hom swart. Die onderwyser verskree vir hom en sê” Ek het julle mos gewys om die fokus te verstel” Benno verklaar plegtig maar hy sien nog steeds net swart. Baie ongeskik gryp die onderwyser na die teleskoop en kyk self daarin. Dit is pikswart. Hy kom toe eers agter die doppie aan die voorkant van die lens was nog op. So dikwels volg ons die openbare mening en modes, maar eintlik sien onsself glad nie.
Die dissipels, die vroue, die vroeë volgelinge van Jesus is so verblind deur die Joodse sentiment, die Joodse Raad en Sanhedrin dat hulle tevrede is om met blinde oë te sien. Die vrees vir vervolging of om teen die stroom te wees, maak hulle blind vir die waarheid en geregtigheid en om op te kom vir die saak van Jesus Christus. Hulle verloën almal die hemelse Koning vir die guns van die aardse regeerders.
Jesus het emosioneel ALLEEN gestaan, sodat ons nooit emosioneel alleen hoef te voel nie. Daarom is die opdrag van die kerk ook dat ons die gemeenskap van gelowiges moet beoefen. Toe Jesus Godsverlate en mensverlate aan die kruis gehang het, het Hy koinonia geskep. Hy sê vir Maria: “Daar is jou seun.” en vir Johannes sê Hy: “Daar is jou moeder.” Hy het hulle alleenheid weggeneem deur hulle vir mekaar te gee. Hy het ‘n dissipelkring agtergelaat sodat hulle vir mekaar kan omgee. ‘n Bekende teoloog het geskryf, dat hy dit aan die dissipels en apostels oorgelaat het om boeke te skryf. Hy het iets veel kosbaarder geskep. Hy het KOINONIA geskep, sodat mense nooit alleen hoef te voel nie. Daarom bely ons in die Credo: “Ek glo in die gemeenskap van gelowiges.”
Ons leef in ‘n wêreld waar baie mense eensaam voel in hulle omstandighede. Dit kan enkelma’s of enkel pa’s wees, geskeides, terminaal siek en verstote mense, Vigs – slagoffers wat verwerping ervaar, weeskinders, ‘n eensame sakeman alleen in sy kantoor en so kan die lysie aangaan. Emosionele lyding en eensaamheid gaan hand en hand met mekaar.
Daarom word ons juis opgeroep om opnuut erns te maak met KOINONIA, deur gemeenskap te skep met mense wat nie van nature ons vriende is nie. Eers dan sal die wêreld weet dat ons God se kinders is, as ons ons kan assosieer met ander sy lyding en emosionele verwondheid.
God se kinders leef nie in apatie nie. God se kinders boelie nie. Nee, God se kinders ontferm hulle oor dié wat seergekry het. Dit is die boodskap van Paasfees. God se kinders maak vriende met die wêreld. God se kinders omhels die gebroke wêreld en leef nie op ‘n beskutte eiland nie. God se kinders word vuil met die vuil en seer van dié wêreld.
In ons gelese gedeelte merk ons ook op dat Jesus intens gebid het tot Sy Vader. Daarteenoor het die dissipels drie keer aan die slaap geval.
Jesus se intense gebedslewe het Hom die krag gegee om die komende ure se aanslae te verduur. Die dissipels het die een na die ander geknak omdat hulle nie tyd gespandeer het in gebed nie. Weereens word die erns van gebed onderstreep in ‘n tyd van emosionele aanvegtinge. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)